Skip to main content
Rekeningkundedosent ontvang US-onderriggenootskap

Rekeningkundedosent ontvang US-onderriggenootskap

Daniel Bugan
03 Februarie 2021

Dr Gretha Steenkamp, een van die topdosente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het onlangs 'n onderriggenootskap van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang.

Die onderriggenootskap sal haar in staat stel om die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se nuwe CA2025-bevoegdheidsraamwerk (competency framework) by die Skool vir Rekeningkunde se SAIGR-geakkrediteerde BAcc-, HonsBAcc- en nagraadse diplomaprogramme te implementeer.

Die nuwe bevoegdheidsraamwerk, kortliks die CA2025 CF genoem, plaas groter klem op die professionele waardes en ingesteldheid waaroor geoktrooieerde rekenmeesters moet beskik. Dit bevorder ook vaardighede en waardes, waaronder kritiese en geïntegreerde denke en digitale waardes.

Die CA2025 CF sal vanaf 2021 van toepassing wees op voorgraadse studente, en vanaf 2023/24 op nagraadse studente.

Volgens Steenkamp beskou die Skool vir Rekeningkunde die implementering van die CA2025 CF-wysigings as 'n strategiese prioriteit.

“Die nuwe CA2025 CF vereis grootskaalse onderrig- en leerveranderinge by die betrokke programme. Die onderriggenootskap sal my help om genoeg tyd aan die projek te bestee en om wetenskaplik te werk te gaan, in plaas daarvan om bloot prakties daaroor te wees," het sy gesê.

Tydens haar onderriggenootskap beoog sy om:

  • 'n plan vir die implementering van die CA2025 CF-wysigings vir die Skool op te stel. Die sperdatum is Oktober 2021. Die plan sal aan SAIGR voorgelê word en sluit die volgende in: innoverende herontwerp van onderrig- en leermateriaal sowel as assessering wat die gewenste 'graduandi-eienskappe' in die programme sal vaslê;
  • kollegas aan te moedig om in 2021 voorbereidende veranderinge aan onderrig- en leermateriaal en benaderings aan te bring en om die doeltreffendheid daarvan te dokumenteer. Sy beoog ook om geleenthede te reël waar kollegas hul innoverende idees en praktyke met mekaar kan deel, asook hoe hulle die CA2025 CF-vereistes daarby ingesluit het. Dit sal 'n van-onder-af-benadering tot innovasie aanmoedig en 'n veilige plek skep vir die deel van kennis;
  • dosente op te lei om die vereiste veranderinge te verstaan en hulle toe te rus sodat hulle innoverend daaromtrent kan wees;
  • kampvegters vir elk van die CA2025 CF-waardes en insigte in die Skool te identifiseer. Dié kampvegters moet 'n natuurlike belangstelling hê om toe te sien dat die spesifieke waarde of insig in die kurrikulum en die onderrigpraktyke vasgelê word;
  • 'n kontrolelys op te stel vir elkeen van die waardes en insigte sodat dosente wat dit by die onderrig van tegniese onderwerpe wil integreer, die lys kan gebruik; en
  • seker te maak dat die waardes en insigte bewaar word tot voordeel van al die studente van die Skool.

Steenkamp meen dat twee belangrike navorsingsbydraes uit die onderriggenootskap sal spruit.

"Die een sal op die proses fokus om die CA2025 CF in die kurrikulum en onderrigpraktyke van die Skool vas te lê en die ander op kritiese denkvaardighede, veral in Finansiële Rekeningkunde," het sy gesê.

Steenkamp, wat as een van die Fakulteit se top aanlyndosente van 2020 aangewys is, is deur prof Ronel du Preez, visedekaan (leer en onderrig), geloof. Du Preez het die menings van die Sentrum vir Onderrig en Leer aan US beaam.

“Die langtermynimpak van die projek op die Skool vir Rekeningkunde en die groter US-gemeenskap is duidelik. Dit sluit die volgende in: die totstandkoming van 'n nuwe kennisbasis oor finansiële rekeningkunde wat tot voordeel van alle rolspelers sal strek.

“In dr Steenkamp se voorstel het sy getoon hoe die leierskapposisies wat sy al in die Skool vir Rekeningkunde beklee het, tot die onderriggenootskapprojek sal bydra. Sy beskik ongetwyfeld oor die vereiste leierskapservaring met betrekking tot kurrikulumvernuwing, onderrig en hulpverlening aan kollegas om hierdie projek suksesvol te voltooi," het prof Du Preez gesê.