
Dubbele PhD-viering vir sibbe
Dit was ʼn dubbele viering vir die sibbe Clarice en Manisha du Plessis, wat albei gedurende die Universiteit Stellenbosch se April-gradeplegtigheidsreeks met PhD-grade beloon is.
Clarice (27) het ʼn PhD in Meganiese Ingenieurswese verwerf en Manisha (25) ʼn PhD in Wetenskap, spesifiek Fisiologiese Wetenskappe. Die sibbes is die eerste lede van hul gesin wat ʼn PhD-kwalifikasie verwerf en het ʼn dag ná mekaar gegradueer.
Die susters, wat in Robertson in die Wes-Kaap grootgeword en gematrikuleer het, het menige studiesessie saam deurgebring omdat hulle gedurende hul universiteitsjare meestal ʼn woonstel gedeel het.
“Dis opwindend om graad te vang, veral in die lig van al die onsekerheid wat met die Covid-19-pandemie gepaard gegaan het. Ek is verheug dat ek betyds kon klaarmaak en bly ek en my suster kon saam gradueer. Dit is wonderlik dat dit so uitgedraai het," het Clarice gesê.
Volgens haar was hulle albei van jongs af baie akademies gedrewe. “Ons ouers het nooit enige druk op ons uitgeoefen nie. Hulle het ʼn omgewing geskep waarin hulle ons laat glo het ons sukses was nét ons s'n, nie hulle s'n nie. Hulle het ons regtig bemagtig om dit vir onsself te doen."
Manisha het bygevoeg: “Hulle het altyd baie belang gestel in wat ons doen, met ons werk bygebly en al die publikasies gelees."
Hul ouers is trots op die susters se prestasies, het sy gesê.
Kankernavorsing
Manisha se navorsingsfokus is borskanker en sy is tans ʼn na-doktorale genoot in die Departement Fisiologiese Wetenskappe, waar sy van plan is om vir die afsienbare toekoms te bly.
Die titel van haar PhD-tesis was “Molekulêre regulering van outofagie en metastase in borskanker: nuwe insigte in die rol van serum-amiloïed-A". Haar navorsing dui daarop dat die akute fase-proteïen serum-amiloïed-A (SAA), wat hoofsaaklik deur hepatosiete (die belangrikste funksionele selle van die lewer tydens ʼn inflammatoriese reaksie of infeksie) geproduseer word, ʼn belangrike rol in die progressie van borskanker speel.
“Ek is opgewonde oor ons nuwe projekte in die Departement, wat insluit om uitkomste vir kankerpasiënte te verbeter.
“Ons gaan na individuele pasiënte se kankerselle kyk om die beste behandelingsopsies vir hulle te bepaal en sal kyk of hulle tans weerstand teen eerstelinie-behandeling toon. Ons gaan met ʼn verpersoonlikte behandelingsbenadering vir kankerpasiënte werk.
“Ons werk ook tans saam met die US se Waterinstituut om die uitwerking van afvalwater op borskankerselle en nie-kwaadaardige borsweefsel te bepaal."
Oor haar langtermyn-doelwitte het Manisha gesê: “Ek wil graag vir die volgende paar jaar in kankernavorsing bly, want ek geniet die navorsing en die laboratoriumwerk regtig baie. Ons doelwit is om oor die volgende jaar of twee kankertoetsprotokolle te ontwikkel wat kankerbehandeling en pasiëntuitkomste sal verbeter. Daarna oorweeg ek dit om oorsee te gaan en my borskankernavorsing voort te sit."
Ingenieur in hart en siel
Clarice het die hoofmeganismes van aksiale waaiergeraas ondersoek in haar PhD-tesis met die titel “Gradering van Aksiale Waaiergeraas".
Die hoofdoel van haar navorsing was om die uitwerking te ondersoek van ʼn verandering in waaierdeursnee op die ver-veldgeraas wat gegenereer word. Dit is gedoen deur die hoofmeganismes van waaiergeruis (agterrand-, punt-vorteksvorming- en turbulensie-innamegeraas) te voorspel om die geraas te verteenwoordig wat in verskillende bedryfstoestande deur ʼn volle waaier gegenereer word.
Clarice wil graag in die buiteland gaan werk. “Ek stel baie belang in motors oor die algemeen. My doelwit was nog altyd om by ʼn maatskappy op te eindig wat met aërodinamika werk.
“Ek kyk veral na Nederland, waar daar ʼn hele paar innoverende maatskappye is wat my belangstelling prikkel. Ek wil my vaardighede in vloeidinamika en aëro-akoestiek toepas in ʼn veld wat motors en/of groen energie behels. Dis hoekom ek bitter graag aan die Lightyear One-sonkragvoertuig of iets soortgelyks sal wil werk. Ek hou my opsies oop totdat ek die perfekte werk gevind het."
Fotograaf: Stefan Els