
Medewerking en medeproduksie van kennis op die sakelys vir die besoek van dr Guido Caniglia
01 November 2023
Die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (CST) was bevoorreg om as gasheer op te tree vir dr Guido Caniglia, Direkteur van Wetenskap by die Konrad Lorenz Institute for Evolution and Cognition Research (KLI), met sy hoofkantoor in Klosterneuburg, Oostenryk. Dr Caniglia se besoek was bedoel om toekomstige medewerking tussen die KLI en die SVO te verstewig en te versterk. In die onderstaande vraag-en-antwoordsessie lig dr Caniglia sommige van die brandpunte ten opsigte van volhoubaarheidsuitdagings vir die globale samelewing, die belangrikheid van medewerking, die belangrikheid van die medeproduksie van kennis en die besoek aan Suid-Afrika uit. As Direkteur van Wetenskap by die KLI, wat is, na u mening, die dringendste volhoubaarheidsuitdagings vir die globale gemeenskap?Ek praat uit ʼn bevoorregte posisie as ʼn navorser aan die hoof van ʼn instituut – die KLI, “ʼn tuiste vir teorie wat saak maak” – wat aan teorie en nadenking toegewy is. Uit hierdie posisie dink ek dat ons as ʼn globale navorsingsgemeenskap vir ʼn oomblik moet kan terugtree en vra: Watter soort navorsing doen ons? Watter soort navorsing is dalk die mees geskikte vir die verstaan en oplos [van die probleme] van hierdie wanordelike en komplekse wêreld? Maar ook, watter soort navorsingsinstellings en -organisasies moet ons vestig om dit te ondersteun? Hoe moet ons nadink oor onsself as navorsers en ons verantwoordelikhede ten opsigte van die wanordelike en chaotiese wêreld waarin ons leef? Hoe kan ons vertrouensverhoudings met ander maatskaplike spelers en sektore vestig, om verandering saam teweeg te bring? En laastens, hoe leer ons om die akademiese en maatskaplike norme te oortree wat ons begrip en kapasiteit vir gesamentlike optrede oor verskille heen belemmer? U is tans op besoek aan die Universiteit Stellenbosch en bring ook tyd saam met die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange deur. Wat is die aard van u besoek aan die CST?Die CST is vir my verteenwoordigend van ʼn voorbeeldige gemeenskap van navorsers wat in staat was om gesprekke, medewerking en navorsingstrajekte te vorm, wat kruisende navorsing oor volhoubaarheid en kompleksiteit regoor die wêreld geïnspireer het. Ek volg reeds jare lank die werksaamhede, projekte en mense van ver af. Ek sien daarna uit om nuwe bande met baie van die navorsers by die Sentrum te smee, sommige van my idees te deel en meer oor dié van ander te leer. Ek is seker dit sal ʼn transformerende ervaring vir my en my toekomstige navorsingstrajekte wees. Medewerking en vennootskappe tussen globale navorsingsentrums het baie belangrik geraak. Wil u graag u bande met die CST versterk en verstewig? Indien wel, wat wil u bereik?Die KLI is ʼn instituut wat toegewy is aan interdissiplinêre navorsing oor verskillende vakgebiede heen (van volhoubaarheid tot kognisie en evolusie), maar wat in die besonder fokus op teoretiese en filosofiese werk. Die instituut is ʼn bemagtigende ruimte waar navorsers in die vroeë fase van hulle loopbaan kan waag om idees en medewerkings te ontwikkel wat ʼn verskil in die wetenskap en in die samelewing sal maak. Ek glo dat die KLI en die CST sterk resoneer. Die hoofdoel van my besoek is die aanvoor van nuwe gesprekke en medewerkings tussen die twee gemeenskappe, en die verbeelding en beplanning van moontlike bemagtigende situasies tussen die twee institute wat dit moontlik sal maak vir nuwe medewerkings om na vore te kom en te floreer, sou ʼn groot prestasie wees. U het tydens u besoek aan Suid-Afrika ʼn referaat by die CST-kollokwium gelewer. Kan u dalk enkele insigte uit u aanbieding met ons deel?Ek het gefokus op medewerkende navorsing in die sogenaamde medeproduksie van kennis; dit wil sê, navorsing wat saam met ander spelers, soos verteenwoordigers uit plaaslike gemeenskappe of beleidsvormers, ontwerp en geïmplementeer word. Dit is baie moeilik en veeleisend vir navorsers om hierdie soort navorsing te onderneem. Tydens hierdie prosesse vra ons ons voortdurend af: “Wat behoort ons nou te doen?” Byvoorbeeld: “Hoe kan ek op produktiewe wyse by hierdie konflik ingryp? Hoe kan ek my bevoorregte posisie, en so meer, hanteer?” Dit is etiese, epistemologiese en politieke vrae, en dit is waarom dit so moeilik is om te hanteer. Ek het van my werk aangebied wat ek saam met talle wonderlike kollegas gedoen het om die soort kapasiteite te identifiseer wat ons as navorsers moet aankweek om in staat te wees om hierdie vrae te vra en antwoorde daarop te bied. Ons het van ʼn baie ou idee van Aristoteles (en andere uit veelvuldige tradisies) gebruik gemaak om sin uit hierdie kapasititeite te maak: die idee van praktiese wysheid, wat in antieke Griekeland as die hoofdeug van die politieke en maatskaplike lewe beskou is. Wat wil u graag in u persoonlike hoedanigheid in Suid-Afrika sien, verken en geniet?My eerste duidelike herinneringe aan die wêreldpolitiek van die vroeë 1990’s gaan oor die einde van apartheid in Suid-Afrika. Sedertdien volg ek die politieke en maatskaplike geskiedenis van die land deur die media en deur die stemme van Suid-Afrikaanse vriende en kollegas. Oor die jare heen was Suid-Afrika vir my terselfdertyd ʼn bron van inspirasie en ʼn realiteitskontrole. Ek is nou hier en sien daarna uit om eerstehands te leer oor daardie geskiedenis, die huidige probleme en die toekomstige vooruitsigte van die nasie. Ek hou daarvan om in die stad rond te loop en ek beplan om die kunste- en aktivisme-landskap deur verskeie toere, soos in Woodstock en Soweto, te verken. Maar ek is ook oop vir enige voorstelle van plaaslike inwoners oor waarop om te fokus.