Skip to main content
'n Dag in die lewe van: Grant van Velden

'n Dag in die lewe van: Grant van Velden

Elbie Els / Photographer Stefan Els
26 Mei 2021

​Al begin Grant van Velden se dag reeds met hanekraai, maak sy fantastiese span kollegas by Maties Sport dit alles die moeite werd. Hy bestuur sporttegnologie en opleidingsinnovasies by Maties Sport se Hoëprestasie-eenheid (HPE).

In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hul​ rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Van Velden het ons 'n kykie gegee in hoe 'n tipiese dag by die werk vir hom verloop.

Wat is jou rol by die US?

My primêre rol is om te sorg dat Maties Sport se spanne, studente-atlete, sportwetenskaplikes, krag-en-kondisioneringsafrigters sowel as hoofafrigters ondersteun word met verskillende sporttegnologieë, wat datagebaseerde prestasieverbetering moontlik maak. My sekondêre rol is om krag-en-kondisioneringsessies vir twee van ons spanne (Maties Krieket en Maties Swem) sowel as vir twee individuele studente-atlete in spiesgooi en gewigstoot aan te bied. Ek is ook by twee steunprogramme vir afrigters en spankapteins betrokke.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

My tipiese dag begin om 06:00 met 'n oefensessie in die gimnasium saam met een van ons HPE-spanne. Daarna volg ontbyt saam met my HPE-kollegas, en dan ontleed ek die data van die vorige aand en die oggend se oefensessies. Ek bespreek die bevindinge met die afrigters en die geïntegreerde span medici en wetenskaplikes, en die middag se oefensessies word dienooreenkomstig aangepas. Gimsessies met my spiesgooi- en gewigstootatlete vind gedurende die dag plaas. Ek bestee die res van my tyd aan beplanning vir toekomstige kragmetings, en om die sporttegnologie vir die middag se oefensessies voor te berei. Ek bring namiddae op die veld of baan deur, waar ek sporttegnologie help implementeer of 'n kondisioneringsessie lei.

Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei? 

Ek is 'n US-alumnus en het my voor- en nagraadse kwalifikasies in die Departement Sportwetenskap verwerf. Ek het ook werksondervinding opgedoen by Alan Zondagh se Rugbyprestasiesentrum op Riebeek Wes, met mnr Sean Surmon (deesdae HPE-adjunkdirekteur) as mentor. 

Nadat ek in 2010 my magistergraad verwerf het, het my studieleier, wyle prof Liz Bressan, my gewerf om saam met haar te werk by die destydse Sentrum vir Menslike Prestasiewetenskappe (SMPW), een van die uitvloeisels van wyle prof Russel Botman se HOOP Projek. Dít is waar ek die eerste keer aan sporttegnologie blootgestel is, en gesien het watter impak dit op atlete se prestasie kan hê. Na baie gelukkige jare onder prof Bressan se ongelooflike leiding by die SMPW het die Sentrum met Maties Sport saamgesmelt, en is ek in April 2018 in my huidige pos aangestel. 

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek is baie bevoorreg om met 'n fantastiese span hoogs gemotiveerde en deernisvolle individue saam te werk. Dis een van die redes waarom ek elke dag daarna uitsien om werk toe te kom. Ons fenomenale studente-atlete is 'n inspirasie. Ons stel hoë eise aan hulle, sowel op as weg van die veld, en hulle stel nie teleur nie. 

Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?

My grootste motivering is my jong gesin. Ek is gedurende die inperking in 2020 getroud en ons verwag ons eersteling in September vanjaar, so dis oorgenoeg motivering.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet?

Ek geniet dit om tyd in die bos deur te bring, en probeer minstens een keer per jaar op 'n 'boswegbreek' gaan om my batterye te herlaai. Tyd in die natuur is kos vir my siel. Trouens, ek wil graag vir 'n basiese veldgidskursus inskryf om meer oor Suid-Afrika se ongelooflike plante en diere te leer.

Foto: Grant van Velden besig met 'n oefensessie met para-atleet Joshua van Staden (F41), wat by die Wêreldpara-atletiektoernooi 'n silwer medalje vir junior spiesgooi gewen het én die huidige Suid-Afrikaanse gewigstootrekord hou.​