
US vereer globale gestremdheidsadviseur
Die Universiteit Stellenbosch (US) het die globale gestremdheidsadviseur van die Wêreldbank-groep, Charlotte Vuyiswa McClain-Nhlapo, met ʼn eredoktorsgraad by sy Desember-gradeplegtigheid vereer. Sy het Maandag (11 Desember 2023) die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, by die gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang.
Die eregraad is aan McClain-Nhlapo toegeken vir haar lewenslange werk op die gebied van maatskaplike geregtigheid en gelykheid.
Sy het in haar aanvaardingstoespraak die US bedank vir die eregraad.
“Dit is werklik 'n besondere voorreg om erken te word deur 'n instelling wat aan die voorpunt van akademiese uitnemendheid is en ʼn aansienlik bydra lewer tot die bevordering van kennis en die samelewing. Om hierdie eredoktorsgraad te ontvang is 'n baie nederige ervaring, want dit dien as 'n herinnering aan die verantwoordelikheid wat met so 'n eer gepaard gaan.
“Soos ek dit in ontvangs neem, word ek herinner aan my verantwoordelikheid om voortdurend uitnemendheid na te streef, om my werk te laat groei, by te dra tot die verbetering van die samelewing, en ander te inspireer om onverpoosd hul drome na te jaag. My teenwoordigheid hier vandag is 'n bewys van die krag van onderwys om hindernisse af te breek en meer regverdige, inklusiewe, billike omgewings te skep."
“Die eredoktorsgraad dien ook as 'n herinnering aan die transformerende impak van onderwys op 'n individu se lewe en gemeenskap in die breë en die verantwoordelikheid om kennis en vaardighede te gebruik vir die verbetering van die samelewing," het McClain-Nhlapo bygevoeg.
Sy het navorsers, geleerdes, beleidmakers en denkleiers aangemoedig om te verseker dat onderwys toeganklik is vir almal, ongeag hul ras, geslag, seksuele oriëntasie of gestremdheid.
“Laat ons voortgaan om uitnemendheid na te streef, ander te inspireer en positiewe impak in die wêreld te soek."
Meer oor McClain-Nhlapo
McClain-Nhlapo se vroeë loopbaan het op kinderregte gefokus en sy het saam met vooraanstaande regskundiges soos Dullah Omar en Bridgette Mabandla gewerk. Nadat sy in 1994 haar rugmurg in 'n motorongeluk beseer het, het McClain-Nhlapo haar fokus verbreed om gestremdheidsregte in te sluit en het sy die eerste konferensie oor kinders met gestremdhede in die parlement gereël. Sy was een van die hoofskrywers van die Suid-Afrikaanse Gestremdheidstrategie.
Sy was ook by UNICEF as die Kinderbeskermingsbeampte vir kinders in uiters moeilike omstandighede verantwoordelik en word daarna die Kommissaris vir Maatskaplike en Ekonomiese Regte by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Sy poog altyd om gestremdheidsregte sentraal in al haar werk te plaas. McClain-Nhlapo is tans die globale gestremdheidsadviseur van die Wêreldbank-groep. Die eredoktorsgraad vereer haar toewyding daaraan om op plaaslike, streeks- en internasionale vlak bewustheid te skep oor die uitdagings wat mense met gestremdhede beleef.
Foto: McClain-Nhlapo by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els