Skip to main content
Hierdie artikel is vanaf ons ou webwerf gemigreer en mag dus moontlik nie korrek vertoon nie.
Baba én BMil vir aanhouer Phumie

Baba én BMil vir aanhouer Phumie

Corporate Communication and Marketing Division: Rene van der Berg
15 Desember 2020

​US-gegradueerde Phumie Chetty het alles haarfyn beplan: Sy sou hard leer vir haar eksamens, haar graad voltooi en gradueer. Maar soos hulle sê: “Die lewe is wat met jou gebeur terwyl jy ander planne maak."

Weinig het Phumie geweet dat nuwe baba Maleah-Paige haar opwagting sou maak terwyl haar ma besig was om voor te berei vir haar toetsreeks om vir die eksamen te kwalifiseer.

Phumie het vandeesweek haar BMil-graad in Menslike en Organisasieontwikkeling by die virtuele Desember-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde ontvang.

 “Ek was verlede jaar swanger met my tweede dogter, en die verwagte geboortedatum was gedurende die toetsreeks – trouens, 'n paar dae voordat ek 'n regstoets moes skryf. Ek het die kleintjie behoorlik gesmeek om nie te kom voordat ek my toetsreeks klaargemaak het nie."

Haar aanvanklike datum het verbygegaan sonder dat die nuwe baba aanstaltes gemaak het om te kom, so Phumie het opgewonde geraak dat sy dalk tog haar toetse sou kon klaarskryf.

“En toe begin ek skielik kraam die dag voordat ek nog 'n toets moes skryf. Ál waaraan ek kon dink, was dat ek my toets wou skryf. Die meeste mense sal seker bekommerd wees oor die geboorte en die baba, maar nie ek nie. Ek het selfs my professor gebel om te vra of ek nie dalk in die hospitaal kon skryf nie!" lag sy.

Maleah-Paige is 'n paar minute voor middernag gebore, en Phumie en haar man, Malcolm, was oorstelp van vreugde.

“Maar toe onthou ek my toets wat vir 09:00 daardie oggend geskeduleer was. Ek het die mediese personeel gevra of ek ontslaan kon word om te gaan skryf! Hulle het gedink ek skeer die gek, my man was heel verbaas, en my dokters het by my kom seker maak of ek seker is ek wil gaan skryf."

Met haar pasgebore baba nog in die hospitaal is Phumie weg om haar toets te skryf, waarna sy weer hospitaal toe is om Maleah-Paige huis toe te neem. Maar daar was nog een vraestel oor om te skryf. So, 'n paar dae later is Phumie, haar man en hulle vier dae oue babadogtertjie eksamensentrum toe, waar hierdie vasberade jong ma haar toets afgelê het terwyl Malcolm en Maleah-Paige geduldig in die parkeerterrein wag.

“Ek wil 'n rolmodel wees vir my twee dogters, en hulle wys hoe om 'n sterk vrou te wees. Ongelukkig het die COVID-19-pandemie my van die geleentheid ontneem om in my gradetoga oor die verhoog te stap. Aan die ander kant het ons darem ook 'n lekker storie om oor Maleah-Paige se geboorte te vertel."