Skip to main content
In a ceremony rich in symbolism, solemnity and celebration, Stellenbosch University (SU) formally installed Prof Deresh Ramjugernath as its 13th Rector and Vice-Chancellor on Wednesday, 1 October 2025, at the Endler Hall in Stellenbosch.
Image by: Stefan Els

Die Universiteit Stellenbosch (US) se 13de Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, is Woensdag 1 Oktober 2025 by 'n plegtigheid ryk aan simboliek, statigheid en viering formeel in die Endlersaal op Stellenbosch ingehuldig.

Gebeure

Inhuldiging lei nuwe era van transformasie en uitnemendheid by US in

Hannelie Booyens
Corporate Communication
01 Oktober 2025
  • Prof Deresh Ramjugernath formeel as 13de Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch ingehuldig
  • Intreerede bied sterk visie vir holistiese transformasie en Afrika-gesentreerde akademiese uitnemendheid
  • Plegtigheid meng statige tradisie met musikale viering en opregte huldeblyke

Die Universiteit Stellenbosch (US) se 13de Rektor en Visekanselier, prof Deresh Ramjugernath, is Woensdag 1 Oktober 2025 by 'n plegtigheid ryk aan simboliek, statigheid en viering formeel in die Endlersaal op Stellenbosch ingehuldig.

Die formele inhuldiging, wat deur hooggeplaastes van regoor die hoëronderwyslandskap, die regering en die burgerlike samelewing bygewoon is, was nie net 'n seremoniële bevestiging van Ramjugernath – wat in April amptelik sy amp aanvaar het – se rol nie, maar ook 'n openbare verklaring van sy visie en rentmeesterskap vir die Universiteit se toekoms.

Te midde van die plegtige prosessie van akademiese drag, aangrypende koor- en solo-optredes deur US-musikante en boodskappe van ondersteuning van regoor die Universiteitsgemeenskap, was dit die nuwe Rektor se intreerede wat die toon aangegee het vir wat beloof om 'n dinamiese era van transformerende leierskap by een van Afrika se oudste en mees gesogte universiteite te wees.

'n Visie gevestig in uitnemendheid en diens 

Ramjugernath het met nederigheid, gravitas en soms met humor gepraat en begin deur die gewig van die geskiedenis en die geslag van leiers wat hom voorafgegaan het, te erken.

"Dit is met die grootste nederigheid en 'n diepgaande verantwoordelikheidsin dat ek vandag as die 13de Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch voor julle staan," het hy gesê. "Hierdie instelling is met 'n lang lys formidabele leiers geseën. Hulle rentmeesterskap het ons tot by hierdie oomblik gebring. Ek eer hulle, en ek neem hierdie amp vandag vorentoe met die wete dat ek ook slegs 'n rentmeester is aan wie daar vir 'n tyd lank die verantwoordelikheid toevertrou is om nuwe en betekenisvolle paaie na 'n beter toekoms vir almal by ons instelling te vestig." 

Hy het die Raad bedank vir die feit dat hulle die leierskap van die US aan hom toevertrou het in "'n era van toenemende wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en dubbelsinnigheid" en het hulde gebring aan kollegas, mentors en sy familie. Ramjugernath het bewoë geraak toe hy hulde aan sy ma, wat tans baie siek is, gebring het en het erkenning aan haar gegee as die dryfkrag in sy akademiese reis en as die bron van sy vroegste aanmoediging.

Hy het ook sy vrou, Prathieka, en hulle drie dogters, Dipika, Dayita en Demira, uitgesonder vir hulle onwrikbare ondersteuning. "Julle is my anker en my inspirasie," het hy gesê en met 'n glimlag bygevoeg dat die gesin se twee honde, Buddy en Pal, ook hulle rol gespeel het. Onder toejuiging het hy opgemerk dat die gesin dalk 'n derde hondjie kan aanneem wat hulle ongetwyfeld "Matie" sal doop. 

Ramjugernath het in 'n omvattende en gedetailleerde visie agt strategiese pilare uiteengesit om die Universiteit Stellenbosch te lei om Afrika se voorste navorsingsintensiewe instelling te word. Dit sluit holistiese transformasie, digitale en administratiewe modernisering, internasionalisering, leer- en onderriguitnemendheid, personeel- en studentewelstand en sosio-ekonomiese impak deur betrokke vakkundigheid in.

Maar hy het vinnig bygevoeg dat sukses nie net deur ranglyste gemeet sal word nie. "Gaan ek my ampstermyn spandeer om ranglyste na te jaag? Beslis nie," het hy verklaar. "Ons sal meedoënloos wees in ons strewe na akademiese en navorsingsuitnemendheid gelei deur die uitdagings van ons tyd. Ons stukrag sal egter kom van ons impak en ingebedheid in die uitdagings van ons omliggende gemeenskappe, in ons streek en ons vasteland kom."

Hy het die onlangse deurbrake deur die US se Biomediese Navorsingsinstituut en die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie beklemtoon en opgemerk dat die Universiteit se wetenskaplikes van Suid-Afrika se dringendste gesondheidsuitdagings, insluitende TB, MIV en nie-oordraagbare siektes, aanspreek.

Nader aan die huis hy na die US se ekonomiese bydrae van R4,5 miljard tot die plaaslike Stellenbosse ekonomie in 2024 en sy rol in streeksinnovasiesentrums soos die Adam Tas-korridor verwys.

