
Kraaifonteiner behaal sukses danksy gemeenskap se ondersteuning
Wanneer Stephen Smith vandeesweek sy honneursgraad by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtighede ontvang, is dit beslis nie die einde van sy akademiese loopbaan nie. Hy sê dit is eerder net die begin van sy reis.
Die borrelende Smith, wat sy BRek-honneursgraad in 2020 aan die US voltooi het, is tans besig met sy klerkskap by die professionele dienstemaatskappy, PwC. Hy sê die feit dat hy gradueer, beteken nie dis die “einde van boeke" vir hom nie.
“Ek beplan om 'n loopbaan in die akademie te volg nadat ek as 'n geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer het, want ek hou daarvan om navorsing te doen, data te ontleed en om klas te gee. So ja, dit is maar net die begin en in die toekoms sal ek graag die pad saam met ander studente wil stap."
Maar die boorling van Kraaifontein sê hoewel sy reis by die US, wat in 2016 begin het, 'n goeie een was, was daar ook uitdagings.
“Ek het my eerstejaar sonder enige finansiële steun aangepak. Dit was eers in Mei van daardie jaar – net toe ek reg was om tou op te gooi – dat ek uiteindelik 'n beurs kon kry. En toe het dinge begin reg loop vir my."
Hy sê hy het gedurende daardie moeilike eerste vyf maande en weens die finansiële druk wat hom vreesbevange gemaak het, dit oorweeg om moed op te gee.
“Terwyl ek deur daardie vreesaanjaende tyd gegaan het, het ek onthou dat ek die eerste een in my gesin was om aan 'n tersiêre inrigting te studeer en dat ek dit aan hulle verskuldig was om sukses te behaal. Ek het aan die mense in my gemeenskap gedink wat na my opgesien het en verwag het dat ek groot hoogtes sou bereik. Daardie gedagtes het my getroos en aangespoor om aan te hou en deur te druk en om aan hulle te bewys dat jy enigiets kan bereik indien jy jou daarop toelê."
Hy het ook gedurende daardie tyd die goedheid en deernis van mense in sy gemeenskap beleef – 'n gemeenskap waar bendegeweld en armoede hoogty vier.
“Ek onthou hoe ek gedurende my eerste vyf maande by die US gesukkel het om op die kampus te kom omdat ek nie die taxi-geld kon bekostig nie," sê hy. “Baie van my graad 12-onderwysers by my hoërskool, Bernadino Heights, het vir my geld gestuur sonder dat ek hulle daarvoor gevra het of sonder dat ek vir hulle vertel het van my beproewings. Ek weet nie hoe hulle geweet het waardeur ek gaan nie. Ek dink die feit dat ons almal arm is en dieselfde omstandighede ondervind, motiveer mense om tot jou sukses by te dra."
Hy sê dit is hierdie mense, saam met sy ma, susters en aangenome neef wat van hom die mens gemaak het wat hy vandag is.
“My ma het baie opgeoffer. My gesin het my altyd ondersteun. Wanneer ek soms nie die eindstreep kon sien nie en gefrustreerd geraak het, sou my familie my aanmoedig en motiveer. Ek is vasbeslote om sukses te behaal en om dan aan hulle en aan die gemeenskap terug te gee."
Maar Smith se reis by die US was darem nie net 'n opdraande stryd nie.
“Ek het baie vriende uit verskillende kulturele agtergronde gemaak. Dit was vir my lekker om nuwe dinge te leer en te ervaar en die US het my daaraan blootgestel. Ek was baie bevoorreg om aan 'n inrigting so divers soos Stellenbosch te kon studeer," sê hy.
Wanneer Smith nie werk of studeer nie, hou hy van dans, veral hip-hop, en om komiese parodieë op TikTok op te neem.