
Koste van GGG in SA onder die soeklig
Geslagsgebaseerde geweld (GGG) in Suid-Afrika kos die land tussen R28 en R42 miljard. Dit sluit die kostes van hospitalisasie, interdikte, sielkundige dienste en regshulp vir vroue wat deur GGG geraak word, in.
Hierdie harde werklikheid was een van die vele onderwerpe onder bespreking gedurende 'n gespreksreeks wat deel was van die jaarlikse Toyota US Woordfees wat verlede week op Stellenbosch gehou is. Die gespreksreeks het aan denkleiers van die Universiteit Stellenbosch (US) 'n platform gebied om saam met kundiges op verskeie gebiede aan aktuele besprekings deel te neem.
Geslagsgebaseerde geweld
Prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChI-leerstoel in genderpolitiek in die Departement Politieke Wetenskap aan die US, en Lisa Vetten, 'n navorser en Mellon doktorale genoot aan die Universiteit van die Witwatersrand, het in hul gesprek 'n onlangse verslag van die ouditeursfirma KPMG ontleed. Die verslag het die koste van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika onthul.
Volgens Vetten het die koste nie net 'n monetêre waarde nie. Daar is ook die onsigbare kostes van die uitwerking van trauma op vroue en op die samelewing en die onherstelbare verlies aan geloof in die staat.
“Ons moet ook die fisieke en verstandelike koste vir vroue wat deur geslagsgebaseerde geweld geraak word, in ag neem. Ongelukkig is die inhegtenisnemings- en vervolgingskoers van die skuldiges in Suid-Afrika laag, wat weer 'n uitwerking op slagoffers en diegene wat glo dat dit nie die moeite werd is om na vore te kom met klagtes nie, het," het Vetten gesê.
Sy glo ook die invloed van sosiale media het gesorg dat sekere GGG-gevalle meer blootstelling kry as ander, met die gevolg dat baie gevalle nooit die aandag wat hulle verdien van owerhede en die groter Suid-Afrikaanse publiek ontvang het nie.
Volgens Gouws het sy in haar navorsingswerk by die departement Politieke Wetenskap bevind dat Suid-Afrika onder talle burokratiese en beleidskwessies gebuk gaan wat 'n invloed op GGG-sake het.
“Dit is belangrik dat die publiek en die owerhede nie net op hoëprofielsake fokus nie, maar dat elke vrou se geval dieselfde aandag kry. Soms kry arm vroue se sake nie dieselfde aandag nie, maar alle lewens maak saak – ook die lewens van arm vroue," het Gouws gesê.
Vetten het verder gesê ander vorme van geweld en misdaad in die land kan ook 'n direkte invloed op die toename van GGG-gevalle hê.
“Ons moet aandag gee aan alle soorte geweld en hoe dit met geslagsgebaseerde geweld verband hou. Ons moet ook kyk of gevangenes se rehabilitasieprogram werklik doeltreffend is. Somtyds gaan nie dit nie net oor die gewelddadige misdaad wat gepleeg word nie, maar die geestestoestand van diegene wat dit pleeg wat in oënskou geneem moet word indien ons regtig die probleem van geslagsgebaseerde geweld in die land wil oplos.
Werkloosheid onder die jeug
'n Bespreking oor werkloosheid onder die jeug, wat deur dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie by die US, gelei is, het die soeklik geplaas op die talle uitdagings wat die jeug van Suid-Afrika in die gesig staar wanneer hulle werk soek ná matriek of ná voltooiing van hul tersiêre opleiding.
Rulof P Burger, 'n dosent en navorser van die departement Ekonomie aan die US, asook Kim Smith, uitvoerende ondersteunings- en projekbestuurder by die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, en Evan Jones, die groep-strategiese direkteur by Harambee Youth Employment Accelrator, het saam met Van Rooi aan die bespreking deelgeneem.
Volgens Smith is dit belangrik dat die publiek en die private sektor saamwerk om die kwessie van werkloosheid op te los. “Die openbare sektor word soms beperk in innovasie en skeppende maniere om met werksgeleenthede vir jongmense vorendag te kom, aangesien dit ons verantwoordelikheid is om nie openbare fondse te vermors nie. Waar die openbare sektor egter te kort skiet, kan die private sektor so baie doen om werkloosheid te help bekamp."
Volgens Burger het dit nou nóg belangriker as ooit tevore geword om jongmense te help om werk te kry. “Jongmense ondervind talle kwessies as dit kom by werk soek. Die arbeidsmark het verander en dit is nie meer genoeg om net 'n matrieksertifikaat te hê nie."
Boeke as terapie
Prof Julia Claassens van die US se Fakulteit Teologie, het met dr Nadia Sanger van die departement Engels by die US oor die terapeutiese rol van boeke gesels.
Hulle het in hul bespreking besin oor die rol van trauma-literatuur in die klaskamer en oor die boeke wat mense lees wat hulle aan nuwe wêrelde blootstel. Hulle het ook die rol wat boeke speel om lesers bewus te maak van sistemiese seksisme, rassisme, armoede en homofobie, en hoe boeke mense kan help om anders te dink en te leef, bespreek.
“Ek het nog altyd iets in boeke gevind om my deur traumatiese ondervindings te help. Daar is krag in die manier hoe fiksie trauma by die naam kan noem en dit kan hanteer – iets wat nie-fiksie nie kan doen nie," het Sanger gesê.
Sanger glo ook dit is belangrik vir studente en mense oor die algemeen om wyd oor verskeie onderwerpe en oor verskillende genres heen te lees, sodat hulle die verskille in mense wat nie noodwendig deel van hul daaglikse vriendekring of naastes is nie, kan verstaan.