
Geen toegang vir gaste sonder kaartjies
Aangesien sitplek in die Coetzenburg Sentrum beperk is, en die Universiteit Stellenbosch aan nasionale wetgewing en munisipale ordonnansies moet voldoen, word slegs 'n spesifieke aantal sitplekkaartjies vir gaste per graduandus* toegeken.
Vir alle gradeplegtighede, buiten die oggendplegtigheid van 23 Maart 2018, word daar vier sitplekkaartjies vir alle graduandi buiten doktorandi toegeken. Doktorandi kry elkeen vyf sitplekkaartjies vir die eerste vyf plegtighede.
By die laaste plegtigheid (Vrydag, 23 Maart om 10:00) word om en by 900 graduandi verwag. Daarom kan net drie sitplekkaartjies vir gaste per graduandus voorsien word, en vier sitplekkaartjies per doktorandus.
Gaste wat sonder sitplekkaartjies by die Coetzenburg Sentrum arriveer, sal in die oorlooplokale in die Sportwetenskap-gebou, net agter die Sentrum, geakkommodeer word waar gaste die die gradeplegtighede via 'n aanlynuitsending kan volg.
*Terminologie: 'n graduandus (graduandi) is 'n persoon wat op die punt staan om 'n graad te ontvang; 'n graduatus (graduati) is 'n persoon wat pas 'n graad ontvang het.