
Voormalige SciMathUS-student droom groot ná sy graad vang
As 'n eerste generasie-universiteitstudent wat nooit as kind kon droom dat sy eendag haar studies aan 'n vooraanstaande hoëronderwysinrigting soos die Universiteit Stellenbosch (US) sou voltooi nie, het haar graaddrome haar aangemoedig om nog groot te droom as ooit te vore, sê die 25-jaar-oue Kuhle Ndyondya.
“Ek sou nooit in 'n miljoen jaar kon dink dat ek dit tot in 'n voorgraadse program sou maak nie, wat nog te sê van beplan of gemotiveerd te wees om met nagraadse studies voort te gaan. Die groei wat 'n mens op Stellenbosch beleef, is ongelooflik."
Ndyondya het Maandag, 29 Maart 201 die graad, BSc Landbou-ekonomie met Veekunde, gedurende 'n aanlyn gradeplegtigheid van die US se Fakulteit AgriWetenskappe ontvang. Sy is 'n voormalige student van die Universiteit Stellenbosch se Wetenskap en Wiskunde-program (beter bekend as SciMathUS) en sê hierdie US-program het haar gehelp om op dreef te kom met haar studies en het “haar interpersoonlike en kommunikasievaardighede geslyp" wat haar gehelp het om harder en saam met enigeen en almal, ongeag waar hulle vandaan kom, te werk.
“Toe ek op 17-jarige ouderdom vir toelating tot tersiêre inrigtings aansoek gedoen het, is daar vir my gesê ek is nie universiteitsmateriaal nie. Maar SciMathUS het my geleer om aan te hou probeer en om nooit my fokus te verloor nie. Ek het nooit beplan om 'n nagraadse kwalifikasie te doen nie. Ek wou net kortkursusse doen om my loopbaan op te poets en om werk te kry sodat ek verdere ondervinding kon opdoen om by die kort ondervinding wat ek reeds in die bedryf opgedoen het, te voeg.
“Daar is ook 'n paar keer aan my gesê dat daar geen manier is dat ek tot 'n meestersprogram toegelaat sou word nie nadat ek so baie modules oor die jare gedruip het; ek het dit geglo dat ek nooit vir 'n meestersgraad in AgriWetenskappe toegelaat sou word nie. Die oomblik toe ek egter gehoor het dat ek my voorgraadse studies geslaag het, het ek die Fakulteit AgriWetenskappe genader vir leiding oor wat ek volgende kon doen. Die feit dat ek my graad geslaag het, het vir my gewys dat ongeag wat die wêreld sê of hoeveel ek ook al in myself twyfel, geen oog nog gesien het, geen oor nog gehoor het en geen hart of verstand nog ooit dit kon voorstel wat God vir my beplan het nie."
Ndyondya werk tans aan haar MSc-graad in Landbou-ekonomie en hoop om navorsing oor plaasbestuur te doen of 'n navorsingsonderwerp oor landelike ontwikkeling te ondersoek.
“Hoewel ek 'n stadsmeisie van Durban is, het ek rondom kleinboere in Tsolo in die Oos-Kaap grootgeword en ek wou nog altyd hê daardie kleinboere moet tot op 'n kommersiële boerderyvlak vorder. Ek wou 'n skaars-vaardigheidsgraad doen en help om die kleinboere tot daardie kommersiële vlak van boerdery te verhef. Ek wil sien dat kleinboere die geleentheid kry om uit te voer en 'n aktiewe rol in die waardeketting te speel en ek wil ook sien dat minder boere misluik."
Ndyondya beplan om die toekoms die koöperatiewe leer in landbou te klim deur haar betrokkenheid by logistiek of internasionale hande en sy hoop om self ook te kan boer.
Meer oor SciMathUS
Die SciMathUS-program vorm deel van 'n verskeidenheid eenhede binne die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde, spesifiek die US Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP). Dié program bied jaarliks aan honderd leerders, wat reeds Graad 12 geslaag, maar nie vir hoër onderwys gekwalifiseer het nie, 'n tweede geleentheid om hulle NSS-uitslae in spesifieke vakke te verbeter wat hulle in staat sal stel om vir universiteitsprogramme heraansoek te doen, veral daardie programme wat op STEM-vakgebiede fokus.
Sedert die totstandkoming van die SciMathUS-program in 2001, het meer as 1 000 studente dit reeds suksesvol voltooi. Die program fokus hoofsaaklik daarop om matrieks te help om hul Nasionale Senior Sertifikaat-punte in Wiskunde en Natuurwetenskap te verbeter. Die program bied ook Rekeningkunde en Inleidende Ekonomie aan.
SciMathUS vier vanjaar ook 20 jaar van lewens wat verander is. Die 20-jaar vieringe sal onder meer die vorm aanneem van 'n aanlyn veldtog, genaamd #ChangingLives. Die doel van die veldtog is om te verseker dat die program oor die volgende 20 jaar, met die ondersteuning van alle belanghebbendes, steeds meer geleenthede skep vir studente om hulle volle akademiese potensiaal te bereik.
Volg gerus SciMathUS se sosialemedia-bladsye oor die volgende paar maande, waar die kollig sal val op die program asook alumni wat sedertdien gegradueer en wonderlike vordering in hul onderskeie velde gemaak het.
SciMathUS kan op die volgende platforms gevolg word:
- Facebook – Stellenbosch Alumni / SciMathUS
- Instagram – @MatiesAlumni / @scimathus
- Twitter – @SU_Alumni / @SUNCEP
- Sluit aan by Maties Connect https://matiesconnect.com/groups/53/feedMatrikulante wat belangstel in SciMathUS, kan Adele Poole by 021 808 3032 skakel, of stuur 'n e-pos aan [email protected] vir verdere inligting oor die program.