Skip to main content
Clio and KD Sass on their graduation day.
Image by: Henk Oets

Die tweeling Clio en KD Sass het op dieselfde dag graad gevang.

Persverklaring

Sass-tweeling vereer hulle aktivis-ma, ʼn US-alumna, op gradedag

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
25 Maart 2026
  • Die tweelingsusters Clio en KD Sass gradueer op dieselfde dag aan die Universiteit Stellenbosch, dekades nadat hulle ma se studies deur apartheid ontwrig is.
  • Hulle ma, wat aan kanker gesterf het toe hulle baie klein was, is vir anti-apartheidsaktivisme aangehou en gedwing om haar mediese graad te laat vaar voordat sy later ʼn BSc in dieetkunde voltooi het.
  • Vir die susters eer hulle mylpaal hulle ouers se opofferings en hulle ma se nalatenskap van veerkragtigheid.

In die vroeë 1980’s het ʼn jong mediese student se drome in duie gestort. As ʼn aktivis wat teen die ongeregtighede van apartheid betoog het, is Patricia Grace Rorich in hegtenis geneem. Nadat sy vrygelaat is, is sy meegedeel dat sy nie met haar MBChB-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) kon voortgaan nie en na ʼn BSc in dieetkunde moes oorskakel.

Meer as vier dekades later gradueer Patricia se tweelingdogters, Clio en KD Sass, op dieselfde dag by die US. Clio het ʼn meestersgraad in voedselwetenskap cum laude verwerf en KD het verlede jaar haar BSc in wiskundige wetenskappe: biowiskunde voltooi. Vir die susters is die geleentheid baie emosioneel. Hulle ma het aan borskanker gesterf toe hulle drie jaar oud was, maar haar storie het dwarsdeur hulle lewe ʼn rigsnoer gebly.

“Wanneer ons oor die verhoog loop, doen ons dit nie net vir onsself nie,” sê Clio. “Ons doen dit vir die opofferings wat ons ma en pa gemaak het, en vir die opofferings van hulle ouers en sibbe voor hulle.”

Grootword in die skadu van opoffering

KD en Clio het in Pinelands in Kaapstad grootgeword, omring deur ʼn groot en ondersteunende uitgebreide familie. hulle ma, wat vyf broers en susters gehad het, en hulle pa, Ernest Sass, een van nege kinders, het beide in Elsiesrivier grootgeword. Die susters sê hulle diep verbintenis met hulle familie en die gemeenskap het hulle nog altyd daaraan herinner dat hulle op die skouers staan van diegene wat hulle voorafgegaan het. “Soos die gesegde lui, ‘dit verg ʼn dorp’,” sê Clio. “Ons tannies en ooms is soos ons tweede ma’s en pa’s.”

Selfs in haar afwesigheid het Patricia se lewensverhaal deel van hulle grootwordjare gebly. Uit staaltjies van familielede onthou die susters haar as “uiters lojaal, toegewyd en vergewensgesind”. Hulle het eers in graad 11, toe hulle universiteite begin oorweeg het, bewus geword van die volle besonderhede van die gebeure wat hulle ma se studies onderbreek het.

“Toe ons dit hoor, het ons net geweet ons móés Stellenbosch toe kom,” vertel KD. “Haar storie het beteken dat ons nie voor ʼn gees van slagofferskap kon swig nie. Soms verloop dinge nie volgens plan nie, maar ons kan altyd vorentoe beweeg as ons ons doelwitte vasbeslote nastreef.”

Clio sê die wete van hulle ma se deursettingsvermoë het ʼn bron van motivering in moeilike tye geword. “Dit was daagliks ʼn aanmoediging om te weet dat sy ook akademiese probleme ervaar het, gepaard met die omstandighede waarin sy haarself bevind het terwyl sy gestudeer het en deel van die struggle was. Haar moed het ons standvastig gehou.”

Bittersoet terugkeer

Tydens apartheid is Patricia nie toegelaat om in ʼn koshuis te woon nie, omdat sy as bruin geklassifiseer is. Sy het toe by ʼn oom in Idasvallei gebly terwyl sy haar studies voortgesit het.

Vir KD was die feit dat sy gedurende haar voorgraadse jare in ʼn koshuis kon bly, ʼn herinnering aan die vordering wat gemaak is én aan die onregte wat haar ma verduur het. “Om klas toe te stap en in ʼn koshuis te woon wat ek weet my ma nie beskore was nie, het my so nederig kaat voel – hartseer vir haar en soveel ander, maar algehele dankbaarheid.”

Clio het haar eie verbintenis met hulle ma se nalatenskap deur haar studiekeuse ervaar. Nadat sy aanvaar is om voedselwetenskap te studeer, het sy die skakel met haar ma se akademiese pad besef. “Om in ʼn soortgelyke studieveld as ons ma te wees het gevoel soos ʼn kringloop wat voltooi is.” 

