
US eredoktorsgrade aan uitstaande individue
Die Universiteit Stellenbosch (US) verleen elke jaar eredoktorsgrade aan uitstaande individue van Suid-Afrika en internasionaal. Die eregrade erken en beloon uitnemendheid in 'n verskeidenheid terreine en identifiseer dié individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap.
Onder die bekendste ontvangers van eregrade in die geskiedenis van die US is Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Bill Gates, Antjie Krog, Helen Suzman, Athol Fugard, Tito Mboweni, Naledi Pandor, David Kramer, Thuli Madonsela, Edwin Cameron en Mervyn King.
Vier eredoktorsgrade sal tydens die Desember-gradeplegtighede van 2018 verleen word. Die ontvangers is prof Homi K Bhabha, prof dame Glynis Breakwell, dr Lesetja Kganyago en regter Zak Yacoob.
Dr Lesetja Kganyago
Kganyago ontvang die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, tydens die gradeplegtigheid van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe op Maandag, 10 Desember om 17:30.
Mense met selfone kan hier klik om video te sien.
Kganyago is die tiende goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) en is in Januarie vanjaar as voorsitter van die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee aangewys. Hy is die eerste sentrale bank president uit Afrika suid van die Sahara om hierdie amp te beklee.

In sy voorstelling het prof Stan du Plessis, die US se Uitvoerende Bedryfshoof, Kganyago aangeprys vir sy formidabele intellektuele leierskap op beleidsterreine soos prys en finansiële stabiliteit, en vir sy rol as een van die begaafste ekonomiese beleidspraktisyns in die land.
In sy aanvaardingstoespraak het Kganyago sy vrou en kinders bedank vir hulle voortgesette ondersteuning en dat hulle as morele kompas hom gehelp het om koers te hou in soms moeilike tye as Goewerneur van die SARB. Hy het ook die uitdaging aan die US gestel om sy taak voort te sit wat betref transformasie in sy geledere.
“Gegewe die geskiedenis van hierdie land, is dit belangrik dat dié instelling sy strewe na transformasie, waarmee hy enkele jare begin het, op lewenskragtige wyse deurvoer, bou op die suksesse daarvan en leer uit die tekortkominge. Ons kan nie hierdie transformasie-reis bloot meemaak deur metafories in ons truspieël te kyk nie. Dit is nodig dat ons uitspel hoe die instelling wat ons in gedagte het in die toekoms daar moet uitsien. 'n Instelling wat diversiteit ken, nie net bloot in terme van die demografie nie, maar as een wat diversiteit van denke bevorder," het Kganyago gesê.
Kganyago het die gegradueerders ook aan die belangrikheid herinner om akademiese vryheid nie sommer as vanselfsprekend te aanvaar nie.
“Vandag mag ons akademiese vryheid moontlik as vanselfsprekend aanvaar omdat die grondwet dit waarborg, maar akademiese vryheid is die gevolg van 'n dapper stryd deur manne en vroue wat bereid was om hulle lewens neer te lê om transformasie in ons land te sien. Ons moet nie akademiese vryheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons moet dit nie net aangryp nie, maar ook verdedig, indien dit ooit weer bedreig word. Dié eer gaan nie vandag net oor my nie, maar oor die goeie manne en vroue van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, en dat u die puik werk wat ons vir ons land verrig die nodige erkenning gee."
Regter Zakeria (“Zak") Yacoob
Die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) honoris causa, is op 13 Desember aan Zakeria (Zak) Yacoob tydens die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se gradeplegtigheidseremonie oorhandig vir sy uitnemende bydrae as regsgeleerde op die gebied van menseregte en staatsreg, vir sy unieke, genuanseerde en internasionaal inspirerende benadering tot die beregting van sosio-ekonomiese regte, en vir sy rol as gerekende kampvegter vir sosiale geregtigheid en die welsyn en regte van persone met gestremdhede.
Mense met selfone kan hier klik om video te sien.
Yacoob het as uitsonderlike regsgeleerde Suid-Afrika na demokrasie help lei, en deur mylpaaluitsprake tot 'n regsraamwerk bygedra wat Suid-Afrika se diepgewortelde sosio-ekonomiese nalatenskap van apartheid help hanteer het.

Yacoob het in sy aanvaardingstoespraak gesê dat hy dankbaar is teenoor die hele Suid-Afrika, veral sy familie, studente, aktiviste en kollegas in die Konstitusionele Hof wat hom deur sy lewe ondersteun het. “Sonder hulle sou ek nie hier gewees het nie. Ek is baie dankbaar, want ek is geleenthede gegee wat ek kon aangryp."
Hy het dit ook beklemtoon dat duisende mense deel was van die vryheidstryd, maar nooit erkenning gekry het vir die rol wat hulle gespeel het nie. Yacoob het afgesluit deur 'n beroep op mense te doen om in hulself 'n sosiale rewolusie te begin en hulself te vra of hulle werklik nie rassiste of seksiste is nie. "Ons het die visie om 'n nie-rassistiese en nie-seksistiese land te wees, maar ons kan dit net bereik, indien ons die verandering in ons eie harte het."
Prof Homi K. BhabhaDie graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil), honoris causa, is Donderdagaand, 13 Desember aan Homi K. Bhabha by die gradeplegtigheidseremonie van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe toegeken vir sy uitsonderlike vermoë as die wêreld se voorste postkoloniale literêre teoretikus wat die geesteswetenskappe in nuwe rigtings stuur. Prof Bhabha word ook vereer vir sy invloed op internasionale organisasies om die rol van die geesteswetenskappe in vrede, ekonomiese aktiwiteit en kultuur en om die studie van die geesteswetenskappe te bevorder.Prof Arnold Schoonwinkel (Viserektor: Leer en Onderrig) het tydens die inleiding gesê: "Vir sy pionierswerk om 'n nuwe manier van interdissiplinêre betrokkenheid te vestig, wil die Universiteit Stellenbosch prof Homi Bhabha eer. As 'n geleerde het hy die studie van die geesteswetenskappe in die huidige tyd toepaslik gemaak en het hy voortgegaan om globale praktyke te verskuif."

Vir meer besonderhede oor al die ontvangers van eregrade klik hier.
__________________________________________________________________________________
- Lees die oorspronklike artikel oor die Desember 2018 gradeplegtighede hier: http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=6142
- Foto's en videos: Stefan Els