Skip to main content
'n Dag in die lewe van: Rubeshan Nayager

'n Dag in die lewe van: Rubeshan Nayager

Elbie Els
10 Mei 2021

​Die duidelike ooreenkomste tussen Rubeshan Nayager se persoonlike waardes en die Universiteit Stellenbosch se doelwitte maak hom uitgeknip vir sy werk as bedryfsbestuurder van die splinternuwe Biobankeenheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI). Toegang tot onderwys van gehalte, geslagsgelykheid, omgewingsbewaring, slim tegnologiegebruik en toeganklike gesondheidsorg is alles vir hom belangrik. Deur hierdie kwessies in sy werk te bevorder, dra hy daagliks tot die Universiteit se missie by.

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Nayager het ons 'n kykie na 'n dag in sy lewe by die Universiteit Stellenbosch (US) gegee.

Wat is jou rol by die US?

Die Biobankeenheid is 'n eenstopbiobewaarplek vir ál die US se biologiese navorsingsmonsters wat ons navorsers gebruik om tot mediese deurbrake by te dra. My werk behels 'n verskeidenheid aspekte om die volhoubaarheid van die Eenheid te verseker. Omdat ons bevoorreg genoeg is om die heel eerste geoutomatiseerde Hamilton BiOS-bewaarstelsel in die suidelike halfrond te hê, behels baie van my werk op die oomblik om mense van ons ultramoderne bewaardiens bewus te maak, en om navorsers hulle monsters van gewone vrieskaste na die BiOS te help oorplaas.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Of ek nou van die huis af of in die kantoor werk, begin 'n tipiese dag met 'n reusebeker swart koffie en 'n vinnige oproep na my ma. Na gelang van die omstandighede en die tyd van die jaar, bestee ek die meeste van my dag daaraan om met kliënte te skakel, voorraad na te spoor, die laboratoriumbestuurder te ondersteun, kliënte te oriënteer, die pryse van dienste te voorsien, en ons begrotings dop te hou.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?

Ek het my eerste voorgraadse kwalifikasie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verwerf, gevolg deur 'n verdere twee voorgraadse kwalifikasies en 'n MBA. Ek het die meeste van my werksondervinding in die uitdagende omgewing van nieregeringsgesondheidsorganisasies en die privaat sektor opgedoen. My kwalifikasies, ervaring en vermoë om goed in spanverband te werk en my beloftes gestand te doen, het my goed te pas gekom. Ek het in September 2019 by die US aangesluit, en is vol vertroue dat my ervaring en die ondersteuning van my span my in hierdie rol sal laat floreer.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

My waardes van toegang tot onderwys van gehalte, geslagsgelykheid, omgewingsbewaring, tegnologiegebruik en toeganklike gesondheidsorg maak dit vir my maklik om by die US aansluiting te vind. Ek voel ek dra daagliks tot die missie van die instelling by. Ek het die voordeel van 'n ervare en gerespekteerde lynbestuurder wat my ondersteun en lei. Boonop bring my werk my in aanraking met ongelooflike mense, wêreldberoemde navorsers, denkleiers, innoveerders en probleemoplossers.

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

Ek het 'n optimistiese uitkyk op die lewe en soek doelbewus na dinge om my te motiveer – klein dingetjies wat my gelukkig maak. Ek doen my bes om elke dag na doelwitte te streef en die klein oorwinnings te vier. Ek is getroud en het twee jong dogters, en put baie motivering uit my gesin. My kinders, soos baie ander, kry dit reg om die ligter kant raak te sien in omstandighede wat volwassenes gewoonlik as ongunstig ervaar. Ek is dankbaar teenoor my dogters, Teyana en Taytum, wat my altyd aanspoor.

Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.

Ek het in my tienerjare begin sigaret rook, al het ek geweet dis 'n ongesonde en duur gewoonte. Toe word ek vroeg in 2017 as die bedryfsbestuurder van die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika aangestel. Voordat ek daar begin werk het, het ek op hulle webblad gesien dat rook die tweede grootste oorsaak van kardiovaskulêre en serebrovaskulêre siekte is. Ek het besef ek kon nie regtig die organisasie se missie en visie bevorder terwyl ek self rook nie, so toe laat staak ek die sigarette in Maart 2017, 'n maand voordat ek diens aanvaar het. En nou vier ek al vier jaar sonder sigarette!​​