Skip to main content
Dr Thembani Dube, a lecturer in the Department of History at SU, capped her sister, Sukoluhle Linda Duba, a junior lecturer at the Department of Economics, on graduation day.
Image by: Henk Oets

Dr Thembani Dube, 'n dosent in die Departement Geskiedenis aan die US, het haar suster, Sukoluhle Linda Duba, 'n junior dosent in die Departement Ekonomie, se graad aan haar toegeken.

Persverklaring

Linda Dube hou aan speel deur verlies om haar meestersgraad te verwerf

Hannelie Booyens
Senior Writer, Corporate Communications and Marketing
27 Maart 2026
  • Sukoluhle Linda Dube, oorspronklik van Zimbabwe, het met 'n meestersgraad in ekonomie gegradueer.
  • Sy het haar studie voltooi terwyl sy haar ma aan kanker verloor het, en het die nuus gedurende 'n sokkertoernooi in Kimberley ontvang.
  • Danksy die ondersteuning van haar suster, ook 'n dosent by die US, kollegas en spanmaats, beplan sy nou om 'n PhD en 'n toekoms in die akademie te volg.

Sukoluhle Linda Dube het in die vroeë oggendure van 4 Desember 2024 in die middel van 'n sokkertoernooi in Kimberley waar sy die Universiteit Stellenbosch (US) verteenwoordig het en ver van die huis af was, die oproep ontvang wat sy gevrees het. Haar ma Qedisani is oorlede. 

Dube het nie die toernooi verlaat nie. Hoewel haar hart baie swaar was, het sy aangebly en gespeel. "Ek was in skok. Ek kon nie huil nie," onthou sy. "My spanmaats en afrigters het die wonderlikste ondersteuningsnetwerk rondom my gevorm. Dit was so roerend. Ek sal dit nooit vergeet nie." 

Vandeesweek het Dube – nou 'n junior dosent by die Departement Ekonomie, die gradeplegtigheidsverhoog oorgesteek om haar meestersgraad in die ekonomie te ontvang wat sy gedurende die traumatiesste tyd van haar lewe voltooi het. 

Vir haar gradeplegtigheidspartytjie by die Maties-sokkerklubhuis het sy al die mense genooi wat haar deur die donker dae gedra het – haar familie, kollegas en die spanmaats wat daar was toe sy ondersteuning die nodigste gehad het. 

Van plattelandse begin tot Stellenbosch 

Dube het in die dorpie Osabeni in Plumtree, 'n afgeleë deel van Zimbabwe waar basiese infrastruktuur skaars is, grootgeword. "Ons kom van 'n dorpie waar daar geen elektrisiteit, geen water is nie," vertel sy. "My ma kon nie werk kry nie, so dit was 'n stryd om deur te kom." 

Sy was net twee jaar oud toe haar pa is oorlede toe is, en haar ma moes die gesin alleen versorg. "Later het my broer en suster haar gehelp deur geld te stuur vir kruideniersware en alles wat ons by die huis nodig gehad het." 

Dit was Dubé se suster, dr Thembani Dube, 'n dosent in die Departement Geskiedenis aan die US, wat later vir haar die deur na hoër onderwys sou oopmaak. "Daar was geen manier dat ek dit kon bekostig om universiteit toe te gaan nie," verduidelik Dube. "Maar omdat my suster 'n permanente pos aan die Universiteit Stellenbosch gehad het, kon ek hier kom studeer danksy die korting wat sy ontvang het." 

Terwyl sy saam met haar suster eers in Klapmuts en later in Durbanville gewoon het, het Dube haar akademiese pad deur voorgraadse en honneursstudie opgebou voordat sy haar meestersgraad met die hulp van 'n beurs aangepak het. "Ek dink ons is albei hier omdat dit deel van God se plan was," sê sy oor haar en haar sus se parallelle reise. 

'n Jaar gedefinieer deur verlies 

Selfs nog voordat sy met haar meestersgraad in 2024 begin het, het Dube se gesin toenemende onsekerheid in die gesig gestaar. Haar ma is 'n paar maande tevore met kanker gediagnoseer, maar die omvang van die siekte het eers later duidelik geword. In September, nadat haar ma na Suid-Afrika gekom het vir 'n tweede opinie, het dokters die tragiese nuus oorgedra: Die kanker het stadium vier bereik en het deur haar hele liggaam versprei. "Ons was verpletter; dit was so moeilik om haar so swak en in pyn te sien," sê Dube.  

