
US help herbou vergete Faure
Die Universiteit Stellenbosch (US) hoop om binnekort 'n sosiale-impak-inisiatief van stapel te stuur om die klein gemeenskap van Faure hulle vergete dorp te help herbou en die natuurlike omgewing daar te herstel.
Dr Willem de Clercq en me Marlene de Witt van die US se Waterinstituut sal aan die stuur staan van die projek, wat 'n geskatte R1,5 miljoen sal kos. “Ons doel is om hierdie verlore dorp langs die R102-hoofweg tussen Somerset-Wes en Kuilsrivier te herontdek," verduidelik De Clercq. “Ons wil graag die personeel en studente van verskillende US-departemente sowel as die regering, die privaat sektor en ander gemeenskappe betrek om Faure ekonomies, maatskaplik en ekologies op te hef. Die projek sal na verwagting sowat vyf jaar duur."
Die geskiedkundige juweel Faure het onder die US se aandag gekom toe lede van die Kaapse Korps Militêre Veteranevereniging se Burgerlike Direktoraat (CCMVCD) die Waterinstituut namens gemeenskapslede genader het. Hulle het bystand versoek om indringerplante en -vis uit die Eersterivier te verwyder en watergehalte in die gebied te herstel, wat ernstige gesondheidsrisiko's inhou.
Toe personeel van die Waterinstituut die terrein kort daarna besoek om die rivierbiodiversiteit en watergehalte te evalueer, het hulle dadelik besef watter ryke historiese erfenis in die dorp opgesluit lê, en geweet dat die intervensie die moeite werd sou wees.
Die beoogde projek sal nuwe hoop skep vir die CCMVCD en vele inwoners van Faure, wat bekommerd is oor die omgewingsaftakeling, en die moontlike verlies van onopgetekende erfenis. Mnr Nazeem Arnold se voorgeslagte was onder die eerste inwoners van Faure. Hy is dankbaar dat die Universiteit die projek oorweeg. “Ek onthou nog so goed die Eersterivier van my kinderdae, en hoe belangrik dit vir ons dorp was," sê Arnold. “Baie plante, diere en landerye bestaan nie meer nie."
Arnold onthou trots die geskiedenis van elke gebou op die dorp, hoe hy na dieselfde laerskool as sy grootjies dekades voor hom gegaan het, troues in die ou teetuin bygewoon en die Khoi-vergaderplek langs die vleiland besoek het. Volgens de Witt het geskiedskrywers baie van hierdie verhale en die geskiedenis van die geboue en die gemeenskap misgekyk, te oordeel na die min inligting wat oor die gebied beskikbaar is.
Al wat bekend is, is dat die dorp na twee broers heet wat in die distrik geboer het, maar niemand weet waarom dit na hulle genoem is nie. Die rivier was 'n belangrike deel van dorpenaars se ontspanningsaktiwiteite, en destydse inwoners het ook op die rivierwalle geboer. Daar was blykbaar 'n houtbrug oor die rivier, waarvan slegs die klip wat gebruik is om dit te bou vandag nog op die rivierwal te sien is. “Ons glo goewerneur Simon van der Stel het die brug gebou, en dat die Kaaps-Hollandse geboue in die mid-1700's opgerig is," sê De Clercq. “Om die brug te herbou is een van ons doelwitte."
Die brug was glo 'n gewilde bymekaarkomplek vir reisigers tussen Kaapstad en Caledon, en destyds ook die enigste bruikbare verbinding tussen die twee bestemmings. Dít is deur 'n onlangse erfenisimpakstudie bevestig, voeg De Witt by. Die studie het bevind dat die grond waarop Faure geleë is in 1699 aan ene Ferdinand Appel behoort het, wat dit as 'n rusplek beskikbaar gestel het aan diegene wat op pad was na die Caledon-warmbron.
Die eerste projekfase sal op die korttermyndoel konsentreer om die gemeenskap te bemagtig deur die rivier en die omgewing op te ruim. Hoewel die Universiteit die rivieropruiming sal finansier, sal bykomende geld vir die res van die projek ingesamel moet word. Daarom sal belanghebbendes in die regering en die privaat sektor om bystand genader word, sê De Clercq.
Die hoop is dat die projek nie net die natuurlike omgewing sal herstel en beskerm nie, maar ook ekonomiese geleenthede sal skep deur besoekers te lok sodra die dorp weer soos die Faure van ouds lyk. “Ons glo Faure kan nog 'n gewilde toeriste-aantreklikheid word as die projek eers klaar is," sê Arnold. “Boerderyaktiwiteite sal dan weer kan begin. En as die mark en voedselproduksie eers weer aan die gang is, sal daar hopelik ekonomiese geleenthede wees vir die inwoners om 'n bestaan te maak."
Terselfdertyd sal die inisiatief ook die US baat. Sodra die rivier herstel is, sal die Waterinstituut sy besoedelingsvoorkomingsmaatreëls sowel as biodiversiteits- en watergehaltemonitors na die Faure-gedeelte van die Eersterivier kan uitbrei. Studente in Plant- en Dierkunde sal boonop die geleentheid hê om 'n sensus oor die spesies in die rivier, op die rivierwalle en in die vleiland te onderneem.
* Klik hier om na 'n potgooi oor die projek te luister.