Skip to main content
Hierdie artikel is vanaf ons ou webwerf gemigreer en mag dus moontlik nie korrek vertoon nie.
Passie vir maatskaplike geregtigheid inspireer regsgraduatus

Passie vir maatskaplike geregtigheid inspireer regsgraduatus

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking/ Pia Nänny​
06 April 2022

​Graduatus Thembalethu (Themba) Seyisi het besef sy regsgraad sal hom nie net in staat stel om misdadigers uit die samelewing te verwyder nie, maar sou hom inderdaad ook kon help om die wêreld te verander.Seyisi (22), 'n 2021-ontvanger van die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid in Sosiale Impak, het vandeesweek sy LLB-graad by die Universiteit Stellenbosch (US) se April-gradeplegtigheid ontvang. Seyisi sê hierdie graad bemagtig hom. “Ek was oorstelp van vreugde en het baie trots gevoel om iets te bereik wat ek nooit gedink het ek sal nie," sê Seyisi. Hy is bekend vir sy toewyding aan maatskaplike geregtigheid en sy onvermoeibare pogings om jongmense se lewe te verbeter. Seyisi het in 2020 besluit om 'n boek uit te gee om geld vir liefdadigheid in te samel eerder as om 'n partytjie te hou om sy 21ste verjaardag te vier. Hy het as derdejaar-regstudent 21 suksesvolle mense wat hy bewonder – insluitende hoëprofiel-rolmodelle asook persoonlike helde en familielede, gevra om een lewensles of insig wat hulle wens hulle geweet het toe hulle 21 was, te deel. Die gevolg was 21 Life Lessons @ 21, 'n versameling stories deur inspirerende Suid-Afrikaners soos oudregter Edwin Cameron, prof Thuli Madonsela, prof Kgethi Phakeng, Sello Hatang, Sandra Prinsloo, Khaya Sithole, Zelda la Grange en talle ander.“Ek wou hê ander jongmense moet ook die liefde, genade en inspirasie ervaar wat ek die voorreg gehad het om by baat te vind. Ek was die afgelope paar jaar bevoorreg genoeg om wonderlike mense te ontmoet wie se ervarings vir jonk en oud 'n bron van inspirasie in hierdie moeilike tye kon wees. Nog 'n rede om 21 Life Lessons @ 21 uit te gee, was om geld in te samel vir sake waaroor ek passievol is, soos om studente te help om uitstaande studiegeld te betaal sodat hulle kan graad kry."#Action4InclusionTer viering van sy gradeplegtigheid, het Seyisi 'n gradepartytjie gehou om geld in te samel vir die #Action4Inclusion-inisiatief. Die inisiatief, wat in 2020 bekendgestel is, is deur die Universiteit se Studenteraad gestig met Madonsela, bekleër van die Fakulteit Regsgeleerdheid se leerstoel vir sosiale geregtigheid, as beskermvrou. Die geld wat deur #Action4Inclusion ingesamel word, word gebruik om studente te help wat nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie omdat hulle nog klasgeld skuld, asook gegradueerdes wat nie hul akademiese rekord met hul gradeplegtigheid kan ontvang nie. Dit was nie in 2020 moontlik om 'n groot partytjie te hou nie weens die Covid-19-inperkings. “Ek het besluit om my 21ste verjaardag te vier deur iets betekenisvol te doen. Ek het ook die behoefte gehad om ander te help. Ek het die afgelope paar jaar soveel baat gevind by die ongelooflike rolmodelle in my lewe. Ek is innig dankbaar vir die unieke geleenthede wat ek gehad het, soos die Ciucci-beurs wat ek van die Stella-stigting ontvang het om my in staat te stel om in die regte aan die US te studeer."Sy gradepartytjie op 5 April by die Middelvlei-wynlandgoed het as 'n geldinsamelingsgeleentheid gedien en gaste is versoek om 'n skenking aan #Action4Inclusion te maak.HoogtepunteSeyisi was gedurende sy studiejare op Stellenbosch by verskeie sosiale-impak-veldtogte betrokke, soos die #DearPresidents-veldtog. Dit het gedurende die verkiesing in 2019 plaasgevind en het aan jongmense die geleentheid gegee om die leiers van die verskillende politieke partye in te lig oor die veranderinge wat hulle in hul gemeenskappe wou sien en hoe hul ideale wêreld sou lyk. Seyisi, wat nou as kandidaat-prokureur by Cluver Markotter Prokureurs op Stellenbosch werk, sê hy het deur die jare belangrike lesse oor maatskaplike geregtigheid geleer. “Moenie die neigings najaag nie," sê hy. “Identifiseer 'n maatskaplike ongeregtigheid, selfs al is dit nie iets waaroor mense praat nie. As jy dit raakgesien het en bereid is om iets daaraan te doen, doen dit. Soms sien mense nie jou visie nie, maar iewers gaan hulle aan boord kom, want maatskaplike ongeregtigheid raak ons almal."