Terselfdertyd het akademiese druk toegeneem. Eksamens het nader gekom, en Dube moes 'n amper onmoontlike balans tussen verdriet en prestasie vind. "Ek het met 'n groot las op my skouers eksamen geskryf. Ek weet nie hoe ek dit reggekry het nie." 

Sedert haar eerste jaar as 'n Matie het sokker vir haar 'n toevlugsoord geword. As sentrale verdediger vir die Maties Vroue-sokkerspan het Dube lankal vertroosting op die sokkerveld gevind. "Sokker is my gelukkige plek. Ek het uitgesien na Donderdae wanneer ons oefen. Die oefening en die goeie geselskap het my ‘n hupstoot gegee. Dit het 'n bron van energie en sin geword."

In Desember 2024 is dié toevlugsoord deeglik getoets gedurende die Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) se sokkerkampioenskapsbyeenkoms in Kimberley. Terwyl sy gespeel het, het haar ma se toestand vinnig versleg. Toe die oproep kom, het haar spanmaats en afrigters om haar saamgestaan. "Almal het gehuil en my bygestaan," sê sy. "Hulle het my steunpilare geword." 

Die dae ná haar ma se dood het in 'n waas verloop. Sy was deur oorweldig deur smart, maar kon nie huil nie. Eers by die begrafnis in Zimbabwe op 14 Desember het die gewig van die verlies haar getref. "Die impak van die finale afskeid my uiteindelik by die begraafplaas getref. Ek het daar onophoudelik begin huil."

Om krag in gemeenskap te vind 

Dube het ondanks die emosionele tol haar meestersgraad voltooi terwyl sy deur 'n netwerk van mense ondersteun is wat haar gehelp het om deur dit alles te kom. Haar toesighouer, dr Calumet Links, het 'n deurslaggewende rol gespeel. "Hy was so ondersteunend toe my ma siek geword het," sê sy. "Hy het my aangemoedig om deur te druk met my meestersgraad." 

Sy gee ook erkenning aan twee kollegas, Marchelle Tony en Ursula Wanza, asook die departementshoof, prof Sophia du Plessis, vir hulle sorg en begrip gedurende die moeilikste dae. Afgesien van die akademie en die sokkergemeenskap, het haar ondersteuningsnetwerk ook haar lewensmaat van vier jaar, Siziphiwe Mpazi, ingesluit. "Sy het my aanhou aanmoedig en was my veilige hawe regdeur my akademiese reis."

Met die oog op die toekoms bly Dube geanker in dankbaarheid – vir haar familie, haar gemeenskap en die geleenthede wat eens op 'n tyd ver buite haar bereik gelyk het. "Ek het onlangs nagedink oor hoe dankbaar ek is dat ek so baie daarvan hou om onderrig te gee en saam met wonderlike kollegas te werk. Ek is lief vir Stellenbosch, ek wil vir altyd hier bly. Ek verkies om in 'n akademiese omgewing eerder as in die privaat sektor te werk." 

Dube berei nou voor om aanstaande jaar 'n PhD in ekonomie aan te pak danksy finansiële ondersteuning en 'n toenemende gevoel van doelgerigtheid. "Ek is 'n voorbeeld van iemand wat teen alle verwagting in geslaag het," sê sy. "Ek is 'n lewende bewys daarvan dat dinge uiteindelik uitwerk." 

Haar merkwaardige reis het haar benadering tot die lewe én werk hervorm. "Ek het geleer selfsorg is baie belangrik," sê sy. "Jy moet vir jouself tyd gee en jouself genadig wees ... Vergewe jouself, wees lief vir jouself. Maak seker jy kry genoeg rus – dit help nie om jouself te druk as jou liggaam nie meer kan nie." 

Sy het nou duidelikheid oor haar goeie geluk. "Al my sukses is aan God se genade en die wonderlike mense in my lewe te danke."

Verwante stories