Hy het egter die grootste klem op holistiese transformasie geplaas. Hy het 'n beroep om "outentieke restitusie" en doelbewuste regstelling gedoen en gesê: "Om sy visie te verwesenlik, moet die Universiteit meer doelbewus in sy optrede wees ... Dit moet sy geskiedenis noukeuriger ondersoek en verstaan en ons proses van introspeksie, wat strek van institusionele kultuur tot die kernfunksies van ons Universiteit, verskerp." 

Transformasie, het hy aangevoer, moet elke faset van die instelling bereik: van navorsing en studentesukses tot menslike hulpbronbeleide en infrastruktuur. "Ons moet as 'n instelling holisties transformeer ... Holistiese transformasie sal vereis dat ons planne ontwikkel en in werking stel om ons navorsing, leer en onderrig, administrasie, betrokkenheid van belanghebbendes te ontwikkel en te verbeter ... Dit raak alle aspekte van ons organisasie."

Ondersteuning van regoor die hoëronderwyslandskap

Die US se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman, het die verrigtinge met 'n besinning oor leierskap as rentmeesterskap geopen. "Ons het ons by die Universiteit Stellenbosch tot 'n humaniserende kultuur verbind," het hy gesê. "Dit beteken om geleenthede vir studente te skep om te floreer, personeel om te floreer en die samelewing om voordeel te trek uit die kennis wat ons soek."

Die voorsitter van die US Raad, dr Nicky Newton-King, het die gaste verwelkom deur hulle daaraan te herinner dat 2025 reeds 'n belangrike jaar vir die Universiteit was ná die inhuldiging van Kanselier Lesetja Kganyago vroeër vanjaar. "Vandag kom ons bymekaar vir nog 'n bepalende oomblik," het sy gesê. "Die leierskap van 'n instelling van hierdie omvang is nie vir kleinmoediges nie ... Die Raad staan stewig langs jou as Rektor. Ons sal jou ondersteun, aanmoedig en bemoedig."

Prof Sam Tshehla, waarnemende Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, het 'n boodskap van gelukwense van die Adjunkminister van Hoër Onderwys, dr Mimmy Gondwe, self 'n US-alumna, voorgelees: "Jou aanstelling is 'n bewys van jou vakkundige onderskeiding, jou bewese leierskap in die akademie en jou standvastige verbintenis tot transformasie en inklusiewe uitnemendheid."

Gondwe het bygevoeg die US is onder Ramjugernath se leierskap gereed om "'n sleutelvennoot in die vorming van navorsing, maatskaplike geregtigheid en die toekoms van ons land" te bly.

Universiteitsstemme beklemtoon geloof en vertroue in leierskap

Verteenwoordigers van die Universiteitsgemeenskap het in hulle boodskappe van gelukwensing met trots en hoop vir die toekoms gepraat. Sonja Roux, wat die Visekanselierskring verteenwoordig, het Ramjugernath se "kalm wysheid" en akademiese leierskap geloof en 'n beroep op ondersteuning vir sy visie van 'n diverse en inklusiewe universiteit gedoen, terwyl sy die gehoor daaraan herinner het dat integriteit, empatie en veerkragtigheid die hoekstene van sukses bly.

Prof Juanita Pienaar, wat namens die Senaat gepraat het, het oor drie dekades van verandering aan die US besin en op die ontwikkeling daarvan tot 'n meer inklusiewe en internasionaal-gekoppelde instelling gewys. Sy het 'n beroep op die nuwe Rektor gedoen om 'n nalatenskap van akademiese uitnemendheid en tuishoort te bou. Dr Theo de Jager, President van die Konvokasie, het beklemtoon dat hoewel alumni eienaarskap voel, die ware "aandeelhouers" van die US sy studente en toekomstige geslagte is. Hy het Ramjugernath aangemoedig om die instelling met vaste beginsels te stuur en gesê selfs klein daaglikse besluite kan sy lot vorm. "Ons vertrou hierdie skip aan u sorg toe, en ons vertrou ons kinders en ons toekoms in daardie sorg," het hy gesê.

Musiek, betekenis en die gees van 'n gemeenskap 

Die geleentheid was tegelyk plegtig en feestelik. Athule Tshiwula, 'n student van die US se Departement Musiek, het die gehoor ontroer met 'n vertolking van "Asimbonanga", terwyl die US-koor se uitvoering van Joni Mitchell se "Both Sides Now" onder leiding van Jaylin Cupido hoendervleis gegee het. Die koor se weergawe van "Rainmaker" deur Hans Zimmer het ook dawerende applous ontlok. 

Sashon Johnson se aangrypende interpretasie van "You Raise Me Up" is gevolg deur die nasionale lied wat deur die hele gehoor gesing is. Die musikale intermezzo's het die tema van eenheid, hoop en transformasie wat soos 'n goue draad deur die program verweef was, weerspieël.

Toe die akademiese prosessie die Endlersaal onder die triomfantlike klanke van die US-koperblaasensemble verlaat het, gevolg deur 'n vrolike optog na Coetzenburg onder leiding van die VGK Cloetesville-brigade, was dit duidelik dat die dag nie net die viering van 'n mylpaal in die US se geskiedenis was nie, maar die begin van 'n nuwe hoofstuk.

Ramjugernath het ter afsluiting van sy toespraak 'n beroep op die Universiteitsgemeenskap gedoen om saam in eenheid en moed vorentoe te stap. Hy het die einde van Alfred Tennyson se beroemde gedig "Ulysses" aangepas en met die volgende afgesluit: "Kom my vriende, dit is nie te laat om 'n nuwer wêreld te soek nie ... laat ons daarna strewe om te soek, te vind en nie op te gee in ons wetenskaplike soeke om 'n beter wêreld te lewer."

Merkers

Rektoraat

Verwante stories