Skip to main content
Hierdie artikel is vanaf ons ou webwerf gemigreer en mag dus moontlik nie korrek vertoon nie.
In ‘n Klass van sy eie: Aiden oorkom etlike uitdagings en terugslae

In ‘n Klass van sy eie: Aiden oorkom etlike uitdagings en terugslae

Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
25 Maart 2024

Die eerste wat jou van Aiden Klass opval, is dat hy baie lank is. Die tweede eienskap wat jy opmerk is sy pragtige, diep stem en perfekte uitspraak. Wat jy nie in sy imposante uiterlike kan sien nie, is dat die talentvolle sielkunde- en musiekstudent 'n berg struikelblokke oorkom het om 'n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) te kon behaal.

Van die hantering van ernstige gesiggestremdheid en fisiese uitdagings, tesame met intense sielkundige stressors soos angs en slapeloosheid gedurende sy studiejare, moes Klass ook die verlies van sy ma Kathleen gedurende die Covid-pandemie die hoof bied. Toe hy self Covid opgedoen het en twee maande se klasse in sy tweede jaar misloop, was hy naby aan tou opgooi, erken hy.

Klass en sy ouer broer is albei met okulêre albinisme gebore. Dit is 'n genetiese toestand wat hoofsaaklik die oë beïnvloed. “My oë is onderontwikkeld en sensitief vir lig en ek het verskeie blinde kolle. Hierdie kenmerke hou verband met die toestand nistagmus wat die persoon se oë herhalende, onwillekeurige bewegings laat maak," verduidelik Klass. “Om veral op detailgerigte werk te fokus, verg baie konsentrasie en moeite."

Die intense poging om sy visie te beheer en te reguleer, lei soms tot hoë druk in sy oë wat tot byna ondraaglike migraine lei. Eers nadat Klass hulp deur die US se Eenheid vir Gestremdhede ontvang het, kon hy verligting van hierdie uitmergelende toestand vind.

“Ek is na dr Annamarie Grundlingh, 'n baie wyse en ondersteunende berader, verwys. Voordat ek haar ontmoet het, was ek ongelooflik emosioneel en in groot moeilikheid. Sy het uit haar pad gegaan om my te help en het soveel insig gebied. Ek het deur haar geleer dat my oogtoestand 'n sielkundige komponent het en dat die spanning in my oë met angs verband hou. Om meer te wete te kom oor die snellers vir angs, het my in staat gestel om die fisiese pyn te verminder. Hoe rustiger ek geword het en hoe meer in beheer ek gevoel het, hoe minder het dit 'n invloed gehad. Ek kon doeltreffender werk en funksioneer en saam met ander werk."

Hulp van tegnologie én mense

Grundlingh, 'n kliniese sielkundige en konsultant by die US se Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling, sê sy bewonder Klass vir sy veerkragtigheid en deursettingsvermoë. “Hy was 'n onseker, angstige en sosiaal-uitgesluite jong student wat geleer het om sy teenspoed op 'n opbouende manier te bestuur. Aiden het daarin geslaag om die snellers vir sy angs en gevoelens van waardeloosheid te identifiseer. Hy het in 'n volwasse student ontluik wat sy plek in verskeie omgewings kan volstaan," sê​ Grundlingh.

Afgesien daarvan dat hy by terapie en mentorskap baat gevind het, gee Klass ook erkenning aan die ondersteuning van sy dosente, veral sy stemdosent, Xander Kritzinger. “Ek is so baie aan Kritzinger verskuldig. Hy het baie simpatieke emosionele ondersteuning aan my gebied, veral ná my ma se dood."

Klass is dankbaar vir die talle hulpmiddels wat die Universiteit aan hom gebied het en hom in staat gestel het om sy uitdagings te oorkom. “Ek het op skool gesukkel omdat ek nie toegang tot voldoende bemagtigende tegnologie gehad het nie. By die US se Musiekdepartement is ek met 'n digitale vergrootglas en 'n monitor wat teks vergroot, toegerus. Hulle het ook vir my 'n “Lime Lighter", 'n aangepaste skootrekenaar wat op 'n musiekstaander met 'n beheerder staan sodat ek die musiek digitaal kan vergroot en nie plakkaatgrootte afskrifte van musiek saam met my hoef te dra nie."

Kritzinger het die musiekwinkel Heuer Pianos op Stellenbosch genader om 'n spesiale staander vir Klass se “Lime Lighter" te maak. “Om twee meter lank te wees met swak sig is nie goed vir jou postuur nie, want jy moet buk om die musiek op 'n staander te lees wat te laag is vir jou. Die pasgemaakte staander het beteken dat ek 'n goeie postuur kon behou en normaal kon optree," verduidelik hy.

“Dit was wonderlik om myself deur sang te kon uitdruk. Ek kon my gevoelens wys en myself deur my optrede en my musikale skeppings uitdruk. My konserte was altyd goed omdat my dosente vir my kreatiewe vryheid gegee het."

