Skip to main content
Hierdie artikel is vanaf ons ou webwerf gemigreer en mag dus moontlik nie korrek vertoon nie.
US se grootste fakulteit skop 2018 gradeplegtigheids-week af

US se grootste fakulteit skop 2018 gradeplegtigheids-week af

Corporate Communications Division
19 Maart 2018

Die eerste gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) se eeufeesjaar het vanaand in op luisterryke wyse afgeskop met meer as 1500 grade en diplomas wat aan studente in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die grootste fakulteit aan die US, toegeken is.

As deel van sy eeufeesherdenking het die US ook tydens die seremonie eredoktorsgrade aan mnre Patrice Motsepe en Jannie Mouton toegeken. Hulle was deel van 13 prominente denkleiers wat hierdie week met eregrade vereer word.

Die Viserektor: Leer en Onderrig aan die US, prof Arnold Schoonwinkel, het die gegradueerdes en gaste by die seremonie toegespreek en gesê die US het oor die afgelope honderd jaar tot een van Afrika se voorste hoër onderwysinstellings gegroei.

 

Selfoongebruikers klik hier vir die video.

“Teen die agtergrond van waardevolle lesse uit ons komplekse geskiedenis, beteken ons Eeufees 'n nuwe begin vir die Universiteit Stellenbosch. Ons streef daarna om 'n relevante instelling te wees wat 'n sleutelrol speel in die ontwikkeling van ons nasie en ons vasteland. En ons is daartoe verbind om by te dra tot 'n samelewing van waardigheid, genesing, geregtigheid, vryheid en gelykheid vir almal," het Schoonwinkel gesê.

Volgens Schoonwinkel verteenwoordig die groep graduandi aan die US die prioriteite wat die Universiteit hoog op prys stel, naamlik inklusiwiteit, uitnemendheid en sosiale impak.

“Teen die einde van hierdie week se gradeplegtighede en ná die van Desember 2017 sal ons weer 'n rekordgetal kwalifikasies vir een akademiese jaar verleen  - 9 032 kwalifikasies in totaal, insluitende 1 620 meestersgrade en 305 PhD's. Dit is fenomenale getalle! Dit is duidelik dat die Universiteit Stellenbosch as 'n nasionale bate 'n waardevolle bydrae lewer," het hy gesê.

“Ons Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe is sewe jaar nadat die Universiteit in 1918 gestig is, op die been gebring. Toe was dit 'n dapper stap, want die studieveld van handel was 'n nuwigheid wat toe net op die akademiese landskap verskyn het. Die sukses van hierdie eksperiment het egter gou duidelik geword, met inagneming van die fakulteit se volgehoue groei, die invloed van sy akademici en die uitstaande loopbane van sy talle alumni deur die jare."​

 

Selfoongebruikers klik hier vir die video. 

Die Fakulteit se huidige studentegetalle - sowat 5 200 voorgraadse en 3 500 nagraadse studente, met byna soveel vroue as mans - is ver verwyder van die eerste inname van slegs 15 mans in 1925.

Schoonwinkel het die onlangse aankondiging deur die staat dat “ten volle gesubsidieerde, gratis hoër onderwys en opleiding vir arm en werkersklas-Suid-Afrikaners" ingefaseer sal word, verwelkom. Hy het gesê bykomende ondersteunding deur middel van beurse sal nog steeds benodig word. Hy het alle donateurs bedank wat die US help om geleenthede te bied vir die volgende generasie talentvolle studente wat wêreldwyd 'n impak maak.

By die geleentheid het mnre Motsepe en Mouton die gehoor toegespreek.

“Ons gedenk die Universiteit Stellenbosch en Madiba se 100 jaar. Die land moet die beginsels van Nelson Mandela handhaaf," het Motsepe tydens die seremonie gesê. 

Mouton het aan die gaste gesê: "Neem jou tyd, fokus op geleenthede en moenie op die slegte fokus nie. Begin 'n goeie  maatskappy en stel mense aan."​

​Om meer van die ontvangers van die eregrade te wete te kom, klik hier​.