Caitlin Leigh Sampson se akademiese reis is nie net deur diepgaande verlies gekenmerk nie, maar ook deur buitengewone uithouvermoë.
SU-gegradueerde omskep swaarkry in hoop
- Al is haar planne dalk vertraag, het Caitlin Leigh Sampson teenspoed oorkom om cum laude te gradueer.
- Sy gradueer net drie weke nadat sy geboorte geskenk het.
- Sampson hoop om haar twee seuns te inspireer om hulle nie deur hindernisse in die nastrewing van hulle drome te laat onderkry nie.
Caitlin Leigh Sampson se akademiese reis is nie net deur diepgaande verlies gekenmerk nie, maar ook deur buitengewone uithouvermoë. Ondanks beduidende fisiese en emosionele uitdagings gedurende haar studie, het sy vandeesweek (24 Maart) haar meestersgraad in dierewetenskap cum laude ontvang – slegs drie weke ná die geboorte van haar tweede kind
Sampson het in Kuilsrivier grootgeword, waar sy eers 'n leerder by Laerskool Kuilsrivier en daarna by Hoërskool De Kuilen was. Sy het op skool daarvan gedroom om 'n veearts te word. Hoewel sy by die Universiteit van Pretoria aanvaar is om daar te studeer, kon sy weens finansiële beperkings nie hierdie geleentheid aangryp nie.
Uitgestelde drome
Terwyl sy noodgedwonge 'n oorbruggingsjaar geneem het, het sy ontdek die Universiteit Stellenbosch (US) bied deur dierewetenskap 'n toegangsroete aan om met diere te kan werk. "Dit was in daardie stadium teleurstellend," onthou sy, "maar agterna kon ek sien hoe dit my presies gelei het na waar ek moes wees."
Haar liefde vir diere is van kleins af deur haar oorlede ouma gekoester, terwyl haar akademiese ambisie deur haar oudste suster – die eerste in haar gesin wat 'n meestersgraad behaal het – geïnspireer is. "Sy het my gewys wat moontlik is," sê Sampson. "Haar krag en vasberadenheid het my nog altyd gemotiveer om aan te hou om vorentoe te beur."
Sampson se eie nagraadse reis was egter allesbehalwe eenvoudig.
Weens vertragings in die toegang tot diere vir haar navorsingsproewe in die finale jaar van haar meestersgraad, moes sy noodgedwonge om 'n verlenging aansoek doen. En toe, vroeg in 2025, het haar situasie 'n verwoestende wending geneem. Sy was op pad na Oudtshoorn waar sy op 'n volstruisplaas gewoon het om navorsing te doen, toe 'n koedoe voor haar motor ingehardloop en 'n ernstige ongeluk veroorsaak het.
Sy het onder meer ernstige handbeserings in die ongeluk opgedoen. "Eenvoudige take soos om 'n bottel oop te maak, knope vas te maak of om te tik was uiters moeilik," sê sy. Omdat sy weens haar beserings nie op haar eie kon bly nie, het sy teruggekeer huis toe in Kaapstad en vir 'n tweede verlenging aansoek gedoen.
Om enduit uit te hou
Terwyl sy mediese toetse ondergaan het om die omvang van die skade aan haar hande te bepaal, het Sampson ontdek sy is swanger. Mediese prosedures moes uitgestel word, wat die onsekerheid net vererger het.
Toe, gedurende haar swangerskap, het sy ook diep persoonlike verlies ervaar. Dit was eers haar geliefde hond van 16 jaar, en kort daarna haar ouma, wat so 'n deurslaggewende rol in die vorming van haar liefde vir diere gespeel het
Te midde hiervan is haar eerste kind gebore. Net twee maande later het sy uitgevind sy is weer swanger.
"As ek terugkyk, het dit regtig gevoel asof elke moontlike hindernis op my pad geplaas is terwyl ek probeer het om hierdie graad te voltooi," sê sy. Tog het sy vasberade gebly. "Ek was vasbeslote om klaar te maak met dít ek begin het."
As 'n bewys van haar deursettingsvermoë, was Sampson 39 weke en vier dae swanger toe sy haar tesis voltooi en verdedig het om cum laude te slaag. Sy het op 5 Maart haar tweede baba in die wêreld gebring.
Wanneer sy oor aan haar reis besin, sê sy hoop om 'n boodskap van veerkragtigheid aan haar kinders oor te dra. "Die lewe sal swaarkry en uitdagings bring, maar wanneer God die grondslag bly, word jy versterk om bo elke hindernis uit te styg en die drome na te jaag wat vir jou bedoel is."
Met die oog op die toekoms beplan Sampson om haar navorsing by wetenskaplike konferensies aan te bied en haar bevindings te publiseer, terwyl sy die komende jaar aan haar gesin wy. "Hierdie tyd sal my toelaat om te rus en te herstel, en om 'n jaar van onskatbare waarde saam met my kinders deur te bring voordat ek my professionele loopbaan aanpak," sê sy.
"Ek hoop regtig my storie moedig iemand anders aan om ook aan te hou."