
Dr Robert Adam ontvang US-eregraad vir bevordering van wetenskap en tegnologie
Dr Robert Adam het ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van die wetenskap en tegnologie in Suid-Afrika. Die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc), honoris causa, is Woensdag (13 Desember 2023) by die gradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Natuurwetenskappe aan hom toegeken.
Adam is vereer vir sy voortreflike lewenslange bydrae tot die wetenskap en tegnologie in Suid-Afrika en tot die vakrigtings Astronomie en Fisika, sy toegewyde bevordering van wetenskaplike kennis deur sy akademiese werk, en sy onwrikbare verbintenis tot die vooruitgang van die samelewing.
Adam het sy aanvaardingstoespraak 'n paar waardevolle lesse met die graduandi gedeel. Hy het gesê in 'n universiteitsomgewing is dit baie belangrik om intelligent en welsprekend te wees. Om as sodanig erken te word, is selfs belangriker. “Dit is van kritieke belang dat jou eweknieë weet waar jy staan oor die sleutelkwessies en in ernstige debatte."
Hy het bygevoeg dat om strategies in die korporatiewe wêreld en in die regering te vorder, 'n mens nie jou hand moet wys tensy dit regtig nodig is nie. Adam het die graduandi aangemoedig om dinge gedoen te kry wanneer hulle die arbeidsmark betree.
Meer oor Adam
Dr Robert Adam is 'n kernrolspeler in die ontwikkeling van die wetenskap en tegnologie in Suid-Afrika.
Hy het vir bykans drie dekades in 'n aantal hoedanighede in die sektor gedien en beleide help ontwikkel wat die Suid-Afrikaanse regering se visie vir wetenskap en tegnologie rig. Hy was onder meer adjunkdirekteur-generaal van Wetenskap en Tegnologie (1996), direkteur-generaal van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (1999), uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Kernenergiekorporasie (2006), direkteur van die SKA (Square Kilometre Array) Suid-Afrika (2016), en direkteur van die Suid-Afrikaanse Radioastronomiesterrewag (2022).
Sy strategiese vernuf het bygedra tot Suid-Afrika se suksesvolle bod vir die SKA-sterrewag. Boonop het hy meegewerk aan die voltooiing van die MeerKAT-radioteleskoop, 'n wetenskaplike instrument van wêreldgehalte.
Adam, wat deesdae as 'n strategie- en tegnologiekonsultant werk, het ook 'n aansienlike impak op die terrein van astrofisika gehad as lid van die span wat baanbrekerwaarnemings van die Melkwegkern gemaak het. Prestigeryke nasionale en internasionale organisasies het hom al vir sy merkwaardige bydrae tot die wetenskap en tegnologie vereer.
- Foto: Dr Robert Adam by die gradeplegtigheid: Fotograaf: Stefan Els