
Toevallige professor beywer hom vir slimmer hulpbrongebruik vir toekomstige geslagte
Prof Neill Goosen van die Departement Chemiese Ingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het Dinsdag 19 Augustus 2025 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Van Elandshoogte tot Stellenbosch: die reis van ʼn toevallige professor".
Goosen het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing help om voedsel-, water- en energiestelsels te versterk en volhoubaarheid te verbeter.
Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom hierdie spesifieke veld jou belangstelling geprikkel het.
Breedweg gesproke behels my werk om te ondersoek hoe ons die voedselstelsel (en die stelsels wat daaraan gekoppel is, soos dié van water en energie) kan versterk.
Hoekom het ek by hierdie werk betrokke geraak? Gewoon omdat ek dink dit maak saak en omdat ek boere en wat hulle elke dag bereik, bewonder. Ek wil my ingenieursvaardighede aanwend om die werk te ondersteun wat in die voedselstelsel gedoen word. Ek doen dit deur metodes te ondersoek wat verhinder dat waardevolle voedingstowwe vermors word, of ek ontwikkel nuwe metodes om nuwe bestanddele te produseer wat in voedsel gebruik word (en hopelik in die toekoms ook in medisyne).
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf
Dit hou alles met die breër tema van volhoubaarheid verband: Hoe kan ons beter uitkomste behaal en tegelyk minder hulpbronne gebruik? Volhoubaarheid is ʼn komplekse onderwerp en ek gaan nie voorgee dat ek dit alles verstaan nie. Ek verstaan wel dat hulpbronne steeds baie ondoeltreffend gebruik word; asook dat vernuwing noodsaaklik is om te verseker dat daar ʼn toekoms vir die volgende generasie is.
Kan jy voorbeelde gee van hoe jou navorsing in werklike kontekste toegepas word?
Ek het heelwat werk aan die ontwikkeling van gespesialiseerde landbou-insette gedoen deur van neweprodukte gebruik te maak. Dit sluit in die produksie van biostimulante (stowwe wat plante help om sterker te groei, voedingstowwe meer effektief te gebruik en stres soos droogte of hitte beter te weerstaan) uit vis-neweprodukte wat gehidroliseer word (met behulp van water in kleiner dele afgebreek word), asook uit seewiermateriaal (vars en neweprodukte). My kollegas en ek het ook ʼn proses gepatenteer wat ʼn aansienlike hoeveelheid van die kannabinoïede (chemikalieë uit die kannabisplant) kan herwin wat verlore gaan wanneer prosesseerders mediese kannabinoïede uit plantmateriaal onttrek.
Kan die landbou-, water- en energiesektore saamwerk om beperkte natuurlike hulpbronne beter te benut?
Teoreties, ja. In die praktyk hang dit af van die skaal waarop oplossings gesoek word. As ʼn mens byvoorbeeld sou probeer om die water-, energie- en voedselsektore vir Suider-Afrika te integreer, word die koördinasie tussen rolspelers oor grense heen wat dalk baie uiteenlopende prioriteite het, uiters moeilik.
Dink byvoorbeeld aan die Zambezi-rivier, wat in Angola begin, deur ses lande vloei en in Zimbabwe, Zambië en Mosambiek opgedam word. Wie kry die meeste water om te gebruik en op grond van watter kriteria word ʼn groter deel aan hulle toegewys? Dink nou aan die hidro-elektrisiteit wat in die Zambezi opgewek word (deur die krag van bewegende water te gebruik): Al vloei geen water deur Suid-Afrika nie, trek ons baie voordeel uit hidro-elektrisiteit wat in Mosambiek opgewek word. Kry ons ʼn sê in watertoewysing langs die rivier?
In die lig van toenemende klimaatsveranderlikheid moet ons antwoorde op hierdie vrae ontwikkel, maar dis ʼn komplekse kwessie.
As die skaal tot ʼn stad verklein word, word die geografiese streek wat in aanmerking geneem word kleiner, maar die kompleksiteit neem nie noodwendig af nie. Dit is selfs op kleiner skale soos enkele gemeenskappe of enkele plase moeilik om te besluit hoe hulpbronne toegewys en benut moet word. Metodes word ontwikkel om besluitnemers te help om die kwessies beter te verstaan en uitkomste te voorspel wanneer veranderinge in ʼn komplekse stelsel aangebring word, maar dis nie ʼn maklike veld om in te werk nie.
As jy in jou kristalbal kyk, watter ontwikkelings sien jy in bio-energie?
Ek sien bio-energie-oplossings wat lewensvatbaar is as dit ʼn dubbele rol vervul, maar as ʼn alleenstaande oplossing kan dit moeilik wees om te regverdig. Die probleem is dat biomassa so waardevol is as ʼn bron van materiale, as ʼn metode om koolstof uit die atmosfeer vas te vang, of as ʼn komponent van gesonde ekosisteme, dat daar ʼn baie goeie rede moet wees om dit in ʼn energieproduk om te skakel.
ʼn Voorbeeld kan wees om organiese afval aan anaërobiese vertering te onderwerp (die afbreek van organiese afval deur mikrobes in die afwesigheid van suurstof), wat (1) verhinder dat organiese materiaal in metaan ontbind en aansienlike omgewingskade aanrig (metaan is ʼn baie erger kweekhuisgas as koolstofdioksied), en (2) energie herwin uit metaan wat op ʼn beheerde wyse tydens anaërobiese vertering geproduseer word. Nog ʼn voorbeeld is die gedeeltelike vergassing van byvoorbeeld indringerplante, om (1) ʼn hoë-energie gasagtige produk te produseer wat ook stabiele koolstof voortbring wat grondgehalte kan verbeter, terwyl (2) die ekosisteem ook deur die verwydering van indringerspesies verbeter word. Die soeke na toepassings waar bio-energie amper as ʼn neweproduk van ander prosesse geproduseer word, sal al hoe belangriker word.
Die hoëronderwysomgewing kan uitdagend wees. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Die geleentheid om tot die ontwikkeling van mense by te dra hou my gemotiveerd. My nalatenskap sal nie die navorsing wees wat ek agterlaat nie, maar my bydrae tot die opleiding van die volgende generasie ingenieurs en navorsers. Die hoëronderwyssektor verander voortdurend en tans nogal vinnig. My rol is om te verseker dat ek voor- en nagraadse studente leer om krities oor die wêreld rondom hulle te dink, om nuuskierig te wees en om hul eie vaardighede te vertrou.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.
Ek en my broer bestuur steeds ons familieplaas in die Oos-Kaapse Drakensberge. Ek dink ʼn koei is een van die wonders van die wêreld, met die superkrag om materiaal te verteer wat baie ander diere nie kan nie (en dit om te skakel in iets baie nuttigs vir die mensdom: vleis en melk). Ek is ook lief vir swart katte en die een wat my besit, is die beste eienskap van my huis.
Hoe bring jy jou vrye tyd deur?
Ek het nie baie vrye tyd nie. Ek het die afgelope twee jaar ʼn koper stookketel bekom (ʼn tradisionele toestel vir die distillering van alkohol), en ek leer tans hoe om brandewyn, grappa en whiskey te maak. Ek het ook van ʼn lekker droë appelsider begin hou en leer hoe om dit te brou. Ek speel ʼn bietjie muurbal, hou van ʼn aand by die teater af en toe, probeer elke jaar jag en lees baie (meestal fantasie, maar die goeie leesstof is aan die opraak en ek het wetenskapfiksie begin insluit). En baie belangrik: Ek vang vis.