Skip to main content
Hierdie artikel is vanaf ons ou webwerf gemigreer en mag dus moontlik nie korrek vertoon nie.
Opkomende basketbalster gradueer nadat hy volbaanpers op studies toepas

Opkomende basketbalster gradueer nadat hy volbaanpers op studies toepas

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
19 Desember 2023

Deur uitdagings op die basketbalbaan te oorkom, het dit die opkomende sportster Lutho Skweyiya gehelp om ook ’n dompelskoot in die akademiese arena aan te teken. 

Die Maties Sportman van die Jaar vir 2023 het 14 Desember sy nagraadse Gevorderde Diploma in Volhoubare Ontwikkeling by die Universiteit Stellenbosch (US) se gradeplegtigheid ontvang. ​

Sukses op die baan en in die lesingsaal het nie maklik gekom vir hierdie gemotiveerde atleet wat in Khayelitsha en daarna Gugulethu grootgeword het voordat die gesin na Montana verhuis het toe hy op laerskool was nie. Skweyiya, wat kleiner gebou is as baie van sy spanmaats, moes harder werk om sy plek in die Maties Basketbalspan te verdien. Sy toewyding het vrugte afgewerp en hy was ’n uitblinkerspeler by Universiteitsport Suid-Afrika (USSA)-toernooie en het onlangs Suid-Afrika by die Wêrelduniversiteitspele in Chengdu, China, verteenwoordig. 

Masie Ntlali, Maties Basketbal se hoofafrigter, sê hy het Skweyiya se talent die eerste keer raakgesien toe hy ’n graad 9-leerder by die Wes-Kaapse Sportskool was. “Toe hy in 2019 hier by Maties aanland, moes hy by die fisiekheid van die spel aanpas en leer hoe om sy pad teen groter teenstanders oop te veg. Ons moes aan sy selfvertroue, spoed, krag en werkstempo werk om sy basketbal-IK aan te vul sodat hy op senior vlak kon meeding. Nou is Lutho ’n soliede hoekwag wat niemand vrees nie, maak nie saak hoe groot die span is nie, want hy verstaan sy eie krag.” 

Skweyiya sê sy vasberadenheid om sukses te behaal spruit uit die talle rolmodelle en mentors wat hy in sy lewe gehad het. “Umuntu ngumuntu ngabantu”. Losweg in Afrikaans vertaal, beteken dit “’n mens wat ’n mens is danksy ander mense”. Hy het sy werksetiek by sy ouers geleer en hulle het hom aangemoedig om nooit op te gee nie en altyd aan te hou strewe na sy doelwitte. Sportrolmodelle sluit in sy eerste basketbalafrigter op laerskool, Craig Daniels, en hoërskoolafrigters Theslin Davids en Khetelo Lala wat hom gehelp het om sy potensiaal te verwesenlik. 

Afrigter Masie het ook sy talente “op en van die baan af” ontwikkel, sê Skweyiya. “Hy het regtig ’n groot rol gespeel om my die man te maak wat ek vandag is.” Maats, soos die skoolkapteins Khensany Mhakabela en Xabiso Mtambeka, het ook hulle rol gespeel. “Om te sien hoe iemand wat amper jou ouderdom is, meedoënloos aan hulle ambisies werk, het net ’n vuur in my laat onstaan om baie meer vir myself te wil hê en te doen.” 

Sport was nog altyd ’n dryfveer vir Skweyiya. Hy onthou hoe hy vir sy skoolloopbaandag eerder as ’n professionele atleet as ’n prokureur of dokter aangetrek het. Hy het reeds op ’n jong ouderdom ’n ondernemingsgees ontwikkel, en op skool sou hy sy tekenprentsketse vir middagetegeld verruil en op hoërskool het hy sakgeld verdien deur vriende te laat betaal om sy Wi-Fi-sein te gebruik. Dit het ’n belangstelling in die sakewêreld aangewakker, wat tot sy diploma in volhoubare ontwikkeling gelei het. “Die kursus het my aangetrek omdat dit modules bevat wat in innoverende ontwerpbeginsels gewortel is, met die doel om studente te help om bedryfsleiers te word.” 

Skweyiya was in sy tweede jaar van sy voorgraadse studies toe die pandemie die wêreld getref het en hy erken hy het gesukkel om koers te hou. Gelukkig het die US se akademiese steundienste ingetree om Skweyiya te help om sy graad te voltooi. Hy het ook baie by die onwrikbare finansiële en emosionele ondersteuning van Maties Sport en Maties Basketbal se bestuur gebaat. “Hulle het verseker dat daar na al my akademiese en verblyfbehoeftes omgesien word. Hulle het baie hard vir die basketbalstudente-atlete geveg, wat ons in ’n baie beter posisie geplaas het as waar ons begin het.” Hy sê hy kon op sy studies fokus met die wete dat sy gelde gedek is. 

Om ’n florerende sportloopbaan en sy studies te balanseer, het hom geleer hoe om te prioritiseer. Dit het hom gehelp om die “irrasionele vertroue” te ontwikkel waarmee hy alle aspekte van sy lewe benader. “Wanneer jy ’n droom het, moet jy vasberade en selfs obsessief wees. As ’n kleiner speler is ek dikwels in die meeste wedstryde die niegunsteling. Om die geraas te kan uitsluit en my wil af te druk met die ingesteldheid dat daar geen teenstander is wat bekwamer en meer bereid is om te wen as ek nie, gee my die selfvertroue om my eie vrees te oorkom.” 

Hy pas baie van die vaardighede wat hy in sport ontwikkel het, toe op sy alledaagse lewe. “Ek probeer om my werk en studies met dieselfde passie, dissipline en respek te benader. Dit help ook wanneer jou studies of werk met jou persoonlike doelwitte ooreenstem.” Skweyiya werk tans in die finansiële bestuursbedryf om sy vaardighede te slyp. “Om ’n professionele atleet én ’n volhoubaarheidspraktisyn te wees, gaan baie harde werk verg, maar eerlikwaar, ek kan nie wag nie.”