
Wanneer Kupido in Matieland tref
Ons almal weet Matieland bied veel meer as 'n welverdiende graad of twee, of drie ... Vir Annica en Hannes Swart het Matieland hulle ook by hulle lewensmaat uitgebring. Vandag is hierdie twee alumni gelukkig getroud, verken hulle die wêreld, en is hulle dit eens dat hulle eendag hulle kinders sal aanmoedig om ook Maties te raak.
Vertel ons van julleself.
Hannes: Ek het meganiese ingenieurswese gestudeer en my baccalaureus-, meesters- en PhD-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Ek het vier jaar in Eendrag gebly, waar dit vir my heerlik was om aan Sêr, die US Koor en ander kultuurbedrywighede deel te neem. Ek het ook die geleentheid benut om die wynplase in en rondom Stellenbosch te verken. Nou werk ek as tegniese hoof vir die Afdeling Akoestiek en Vibrasie by Edag in Ingolstadt, Duitsland. Ek het tydens 'n uitruilsemester as meestersgraadstudent my hart op dié land verloor, en ek het in my nagraadse studiejare by Maties voortgegaan om my Duits op te knap.
Annica: Ek het bedryfsingenieurswese gestudeer en my baccalaureus- en meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Ek was vir drie jaar 'n inwoner van Nerina, en in my laaste jaar daar was ek Huiskomiteelid. Ek het soveel aangename herinneringe aan al ons avonture in die tyd toe ek daar gebly het. Terwyl ek aan my meestersgraad gewerk het, het ek 'n uitruilsemester aan die Universiteit van Amsterdam deurgebring. In Stellenbosch sou jy my in my vrye tyd kry waar ek besig is om tennis in Kayamandi af te rig of om die lieflike wynlande (en die wyn) ten volle te geniet. Ek werk deesdae as kosteoptimalisering-analis by Amazon Web Services in München.
Vertel ons hoe julle mekaar ontmoet en verlief geraak het.
Annica: Ons pad saam is nog relatief kort, maar dit was 'n heerlike begin. Wat alles aan die gang gesit het, was dat ek op die laaste nippertjie studentehuisvesting moes kry omdat die datums van my uitruilsemester verander het. 'n Vriend het 'n Facebook-plasing oor 'n beskikbare kamer aangestuur, en die beplande “vinnige groet-en-ontmoet" het 'n uur lange koffiesessie geraak. Ek het besluit om in die studentehuis in te trek maar Hannes, getrou aan sy avontuurlike geaardheid, het van die toneel gevlug Antarktika toe (as deel van sy PhD-projek). Maar nie eens die afstand kon verhoed dat ons gesels en mekaar leer ken nie. Hannes het mettertyd teruggekom Stellenbosch toe, en ons het meer tyd saam deurgebring – óf by die Fakulteit Ingenieurswese, óf in Welgevonden óf op 'n wynlandgoed. Ons albei is daaraan toegewy om God en ander mense te dien, en dít is die grondslag van ons verhouding. Só het ons warrelwindromanse begin. Ons was aanvanklik net huismaats, maar dit het gou ontwikkel in iets veel diepers as wat ons ooit sou kon raai.
Hannes het by die Kranse van Moher, in Ierland, die jawoord gevra net nadat my uitruilsemester in Amsterdam ten einde geloop het. Ons is een jaar later op die prentjiemooi Saronsberg Wynplaas in Tulbagh getroud. Blaai die kalender een jaar om, en ons het Duitsland toe getrek om te reis en die wêreld te verken.
Hoe lank is julle nou getroud?
Ons is net meer as twee jaar getroud – sedert 3 November 2018.
Wat bly julle die helderste by as julle aan die tyd op Stellenbosch terugdink?
Hannes: Ek het so baie goeie herinneringe aan Stellenbosch – Sêr, Koshuis-derby, stoepkuiers en wyntoere. Wat Stellenbosch uniek maak, is die voorreg wat 'n mens het om 'n groot verskeidenheid uiteenlopende avonture en ervarings in en rondom hierdie pragtige Bolandse dorpie te beleef. Wat my in die besonder bybly, is die vreedsaamheid en rustigheid wat ek in die berge, die strate en die gemeenskap daar kon aanvoel. Die geleentheid om alle fasette van die lewe te ervaar, te groei en te leer is daar; jy moet dit net aangryp.
Annica: Daar is iets so besonders aan Stellenbosch. Dalk is dit die mense se warmte, die pragtige omgewing en opwinding van 'n avontuur wat om die draai lê. Die drie hoogtepunte uit my Stellenbosch-dae is beslis my belewenisse saam met die Kuyasa-kinders in Kayamandi, die heerlike wynplaasbesoeke na afloop van Ingenieursweek en die kattekwaad in Nerina. Ek dink ek sal nooit vergeet hoe ons 'n hoender (Generaal Koos) by Helshoogte moes gaan steel nie. Vir 'n Durbanse stadsmeisie was dit 'n ervaring op sigself om vir Generaal Koos uit sy hok te kry.
Enige raad wat julle vir ander studente wil gee?
Gryp elke geleentheid aan en waardeer elke oomblik op Stellenbosch. Laat jou gemaksone agter en raak betrokke by soveel uiteenlopende mense as wat jy kan. Maties bied jou 'n geleentheid soos geen ander in jou lewe sal nie om jou horison te verbreed – terwyl jy elke oomblik daarvan geniet. Jy sal nooit weer soveel vrye tyd hê as in jou studentedae nie; raak betrokke by al die verstommende werk wat Maties in die gemeenskap verrig.
Hoe dikwels kom julle terug Matieland toe?
Stellenbosch en Matieland is boaan ons lysie wanneer ons weer Suid-Afrika toe gaan. Realisties gesproke beplan ons om elke jaar terug te keer en ou herinnerings te herleef maar ook nuwes op te bou.
As julle eendag kinders het, sal julle hulle aanmoedig om by Stellenbosch te kom studeer?
JA! Beslis. Ek en Hannes het ons tyd in Stellenbosch vreeslik geniet, en ons dink dit is een van die beste (indien nie dié beste nie) studente-ervarings wat daar is. Die Universiteit Stellenbosch het nie net 'n uitmuntende programaanbod nie; jy word boonop deur die mooiste omgewing omring, en wonderlike belewenisse wag net anderkant jou voordeur.