Skip to main content
Dr Daniella Moore on graduation day.
Image by: Henk Oets
Persverklaring

Dr Daniella Moore eer haar pa se nalatenskap met wiskunde prestasie

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
30 Maart 2026
  • Daniella Moore het onlangs met 'n PhD in Wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer.
  • Kort voordat sy haar doktorsgraad voltooi het, moes sy haar pa skielik aan die dood afstaan – 'n gebeurtenis wat amper haar reis ontspoor het.
  • Sy het uiteindelik haar PhD ter nagedagtenis aan hom voltooi om die geloof wat hy altyd in haar gehad het te eer.

Vir dr Daniella Moore het die pylvak van haar PhD in wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) iets geword wat sy nie kon voorsien nie. Die ervaring het nie net haar intellektuele uithouvermoë getoets nie, maar ook haar emosionele krag.

Terwyl sy besig was met die laaste fase van haar doktorsgraad, is haar pa, Stephen, skielik aan 'n aneurisme oorlede. Die verlies was verwoestend. 

"Om my pa te verloor het my baie alleen en hulpeloos laat voel," sê Moore. "In daardie stadium het die gedagte om die laaste deel van my PhD klaar te maak, onmoontlik gevoel."

Tog was dit juis hierdie oomblik toe dit gevoel het asof alles begin ontrafel, wat haar storie gedefinieer het. 

'n Grondslag gebou op nuuskierigheid 

Moore het in Houtbaai in Kaapstad grootgeword, en haar vroeë jare is gevorm deur 'n hegte gesin en 'n stille nuuskierigheid oor hoe dinge werk.

Haar pa was 'n sagteware-ontwikkelaar en het 'n sentrale rol in die koestering van daardie weetgierigheid gespeel. "Hy het daarvan gehou om dinge saam met my as kind te bou," onthou sy. "Dit het my belangstelling in die wetenskap aangewakker."

Wiskunde het van kleins af vir haar natuurlik gevoel. Sy onthou sy het die vak al van graad 1 af geniet en is deur 'n onderwyser aangemoedig wat haar geesdrif raakgesien en by haar selfvertroue gekweek het. 

Daardie vroeë verwondering het nooit vervaag nie. Namate sy deur haar skoolloopbaan gevorder het – eers by Herzlia Constantia en later by Cedar House – het wiskunde 'n konstante faktor in haar lewe gebly. 

"Ek het altyd geweet ek wil in die wiskunde studeer," sê sy. Die vak wat as ‘n lekker uitdaging begin het, het geleidelik 'n roeping geword. 

Moore se akademiese reis het stap vir stap ontvou. Elke graad het natuurlikerwys na die volgende gelei, aangevuur deur 'n opregte liefde vir die vak eerder as 'n vaste plan. "Elke keer wanneer ek 'n graad voltooi het, wou ek net aanhou studeer omdat ek dit so geniet het," sê sy met 'n glimlag.

Haar doktorale navorsing het op abstrakte algebra en spesifiek op wiskundige strukture bekend as naby-vektorruimtes – 'n veralgemening van vektorruimtes – gefokus. Dit is 'n vakgebied wat geduld, presisie en volgehoue konsentrasie vereis. Teen die tyd dat sy die finale fase van haar PhD betree het, was Moore goed vertroud met komplekse teoretiese beginsels.

Toe verander alles skielik. 

Verlies, verdriet en volharding

Haar pa se onverwagte heengaan en die verlies wat sy ervaar het, het haar vordering tot stilstand geruk. "Ek het gevoel ek wil opgee, al was ek so naby aan die eindstreep," sê sy. 

In die maande daarna het dit vir haar amper onmoontlik gevoel om haar PhD te voltooi. Verdriet het haar daaglikse lewe oorskadu, selfs klein take het oorweldigend gevoel. Wat haar gedra het, was die herinnering aan haar pa en die wete wat hy vir haar sou wou hê. "My pa was 'n saggeaarde en sagmoedige siel. Hy het altyd in my geglo en was so trots op my."

Daardie geloof in haar het 'n bron van krag geword. "Ek het myself aanhoudend daaraan herinner dat hy sou wou hê ek moet my graad voltooi." 

Geleidelik het sy 'n pad vorentoe gevind. "Ek het vir myself gesê al is my pa nie meer fisies hier nie, hy waak steeds oor my en sal altyd trots wees op my."

'n Gemeenskap van ondersteuning 

Moore het hierdie pad nie alleen gestap nie. Sy is in die moeilikste tydperk van haar studie deur familie, vriende en mentors ondersteun wat haar gehelp het om die emosionele én praktiese uitdagings wat sy in die gesig gestaar het, te oorkom.

Haar ma, Sharon, haar broers, haar lewensmaat, Rysiu Moscicki, en goeie vriende het 'n netwerk van sorg rondom haar gevorm. "Hulle het my ondersteun met bemoedigende woorde en selfs met alledaagse take gehelp soos kosmaak, skoonmaak of om my hond te vat vir ‘n stappie, gehelp," sê sy. 

Haar akademiese toesighouers, prof Sophie Marques en prof Zurab Janelidze, het ook baie begrip getoon.

Volgens Moore het sy lesse by die US geleer wat veel verder as wiskunde strek. "Die Universiteit het my geleer hoe om moeilike akademiese én persoonlike situasies te hanteer. Ek het geleer hoe om te volhard, positief te bly en te vertrou dat alles sal uitwerk." 

Een van haar kosbaarste herinneringe aan haar studentelewe is 'n spesiale oomblik gedurende haar eerste week op kampus – om op die Rooiplein te sit en 'n medestudent, Emma Theart, te ontmoet, wat een van haar naaste vriende sou word en ook nou met 'n PhD in wiskunde gegradueer het. 

Moore gaan binnekort 'n nuwe hoofstuk betree. Hoewel sy aanvanklik beplan het om 'n loopbaan in die akademie te volg, het sy nou besluit om eerder na die tegnologiesektor oor te skuif. "Ek wil programmeringskursusse doen en by die tegnologiebedryf betrokke raak," verduidelik sy. 

Haar gradeplegtigheid was 'n stemmige viering wat sy met haar ma, broer en naaste vriende gedeel het. Dit was ook 'n oomblik van besinning. 

Vir Moore is die bemeestering van 'n uitdagende PhD 'n huldeblyk aan die man wat haar weetgierigheid eerste geprikkel het, wat sonder huiwering in haar geglo het, en wie se teenwoordigheid haar selfs in sy afwesigheid steeds lei. 

Verwante stories