Skip to main content
Die US-Mandela-skakel

Die US-Mandela-skakel

Sandra Mulder/Corporate Communications Division
01 Augustus 2018

Die einde van Julie 2018 – die maand waarin Nelson Mandela se lewe deur middel van verskeie sosiale impakaktiwiteite van die Universiteit Stellenbosch (US) vereer is – kondig nie die einde van die Universiteit se inisiatiewe om 'n verskil in die lewe van die breër gemeenskap, die studente en die personeel te maak nie.

Net soos die inisiatiewe sal voortduur, sal die herinnering aan Mandela en sy verbintenis met die US voortduur. Wanneer mens na die reusebaniere kyk wat Mandela se gesig uitbeeld en die woorde wat sy nalatenskap weergee, besef jy dat drie van die hoogtepunte van die Universiteit se eerste eeufeesjaar besoeke van Madiba aan die US was. Hierdie besoeke sal ook in die volgende 100 jaar by die US herdenk word.

Die verhouding tussen die US en Nelson Rolihlahla Mandela het begin in die jare toe Mandela 'n gevangene op Robbeneiland was. Prof  Andreas van Wyk, Rektor en Visekanselier vanaf  1993 , onthou dat die verhouding tussen die US en Mandela lank voor Mandela se vrylating in 1990 en sy eerste amptelike besoek aan die US in 1991 begin het.

Andreas van Wyk.JPG

Toe mnr Mandela in die gevangenis was en behandeling nodig gehad het, is hy na die beste spesialiste by Tygerberg-hospitaal geneem. Jare lank was selfs sy tandarts van ons Fakulteit Tandheelkunde . Hy het oor die jare verskeie kere Tygerberg toe gekom," verduidelik Van Wyk. “Tygerberg se mediese personeel het gekla dat hy nie in handboeie vir mediese behandeling moes opdaag nie, want hulle kon nie behoorlik mediese behandeling in dié omstandighede gee nie."

Mandela se eerste besoek as 'n vrye man aan die US was in 1991 en het gevolg op 'n amptelike uitnodiging wat Van Wyk, die toenmalige waarnemende rektor , gerig het. Volgens Van Wyk het die twee saam op die kampus gestap en selfs die Neelsie Studentesentrum besoek. “Daar was geen formele toesprake nie, maar hy het met studente gepraat terwyl ons deur die Neelsie gestap het. Ons het vir hom middagete daar in die Neelsie aangebied, saam met prominente professore soos Bernard Lategan, Sampie Terblanche, en andere wat in 1987 die Dakar-konferensie (ook bekend as die Dakar-dialoog en die Dakar-inisiatief) bygewoon het."

Die Dakar-konferensie wat in Senegal gehou is, was 'n konferensie wat tussen lede van die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe in Suid-Afrika (IDASA) en die ANC gehou is. Die konferensie het onderwerpe bespreek soos strategieë vir fundamentele verandering in Suid-Afrika, nasionale eenheid, regeringstrukture, en die toekoms van die ekonomie in 'n vrye Suid-Afrika.

Op 25 Oktober 1996 het Mandela 'n alumnus van die US geword toe hy 'n eredoktorsgraad van die Universiteit aanvaar het. “Dit was vir ons op daardie tydstip belangrik om die eerste Afrikaanse universiteit te wees wat Mandela op dié manier vereer ," sê Van Wyk. “Dit was 'n baie belangrike gebaar van versoening binne die raamwerk van die reënboognasie. Daar was 'n foutiewe persepsie dat Stellenbosch die wieg van apartheid was . Ná 1996 het ons die kontak met president Mandela behou. Hy het die Universiteit gereeld na amptelike funksies  in Kaapstad genooi. Deur Mandela en die geleenthede wat hy aangebied het, het  ek talle staatshoofde ontmoet. By al dié geleenthede het hy my amptelik en persoonlik erken"

​Van Wyk sê verder dat alhoewel die US se eregradekomitee  vroeër besluit het om in beginsel nie meer eredoktorsgrade aan politici toe te ken nie, die lede ingestem het dat sekere uitsonderings gemaak moet word. “Afgesien van Mandela, het ons ook eredoktorsgrade aan drie agtereenvolgende ministers van finansies, Chris Liebenberg, Derek Keys en Trevor Manuel, toegeken  Dit is by een plegtigheid gedoen om hulle gesamentlike poging  om finansiële stabiliteit tydens Suid-Afrika se onsekere oorgang na demokratiese regering te handhaaf, te beklemtoon. Van Wyk onthou die dag waarop Mandela sy eredoktorsgraad ontvang het, as 'n besonder gelukkige dag by die Universiteit. Tydens die gradeplegtigheid het Mandela 'n gedenkwaardige  toespraak gelewer wat baie harte aangeraak het. In die laaste deel van die toespraak het Mandela gesê, “Dit is egter steeds my wens dat ons almal saam in hierdie uitgestrekte land opgeneem sal word. En dat die Afrikaanse instellings en die Afrikaanse volk nooit weer nors en eenkant en apart sal wees nie, maar eerder 'n verweefde deel sal wees van wat ons hier nuut aan die skep is."

Mandela het sy toespraak afgesluit deur te sê, “Dit is in die wete dat hierdie Universiteit 'n groot rol te speel het om hierdie wens te verwesenlik, dat ek die eer om 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch te word aanvaar." In al sy interaksies met die US het Mandela daarop aangedring om sy vloeiende Afrikaans te gebruik.

Op 19 Maart 2008 het Nelson Mandela die US die laaste maal besoek toe hy sy vrou, Graça Machel, ondersteun het waar sy 'n eredoktorsgraad in die Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang het.

In die afgelope twee weke het die US Mandela saam met die res van die land vereer. US-personeel en -studente onthou nie alleen die beginsels wat Mandela se nalatenskap een gemaak het wat die hele land, en die wêreld in sy geheel, geïnspireer en verander het nie, hulle volg ook sy voorbeeld deur 'n blywende voetspoor te laat wat onthou sal word deur diegene wie se lewe hulle aanraak.

Oudpresident Mandela spreek studente toe in die Neelsie Studentesentrum in 1991. Foto: Erhardt Thiel

Op 25 Oktober 1996 ken die Universiteit Stellenbosch 'n eredoktorsgraad aan oudpresident Nelson Mandela toe. Bo links: Prof Andreas van Wyk, voormalige Rektor en Visekanselier van die US; Dr Sibusiso Bengu, destydse Minister van Onderwys; die voormalige Kanselier, dr Jan van der Horst; en mnr Gys Steyn, destydse Voorsitter van die US Raad

Voormalige president Nelson Mandela by die gradeplegtigheid van sy vrou, me Graça Machel, ook bygewoon deur Arthur Chaskalson (links), die eerste president van die Konstitusionele Hof en later Hoofregter van Suid-Afrika; en prof Vic Goedseels (regs), uitvoerende hoof van die Katolieke Universiteit Leuven in België, 'n goeie vennoot van die US

Voormalige president Nelson Mandela en prof Russel Botman, gewese Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, by die gradeplegtigheid in Maart 2008​