Die sosiale ondersteuning wat hy van die US ontvang het, het hom meer gehelp as enige medikasie wat hy nog ooit geneem het, beklemtoon Klass. Benewens sielkundige berading en hulp vir sy visuele gestremdheid, het Klass in sy eerste jaar aan die US ook uitgebreide tandheelkundige chirurgie by die Tygerberg-hospitaal ondergaan wat oor etlike pynlike maande gestrek het weens die ontwrigting van die Covid-pandemie.

Hou koers ná Covid

Nadat Klass Covid opgedoen het, het hy baie gewig verloor en geen energie gehad nie. “Dit was baie traumaties, omdat ek boonop terselfdertyd ook my ma se skielike heengaan en finansiële bekommernisse moes hanteer. Wat my fisies deurgehelp het, was asemhalingsoefeninge wat ek as sanger geleer het. In my verswakte toestand kon ek steeds asemhaal weens die spiere en tegnieke wat ek in my vokale klasse by die US ontwikkel het."

Om in te haal ná 'n siekbed van twee maande het 'n tol geëis, sê Klass. “Ek het volstoom gewerk en myself voos gehardloop in die proses. Ek het depressief geraak en is deur paniekaanvalle en nagangs oorweldig. Afgesien van terapie, was die assistent wat die US gedurende hierdie tyd aan my voorsien het, 'n reusehulp om my te help om op koers te bly. Amy Miles het elke week ure saam met my deurgebring, my met praktiese uitdagings gehelp en my deur komplekse akademiese take gelei."

Klass het in sy finale jaar die onderrigverantwoordelikhede van 'n blinde student op hom geneem – 'n ondervinding wat vir hom baie beteken het. Hy het die jaar op 'n hoë noot afgesluit met twee onderskeidings in 'n vak waarmee hy gesukkel het.

Om deur empatiese mense omring te wees, het 'n baie groot verskil gemaak, sê Klass. “Weens van my gestremdheid vind ek dit moeilik om lyftaal en gesigsuitdrukkings te lees. My oplossing is om baie ag te slaan op mense se stemtoon en infleksie, volume en toonhoogte. Baie van my sosiale angs is die afgelope paar jaar opgelos deur myself met mense te omring wat tegemoetkomend en geduldig is.

“Ek sal altyd dankbaar wees vir die strategieë en hanteringsmeganismes wat ek by vriende, kollegas, terapeute en mentors by die US geleer het. Mense soos Amy, Annamarie, Xander en die span by die Eenheid vir Gestremdhede het my aangemoedig om my kop om hoog te hou en aan te hou om my bes te doen."

Ondersteunende familie

Klass beskryf sy broer as sy "beste vriend en grootste ondersteuner". Benjamin het in 2018 'n graad in Agriwetenskappe aan die US behaal en studeer nou vir 'n nagraadse kwalifikasie in die buiteland. “Afgesien van sy gesiggestremdheid, ly hy ook aan Aspergers, maar dit het hom nog nooit ondergekry nie. Ons ervarings stem baie ooreen – hy het sy skoolloopbaan in 'n remediërende skool begin en later na 'n hoofstroomskool oorgeskakel. Hy was ongelooflik aanpasbaar en gretig om te leer."

Die manier waarop hulle ouers hulle in hulle kinderjare ondersteun het, het 'n groot rol in die Klass-seuns se sukses gespeel. “Weens ons sigprobleme het my pa, Leonard, ure lank vir ons gelees toe ons klein was. Ek onthou hoe ek lang en betekenisvolle gesprekke met hom gehad het – van politiek en filosofie tot ekonomiese teorie. My ma was 'n geakkrediteerde drama-onderwyseres, asook 'n professionele animeerder. Ons het deur haar geleer om kuns en opvoerings te waardeer."

Sy Afrikaanse ouma, Helena Clark, is ook een van sy groot inspirasies, voeg Klass by. “Sy was voorheen 'n operasangeres en was tot op universiteit my stemonderwyser. Sy is nou 'n lewendige en opgeruimde 98." Ouma Helena was kiertsregop aan Aiden se sy met sy gradeplegtigheid.

Klass is ook diep dankbaar vir die ondersteuning wat hy gekry het van familie in Amerika en die Joodse Raad van Afgevaardiges.

Hoewel hy nie 'n groot viering vir sy gradedag beplan het nie, was dit vir Klass lekker om weer met sy Stellenbosse vriendekring te kuier. Daar was talle personeel en medestudente wat baie emosioneel was om Klass by die US se gradeplegtigheid op 25 Maart oor die verhoog te sien stap.

“Om te gradueer voel soos 'n wonderlike beloning," sê Klass met 'n groot glimlag. “Die afgelope paar jaar het ek dikwels gevoel ek gaan iewers verlore raak. Om hierdie mylpaal te behaal, is die beste gevoel in die wêreld."

FOTO: Curt Ruiters