
Prof McGregor aangestel as die eerste ACWA Power-leerstoel in Konsentreerde Sonkrag.
In ʼn belangrike stap vir Suid-Afrika se hernubare energie-doelwitte, is Prof Craig McGregor, professor in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), aangestel as die eerste ACWA-leerstoel in Gekonsentreerde Sonkrag (Concentrated Solar Power (CSP))aan die US. Prof McGregor is ook die leier van die Sontermiese Energie Navorsingsgroep (Solar Thermal Energy Research Group (STERG)).
Dié gesogte Leerstoel is tot stand gebring in vennootskap met ACWA Power (ʼn toonaangewende Saoedi-Arabiese ontwikkelaar, belegger en operateur van kragopwekkings- en ontsoutingsaanlegte) met noemenswaardige CSP bedrywighede in Suid-Afrika, insluitend die werkende Bokpoort-aanleg en die Redstone-aanleg wat onlangs in gebruik geneem is.
Die amptelike bekendstelling van die ACWA-leerstoel het op Donderdag 21 Augustus 2025 by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) plaasgevind. Die program wat 'n verwelkomingstoespraak deur prof Sam Tshehla, waarnemende adjunk-visekanselier: strategie, globale en korporatiewe sake en verteenwoordiger van die US-rektor en -visekanselier by die geleentheid, ingesluit het, ʼn oorsig van die leerstoel deur Prof Wikus van Niekerk, Dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, en ʼn aanvaardingsrede deur Prof McGregor ingesluit. Nandu Bhula, ACWA Power se Algemene Bestuurder: Suid-Afrika, het namens ACWA Power bygewoon.Sy aanstelling erken Prof McGregor se leierskap in navorsing oor son-termiese energie en sy indrukwekkende rekord om akademiese uitnemendheid met industrie-relevante innovasie te oorbrug. Oor sy aanstelling sê Prof McGregor dat hy daarna uitsien om saam met die ACWA-span te werk en voort te bou op die praktiese ervaring van Suid-Afrika se Bokpoort- en Redstone-CSP-aanlegte, te ten einde navorsing oor betroubare, 24/7 hernubare sonenergie verder te bevorder.Hierdie aanstelling is ʼn belangrike mylpaal in die versterking van Suid-Afrika se kapasiteit in hernubare energie, veral op die gebied van Gekonsentreerde Sonkrag (CSP) – ʼn tegnologie wat van kardinale belang is vir die land se energiebehoeftes vanweë die vermoë om termiese energie te stoor en elektrisiteit te voorsien selfs ná sononder.Prof McGregor is reeds sedert 2019 aan die hoof van STERG en bou voort op die Universiteit se gevestigde nalatenskap van uitnemendheid in son-navorsing en industrie-vennootskappe. Sy werk het gehelp om die US internasionaal te posisioneer as ʼn rolspeler in son-termiese innovasie, met vennootskappe wat instansies soos die DLR (Duitsland), Fraunhofer ISE, Sandia National Laboratories (VSA), CNRS (Frankryk) en ander insluit. Onder sy leiding het STERG verskeie belangrike prestasies behaal:- Meer as 70 nagraadse studente in son-termiese ingenieurswese gegradueer;
- Meer as 80 eweknie-geëvalueerde joernaalartikels en konferensiepublikasies gepubliseer;
- Helio100, ʼn innoverende heliostaat-tegnologie, ontwikkel en gelisensieer nadat suksesvolle veldtoetse voltooi is; later gelisensieer aan die Britse maatskappy Odqa;
- Aan verskeie internasionale navorsingsamewerkings deelgeneem.