
Uitblinker dokter ontvang US se Kanseliersmedalje
Dr Jacobus Charles Bender (Koot) Kotze is die ontvanger van die Universiteit Stellenbosch se Kanseliersmedalje vir 2015, die hoogste lof wat die US aan 'n student betoon. Die toekenning is in absentia aan Kotze toegeken op Dinsdag 15 Maart by die Coetzenburg-sentrum.
Die Kanseliersmedalje word jaarliks toegeken aan 'n finalejaarstudent of 'n nagraadse student wat uitnemend presteer het.
Dr Kotze het op 8 Desember 2015 die graad MB,ChB cum laude verwerf met 'n gemiddelde prestasie van 81,42% oor sy ses studiejare. Hy het 29 van sy 31 modules oor dié tydperk met onderskeiding geslaag. In die proses het hy reeds verskeie akademiese en merietetoekennings ontvang: Akademiese erekleure van die Tygerberg Studenteraad (TSR); die Rektorstoekenning vir voortreflike akademiese prestasie en 'n US-merietebeurs elke jaar sedert 2010.
In 2015 is dr Kotze as die beste student aangewys in Huisartskunde; Primêre Sorg, Gemeenskapsgesondheid en Gestremde Sorg; Geregtelike Geneeskunde, Pediatrie en Kindergesondheid, die Kliniese Vaardigheidsdomein en Urologie. Hy ontvang ook die prys vir die beste MB,ChB-skripsie en is as die beste sesdejaarstudent aangewys.
Dr Kotze het ook buite die klaskamer presteer. Hy het navorsingsprojekte as mede outeur onderneem wat nie vir sy akademiese program vereis was nie. Sy werk is in internasionale vaktydskrifte gepubliseer en hy het ook aanbiedings by internasionale konferensies gedoen. 'n Aantal van sy artikels is ook in die Mail & Guardian gepubliseer, en op hierdie manier maak hy die mediese wetenskap toeganklik vir die algemene publiek. Hy was stigterslid van die TB-bewusmakingsorganisasie, TB Proof, wat in 2013 'n internasionale toekenning ontvang het. Verder is hy ook 'n aktiewe lid van die Veilige Werksure-veldtog. In 2015 was hy mede-aanbieder van 'n werkswinkel van die Suider-Afrika Studente Chirurgiese Verenigings oor voorgraadse mediese navorsing.
Buiten sy akademiese werk was dr Kotze ook 'n tutor en mentor vir medestudente; en 'n vrywilliger en opleier van vrywilligers by Maties Gemeenskapsdiens. Hy was 'n skrywer vir tMatie en het vir twee jaar in die subkomitee vir intrakampus-kommunikasie gedien. Hy was ook 'n medestigter van die Meerhoff-manssêrgroep. Hy is vir hierdie betrokkenheid in 2015 met erekleure vir kultuur deur die TSR vereer.
Foto: Helene-Mari van der Westhuizen en Koot Kotze tydens Desember 2015 gradeplegtigheid.