KD sê haar ma was ook ʼn inspirasie tydens haar moeilike akademiese reis en die stryd om haar graad in wiskundige wetenskap te voltooi. “My graad word tipies in drie jaar voltooi,” verduidelik sy. “Dit het my ses jaar en ʼn Dekaan se Konsessie geneem om te slaag, maar ek het dit gemaak.” Haar deursettingsvermoë is volgens haar aan hulle ma se voorbeeld te danke. “Sy het nooit ʼn gees van slagofferskap aangeneem nie en ek moes dít elke dag voortdra.”

KD voeg glimlaggend by dat sy in 2024 ʼn gradeplegtigheidsrok gekoop het – die jaar toe sy die eerste keer gedink het sy het dit gemaak. “Ek is baie bly ek kan nou daardie rok vir die eerste keer vir my gradedag dra!”

Susters wat die pad saam loop

Vir hulle eerste vier jaar as Maties het die tweeling in koshuise binne loopafstand van mekaar gewoon (KD in Erica en Clio in Nemesia), saam gestudeer en die druk van die universiteitslewe sy aan sy die hoof gebied. Albei het leiersposisies op die kampus beklee, soos om huiskomiteelede van hulle koshuise te word. Clio was primaria in die jaar wat sy haar graad voltooi het.

“Om ʼn ingeboude ondersteuningstelsel tydens ons studies te hê, het ons bymekaar gehou en ons dankbaar gemaak vir die seën om ʼn tweeling te wees,” sê Clio.

hulle verhouding het te midde van die erns van die akademiese lewe ook oomblikke van ligsinnige wedywering ingesluit. KD onthou hoe sy voor ʼn gimnasiumsessie om 05:00 aan Clio se venster geklop het omdat haar tandepasta opgeraak het. “Sy het ʼn bietjie in ʼn plastieksakkie gedruk en my aangesê om later tandepasta te gaan koop,” lag KD. “Daardie voorreg om laf te wees, te deel en op mekaar staat te maak is van onskatbare waarde.”

Hulle pa het die tweeling ná hulle ma se afsterwe grootgemaak en was ʼn bestendige teenwoordigheid dwarsdeur hulle lewe en studiejare.

“Die feit dat Clio en KD op dieselfde dag gradueer, maak hierdie geleentheid besonder spesiaal,” sê Ernest Sass. “Toe hulle gebore is, sou ek nooit kon dink dat ek eendag hulle primêre versorger en voorsiener sou wees nie. Die opofferings en onsekerhede langs die pad was enorm – en nou laat hierdie oomblik van hulle graduering my sprakeloos.” 

Patricia het onvoorwaardelik liefgehad en het die goeie in almal gesien, onthou Ernest. “Die tweeling is in baie opsigte soos sy – haar stil krag, haar vasberadenheid en selfs haar humoristiese, saaklike manier waarop sy met hulle ‘Pappa’ gepraat het.”

Hy het die meisies dikwels gedurende hulle kinderjare aan hulle ma herinner. “Ek het hulle altyd vertel dat die helderste ster in die hemel hulle mamma is wat oor hulle waghou.”

Grace se nalatenskap

Soos wat gradedag nader gekom het, het die susters hulle probeer indink hoe hulle ma op dié oomblik sou gereageer het. “Ek dink sy sou gehuil het,” sê KD. “Ek sou saam met haar gehuil het en ons maskara sou tot op die vloer geloop het.” Selfs ná meer as twee dekades word sy diep gemis. “Dit voel asof daar ʼn leë plek aan ons tafel is sonder haar.”

Tóg rig Patricia se invloed steeds die manier waarop hulle die wêreld sien. Haar middelnaam, Grace, het haar perfek gepas, sê die susters by nadenke. “Om met grasie te leef, is om vriendelikheid, nederigheid en welwillendheid te toon,” merk Clio op. “My ma is nie altyd genade gegun nie, maar sy het dit steeds vrylik aan ander gegee. Sy het bo haar omstandighede uitgestyg en ons kan almal ʼn kragtige les uit haar lewe leer.”

Daardie voorbeeld word voortgesit terwyl die tweeling oor die vreugde van saam gradueer besin. “Dis regtig ʼn seën om saam te studeer en te gradueer. Nie baie sibbe of mense kry hierdie geleentheid nie,” sê Clio en voeg by: “Ons dra ‘Mami Tessa’ elke liewe dag saam met ons. Ons is dankbaar vir die lewe wat God ons gegee het en vir die voorreg om haar dogters te wees. Ons mis haar, maar soos wat ons hierdie mylpale bereik, weet ons dat ons haar nalatenskap voortdra.”

Verwante stories