Prof Lungiswa Nkonki bevorder billikheid en uitnemendheid in gesondheidstelselonderrig
Hierdie Vrouemaand vier ons akademiese personeellede aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat denke vorm en uitnemendheid deur hulle onderrig inspireer. Hierdie merkwaardige opvoeders bring passie, vernuwing en toewyding na die lesinglokaal en help studente om te floreer en sukses te behaal. Hulle stories weerspieël die impak van vroue in die hart van die US se akademiese gemeenskap. Prof Lungiswa Nkonki van die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is ʼn baanbreker in die bevordering van gesondheidsekonomie in die Globale Suide. As is ʼn ontvanger van ʼn Onderrig-Leer-Assessering-toekenning van die US het sy innoverende kurrikulums gerig, van die skep van ʼn module oor gesondheidsorgekonomie tot die vestiging van ʼn gespesialiseerde gesondheidsekonomie-baan in die MPhil-program in Gesondheidstelsels. Nkonki se transformerende onderrig bemagtig toekomstige leiers om beleid en praktyk te oorbrug terwyl sy ʼn nuwe generasie akademici mentor. Haar navorsing en mentorskap versterk gesondheidstelsels en bevorder billike gesondheidsorgoplossings.
Kan jy ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond vertel? Waar het jou akademiese reis begin en wat het jou liefde vir onderwys laat vlamvat?My passie lê in die bevordering van gesondheidsekonomie-kapasiteitsbou in die Globale Suide, wat steeds onderontwikkeld is ondanks die uiters belangrike rol wat dit in openbare gesondheid speel. Daar word wêreldwyd te min aandag aan gesondheidsekonomie geskenk – veral in Afrika suid van die Sahara – maar dit is van deurslaggewende belang vir die vorming van doeltreffende gesondheidstelsels en -beleide.My akademiese reis het begin met die ontwikkeling van ʼn enkele module oor Ekonomiese Evaluering in Gesondheidsorg. Daardie vonk het sedertdien ontvlam in die ontwikkeling van ʼn gespesialiseerde gesondheidsekonomie-baan in die MPhil-program in Gesondheidstelsels. Hierdie werk het na die integrasie van gesondheidsekonomie-onderrig in verskeie voorgraadse en nagraadse programme van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe uitgebrei. Ek het ook die geleentheid gehad om in die Globale Noorde te onderrig, waar ek hierdie platforms gebruik het om te verseker dat die teorie en praktyk van gesondheidsekonomie wyer verstaan word, meer toeganklik is en deel van die hoofstroom word.
Het enige onderwysers, mentors of rolmodelle ʼn blywende indruk op jou gemaak?Vir seker. My mentor, dr Mickey Chopra, destydse direkteur van die Eenheid Gesondheidstelselnavorsing, het die pad na my PhD-studies geplavei. Hy het ʼn baie bemagtigende omgewing geskep waarin ons met betekenisvolle projekte vertrou is en geglo is in ons vermoë om resultate te lewer.In ʼn stadium was ons sewe swart vroue in dieselfde eenheid wat ons PhD's gedoen het. Daardie doelbewuste ondersteuning en die kultuur van leer en mentorskap wat hy bevorder het, het ʼn blywende impak op my gemaak en beïnvloed steeds die manier waarop ek vandag ander mentor.
Wat beteken dit vir jou om vandag ʼn vrou in die akademie te wees?Om vandag ʼn vrou in die akademie te wees, beteken om voortdurend ruimtes te beset wat nie altyd met jou in gedagte geskep is nie, en dit aktief vir ander te hervorm. Ek sien my rol nie net as ʼn dosent nie, maar as ʼn mentor, voorspraakmaker en gids. My onderrigfilosofie fokus op transformerende, aktiewe leer. Ek put uit die werk van Fabio R Aricò en Simon J Lancaster, wat beskryf hoe aktiewe leer kritiese denke bevorder en studente voorberei om in komplekse omgewings te lei. My nagraadse onderrig sluit werklike projekte, samewerkende aktiwiteite en toegepaste navorsing in, wat alles ontwerp is om teorie en praktyk te oorbrug. Op hierdie manier streef ek daarna om deurdagte, sosiaal verantwoordelike en innoverende leiers te op te lei; baie van hulle jong vroue wat hulle weg die eerste keer deur akademiese ruimtes baan.
Wat is die grootste beloning van ʼn dosent aan die US?Om te sien hoe my voormalige studente gedy – hetsy of hulle tot die veld van gesondheidsekonomie bydra, gesondheidsbeleid beïnvloed, of programme in hulle gemeenskappe lei. Die wete dat die werk wat ons in die lesinglokaal doen ver buite die universiteit uitkring, inspireer my daagliks.
Watter raad het jy vir jonger vroue wat vandag die onderwysberoep betree?Jou geleefde ervaring maak saak. Bring alles van jouself die akademiese lewe binne: jou stem, jou insigte en jou agtergrond. Daardie egtheid versterk nie net jou onderrig nie, maar baan ook die weg vir ander om dieselfde te doen.
FOTO: Stefan Els