Skip to main content
Prof Debra Shepherd ontsluit ekonomie met ʼn menslike aanslag

Prof Debra Shepherd ontsluit ekonomie met ʼn menslike aanslag

Corporate Communications and Marketing
21 Augustus 2025

Hierdie Vrouemaand vier ons akademiese personeellede aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat denke vorm en uitnemendheid deur hulle onderrig inspireer. Hierdie merkwaardige opvoeders bring passie, vernuwing en toewyding na die lesinglokaal en help studente om te floreer en sukses te behaal. Hulle stories weerspieël die impak van vroue in die hart van die US se akademiese gemeenskap.

Prof Debra Shepherd is ʼn medeprofessor in die Departement Ekonomie en ʼn senior navorser van die Navorsingsgroep oor Sosio-ekonomiese Beleid (ReSEP). Sy is ʼn ervare dosent op voor- én nagraadse vlak, is ʼn US-onderriggenoot en is al met verskeie toekennings vereer, waaronder ʼn Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig van die US, asook die Kanselierstoekenning vir Onderrig. Shepherd dra gereeld tot leierskap- en diensrolle binne die US by, byvoorbeeld die Ubuntu-kortkursus wat aan gevangenes by die Brandvlei Korrektiewe Sentrum die geleentheid bied om saam met US-studente te studeer.

Vertel ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond.My akademiese reis het in 2013 formeel begin, maar ek was jare vantevore ʼn tutor vir ʼn groep voorgraadse studente in kleiner lesingsale. Daardie sessies het my laat besef hoeveel ek daarvan hou om ekonomie toeganklik te maak, veral vir studente wat aan hulle vermoëns twyfel. Dit is derhalwe interessant dat ek myns insiens my grootste welslae in groot klasse behaal waar ek mikro-ekonomie aan eerstejaars onderrig. Ek dink dit is omdat ek daardie tutoriaal-ervaring vir klein groepies na groter lesingsale wou oordra. Dit klink dalk onmoontlik, maar om elke jaar ʼn uiteenlopende groep van sowat 400 studente te onderrig het my oortuiging versterk dat goeie onderrig oor meer as die oordrag van inhoud gaan: Dit gaan oor verbintenis, erkenning en die skep van ʼn ruimte waar studente gesien en ondersteun voel. Watter onderwysers, mentors of rolmodelle het ʼn blywende indruk op jou gelaat?Prof Sarel Steel, wat vir my statistiek gegee het in my eerste jaar, staan uit. Omdat hy my naam geken het, my potensiaal raakgesien het en my laat voel het ek word in ʼn stampvol lesingsaal raakgesien. Daardie ervaring het my laat besef hoe groot die krag van erkenning in leer is en ek het dit na elke lesingskamer saamgeneem wat ek betree het. Mentors soos prof Steele het my gewys dat onderrig net soveel (miskien meer!) oor die bou van verhoudings as oor die oordrag van inhoud gaan. Is daar ʼn spesifieke aspek van jou kursus of vakgebied wat jy veral geniet om te onderrig?As ʼn sosiale wetenskap is ekonomie spanningsbelaai en vol teenstrydighede. Dit word dikwels as ʼn eksakte en objektiewe vakrigting aangebied, maar dit is diep in komplekse menslike realiteite verwortel. Ekonomie is byvoorbeeld geneig om doeltreffendheid, ekwilibrium en rasionele gedrag te prioritiseer, maar werklike ekonomieë word deur ongelykheid, magsdinamika, historiese nalatenskap en sosiale norme gevorm. Wanneer ek ekonomiese teorie aan studente onderrig, herinner ek hulle graag daaraan dat dit voortdurend verander en aan debat of meningsverskil onderworpe is. Ek geniet dit om studente aan te spoor om krities oor die werklike implikasies van ekonomiese besluite te besin, veral in ʼn land soos Suid-Afrika.

Wat beteken dit vir jou om vandag ʼn vrou in die akademie te wees?Ek dink die manier waarop ek onderrig en lei – met empatie, sorg en emosionele aandagtigheid – daag dominante verwagtinge uit en help om akademiese waarde te herdefinieer. Hierdie eienskappe is inherent aan alle mense, maar in die akademie is daar ʼn neiging om dit as geslagsgebonde te beskou en te takseer. Ek wil hê diegene wat ná my kom, moet minder druk voel om hulleself te bewys en meer vryheid hê om hulleself te wees.

Wat is die grootste beloning vir ʼn dosent aan die US?Om te sien hoe studente akademies, persoonlik en sosiaal groei. Om toe te kyk hoe hulle onsekerheid in selfvertroue ontwikkel, veral in so ʼn veeleisende vak soos ekonomie, is werklik vervullend. Elke groep studente bied nuwe perspektiewe en uitdagings, wat my aanspoor om betrokke te bly en my benadering voortdurend te verbeter. Wat my die meeste inspireer, is om te weet dat onderwys ʼn katalisator vir breër samelewingsverandering kan wees. Om deel te wees van ʼn student se reis – veral in ʼn land met groot ongelykhede – voel soos betekenisvolle werk. Watter raad het jy vir jonger vroue wat vandag die onderwysberoep betree?Jy voel dalk nie altyd asof jy behoort nie, veral as jou sterk punte nie deur dominante norme erken word nie. Maar moenie hulle onvermoë om jou raak te sien met ʼn gebrek aan waarde verwar nie. Jy behoort, want jy bou aan wat nog nie bestaan nie.

FOTO: Stefan Els