Skip to main content
Maties-wynklub – Van innovasie na sukses!

Maties-wynklub – Van innovasie na sukses!

Darren Maree
28 Junie 2021

Die Maties-wynklub (MWK) het ʼn gewilde virtuele geleentheid op die alumni-kalender geword. Wynproegeleenthede is vir alumni in Duitsland, Benelux, Frankryk, Switserland, Swede en Denemarke gehou. Darren Maree, ons wynkoördineerder vertel ons meer.

Die presiese ontstaan van die lekkerte van gefermenteerde druiwesap as wyn is al deur vele betwis en bespreek, maar ek sou ʼn ordentlike bottel wyn daarvoor op die spel plaas dat ons wynvoorvaders hulle nooit ʼn tyd sou kon voorstel waar vriende – kontinente en duisende kilometers uitmekaar – bymekaar kon kom, hulle stories kon deel en van die heerlikste wyn proe nie.

Gelukkig kan ons die oorsprong van die Maties-wynklub terug herlei na ʼn jaar waarin nood werklik leer bid het. Idees is saamgegooi en aangesien ek informeel bekend staan as “Die Wyn ou", het ek ʼn wyngeïnspireerde platform vir betrokkenheid met ons alumni in Europa voorgestel. Die MWK is ʼn interaktiewe platform waar ons verskeie wynmakers en landgoedeienaars vanuit die gevarieerde wynproduserende streke van Suid-Afrika kan betrek.

Die verbintenis tussen die Universiteit Stellenbosch en die wynbedryf gaan meer as 100 jaar terug. Ons het, as deel van die Fakulteit AgriWetenskappe, ʼn Departement van Wingerdbou en Enologie wat nie net baie wynmakers voortgebring het nie, maar wat ook bydra tot navorsing en innovasie in die sektor.

Die uitwerking van die COVID-19-pandemie het die wynbedryf ʼn geweldige knou toegedien en baie mense se werk en bestaan bedreig. Baie van ons alumni is wynmakers of rolspelers in die wynbedryf en ons ander alumni, plaaslik en oorsee, het verwys na hoeveel wyn ʼn deel van hulle tyd aan die Universiteit Stellenbosch was – hulle het op wynplase gewerk of wynproegeleenthede, middagetes, aandetes of danse op wynplase bygewoon of hulle was lede van die US Wynvereniging. Die MWK is ons manier om mede-Maties aan te moedig en aan hulle ons steun toe te sê.

Met die aanbiedings van ikoniese landgoedere, soos Beyerskloof, Babylonstoren, La Motte en Waterford, het hulle ook groot belang daarin getoon om die topgehalte wyne wat deur Alumni-wynmakers geskep is, op die proef te stel. Met herinneringe aan wynoomblikke tydens ons studentejare, kan ons sê “Gesondheid" op al die wonderlike wynproegeleenthede en deel van spesiale Stellenbosch-herinneringe wat nog voorlê. Die lewe is voorwaar ʼn fees en word ten beste geniet met ʼn glasie goeie wyn.

Gesondheid oral oor:

  • Nogmaals baie dankie vir die ongelooflike en uiters genotvolle aand verlede Vrydag!
  • Dankie dat julle hierdie heerlike pretgeleentheid gereël het! Wat ʼn wonderlike idee! Ons het dit verskriklik baie geniet en sien klaar uit na die volgende wynproe.
  • Ongelooflik! Sien uit daarna:) Dankie vir die organisasie!!
  • Dankie dat julle altyd met ons Alumni in verbinding bly en geleenthede skep om saam te kom; Ek waardeer dit baie. Ek was hierdie keer veral mal oor die idee van wynpakkette/proe/skenkings.
  • Ek volg net graag op oor die wynproe van Vrydag om julle te laat weet dat ek en my metgesel dit vreeslik geniet het. Dit was ʼn pret aktiwiteit en so ʼn welkome verandering tydens hierdie eentonige weke van inperking (en die gelukkige trekking was eenvoudig die kersie op die koek!). Ons sou graag maandeliks aan soortgelyke geleenthede deelneem indien ons die kans gebied word.

Dankie aan ons vennoot, Capreo, vir die voorsiening van logistiese steun en hul bydrae tot die US-Beursfonds. Alle wyne wat by die geleenthede uitgestal word, kan aanlyn by capreo.com aangekoop word.