Skip to main content
US se INU-lidmaatskap sal studente én personeel baat

US se INU-lidmaatskap sal studente én personeel baat

Kirwan Adams; Coordinator: Multilateral collaboration and information management support
28 April 2021

Die Universiteit Stellenbosch se lidmaatskap van die Internasionale Netwerk van Universiteite (INU) sal selfs méér geleenthede vir studente en personeel ontsluit, en bestaande vennootskappe versterk en nuwes skep. Die Universiteit het in November 2020 by die netwerk aangesluit.

INU is 'n internasionale konsortium van universiteite wat daadwerklik na internasionale vennootskappe en ervarings op soek is om innoverende programme en aanbiedingsmetodes ter ondersteuning van internasionalisering te skep. Die US se medelede is die Europese Universiteit Viadrina (Duitsland), die universiteite De Montfort en Kingston (Verenigde Koninkryk), die Universiteit van Hirosjima (Japan), James Madison-universiteit (Verenigde State), Malmo-universiteit (Swede), Universitat Rovira i Virgili (Italië), Universidad Nacional del Litoral (Argentinië) en die Katolieke Universiteit Parahyangan (Indonesië).

Die aktiwiteite van die netwerk is daarop toegespits om internasionalisering van liduniversiteite te bevorder, en studente vir 'n lewe en loopbaan as wêreldburgers voor te berei deur sowel studente as personeel by internasionale mobiliteitsprogramme te betrek. Jaarlikse geleenthede vir studente sluit in 'n internskapprogram, seminare en konferensies oor wêreldburgerskap, sowel as die Henry Fong-toekenning. Personeel het op hulle beurt toegang tot werkplekwaarnemingsgeleenthede (waar administratiewe personeel vennootinstellings besoek om beste praktyk uit te ruil en van mekaar te leer), aanvangsfinansiering ('n oop versoek vir personeellede met kreatiewe idees wat internasionalisering en internasionale skakeling ondersteun), 'n mobiliteitsprogram vir navorsers, die program vir tussenkulturele leer en internasionale skakeling (ILGE), sowel as 'n spantoekenning vir innovasie in internasionale skakeling.

Sedert die US by INU aangesluit het, het twee personeellede al opleiding deur die samewerkende aanlyn internasionale leer- (COIL-)kursus genaamd “Virtual exchange capacity-building" ontvang. Lidinstellings gebruik ook die netwerk as 'n reklameplatform vir konferensies, navorsing en ander leer- en samewerkingsgeleenthede. Daarbenewens kan studente uitsien na die 9de Internasionale Studentekonferensie oor Wêreldburgerskap met die tema “Voedselverlies en -vermorsing", wat die Katolieke Universiteit Parahyangan in Bandung, Indonesië, van 22 Julie tot 12 Augustus 2021 sal aanbied. Nóg 'n INU-projek is die Hirosjima-studenteseminaar, waarvoor die Universiteit van Hirosjima, Japan, in Augustus as gasheer sal optree. Hierdie geleenthede sal vanjaar aanlyn geskied.