
Almal aan dek by 2de Sosiale Geregtigheidberaad
“Onder die huidige omstandighede is dit maklik om moedeloos te raak en hoop te verloor, maar ons is 'n baie veerkragtige volk. Indien jy 'n verskil vir sosiale geregtigheid wil maak, moet jy 'n rol in die beëindiging van armoede en ongelykheid deur alledaagse geregtigheid speel. Elke gewone mens kan 'n rol speel om hulpbronne te versamel wat sal verseker dat niemand agtergelaat word nie."
Dít was die boodskap van prof Thuli Madonsela, bekleër van die Regsleerstoel vir Sosiale Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), by die tweede jaarlikse Sosiale Geregtigheidberaad.
Weens die voortslepende pandemie moes die beraad vanjaar virtueel aangebied word, met verskeie hoë-vlak sprekers en lede uit die samelewing wat aanlyn saamgekom het om die konsep van sosiale geregtigheid in Suid-Afrika van nader te bekyk.
Die tema van vanjaar se beraad was All hands on deck to leave no one behind in the post-COVID-19 recovery agenda.
Volgens Madonsela kon die Sosiale Geregtigheidberaad nie op 'n meer gepaste tyd plaasgevind het nie, aangesien Suid-Afrika steeds onder die aanslag van die COVID-19-pandemie steier, en dit het weer eens getoon hoe ongelyk die land se samelewing is.
“Ek hoop ons kan hierdie beraad verlaat met 'n brandende optimisme en 'n sin dat ons glo sosiale geregtigheid moontlik is, dat ons ongelykheid en armoede kan beëindig en dat ons kan saamwerk. Die beraad gee ons 'n geleentheid om saam na te dink en saam iets beter te bou," het Madonsela gesê.
Madonsela het ook die Sosiale Geregtigheid M-Plan (Mosa-Plan vir Sosiale Geregtigheid) gedeel en die M-Fonds bekendgestel. Die fonds in 'n massafinansieringsinisiatief om die bevordering van gelykheid en die uitroeiing van armoede te versnel ter bereiking van die Verenigde Nasies (VN) se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e).
Die Sosiale Geregtigheid M-Plan is 'n versnellingsprogram vir sosiale geregtigheid wat daarna strewe om die proses om armoede uit te wis en teen 2030 gelyke geleenthede vir almal te bewerkstellig, te kataliseer, soos uiteengesit in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), saamgelees met die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte.
Die projek het onder meer ten doel om 'n sosiale geregtigheid-dinksentrum te vestig om die regering te help om vordering ten opsigte van sosio-ekonomiese insluiting en verwante gedeelde vooruitgang te bespoedig as deel van die proses om demokrasie en regsoewereiniteit te vestig.
Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het die by die geleentheid die Universiteit se verbintenis tot die Sosiale Geregtigheid M-Plan en die M-Fonds beklemtoon. Hy het gesê die US wil help “om 'n beter toekoms vir ons almal te skep" deur die groot uitdagings van die samelewing aan te pak.
“Ten einde niemand agter te laat in die herstelagenda ná COVID-19 nie, het die M-Plan vir Sosiale Geregtigheid 'n sterk koalisie nodig wat armoede wil beëindig en strukturele ongelykheid te verminder. By die Universiteit Stellenbosch het ons onsself daartoe verbind om kragdadig op te tree in Suid-Afrika se transformasie na 'n plek vol geleenthede vir almal, 'n plek van gedeelde voorspoed vir almal en 'n plek waar daar volhoubare, vreedsame medebestaan is," het De Villiers gesê.
Suid-Afrika se minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, was die geleentheidspreker by die beraad. Hy het gesê die regering is daartoe verbind om die korrupsie roei wat die regering se stryd om armoede en ongelykheid in Suid-Afrika uit te wis, teister, met wortel en tak uit te.
“Ons Suid-Afrikaners het sover daarin geslaag om beleidstrukture, prosesse en implementeringsprosedures vir die transformasie en ontwikkeling van ons land in plek te plaas. Ons kan nie die toekoms van hierdie wonderlike land laat wankel nie; dit is in ons hande. Ons moet verseker dat elke rand en sent saak maak en die begunstigdes waarvoor dit bedoel was, bereik, maar ons het elke landsburger se hulp nodig," het Lamola gesê.
Vir meer inligting oor die 2020 Sosiale Geregtigheidberaad, klik hier.