Skip to main content
ASSAf vereer top wetenskaplike van US met goue medalje

ASSAf vereer top wetenskaplike van US met goue medalje

Media & Communication, Faculty of Science
13 Oktober 2016

Prof. Brian van Wilgen, 'n toonaangewende bewaringekoloog van die DWT/NNS Sentrum vir Indringerbiologie (S·I·B) by die Universiteit Stellenbosch (US), is vereer met 'n goue medalje van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf).

ASSAf ken jaarliks 'n goue medalje toe aan 'n individu vir uitstaande prestasie in wetenskaplike denke wat tot voordeel van die gemeenskap is. Hierdie toekenning is op 12 Oktober deur dr. Phil Mjwara, direkteur-generaal van die Departement Wetenskap en Tegnologie (DWT) aan prof. Van Wilgen oorhandig tydens 'n seremonie wat in Pretoria gehou is.

Nie net is prof. Van Wilgen se bydrae tot die vakgebied van ekologie in Suid-Afrika as "enorm" beskryf nie. Volgens prof. Dave Richardson, direkteur van die DWT/NNS Sentrum vir Indringerbiologie (S·I·B) by die US, is hy ook 'n wêreldleier op die gebied van brandekologie en indringerspesies.

"Hy het die besondere vaardigheid om die resultate van sy navorsing om te sit in praktiese bestuursriglyne. Op hierdie gebied het hy massiewe bydraes gelewer tot omgewingsbeleide en bestuursinisiatiewe in Suid-Afrika," het hy gesê in reaksie op die toekenning.

Prof. Louise Warnich, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US, sê prof. Van Wilgen speel 'n leiersrol in die S·I·B: "Sy navorsing word baie aangehaal en hy speel 'n belangrike rol as studieleier van nagraadse studente en nadoktorale genote by die S·I·B.

"Die ASSAf Goue Medalje is welverdiende erkenning vir sy jare lange belangrike navorsingsbydrae op die gebied van toegepaste ekologie. Die fakulteit is trots om hierdie toekenning saam met hom te kan vier, sê sy.

Prof. Van Wilgen sê dit is 'n eer om op hierdie wyse vereer te word: "Ek was baie bevoorreg om as ekoloog in een van die wêreld se paar megadiverse lande te kon werk, op 'n tystip toe die oorgang na 'n demokratiese bestel ongelooflike geleenthede ontsluit het om toegepaste ekologie in die praktyk toe te pas in 'n vining veranderende land.

"Natuurlik sou ek ook nie 'n fraksie van wat ek bereik het, kon bereik sonder die hulp van baie van my kollegas, waaronder daar regtig uitstaande mense en wetenskaplikes is nie. Ek wil dus van hierdie geleentheid gebruik maak om hulle almal te bedank vir hulle samewerking en ondersteuning oor die jare," het hy afgesluit.

Meer oor Prof. Brian van Wilgen

Van Wilgen het Bosbou studeer aan die Universiteit Stellenbosch en in 1974 'n BSc behaal en in 1977 'n HonsBSc. In 1980 het hy sy MSc en in 1985 sy PhD in Plantkunde behaal, beide aan die Universiteit van Kaapstad.

Tussen 1974 en 1990 was hy in verskeie hoedanighede betrokke by die nie meer bestaande Suid-Afrikaanse Bosbounavorsingsinstituut (SABNI) en was hy werksaam by die Jonkershoek Bosbounavorsingsentrum buite Stellenbosch. Toe SABNI by die WNNR ingelyf is, het hy na die WNNR se kampus in Stellenbosch geskuif waar hy werksaam was tot 2013. Met sy aftrede by die WNNR in 2013, het hy 'n professoraat by die Universiteit Stellenbosch aanvaar, in genootskap met die DWT-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie (S·I·B).

Sy loopbaan as toegepaste ekoloog in Afrika strek oor 40 jaar waartydens hy op vele maniere 'n groot impak gemaak het. Hy het gewerk op die ekologie en bestuur van uitheemse indringerplante, en in die besonder op die gebruik van beheerde brande in die bestuur van indringerplante; die bevolkingsdinamika van indringerplante; watergebruik deur indringerplante; die biologiese beheer van indringerplante; studies oor die ekonomiese aanwending van bronne; asook die ontwikkeling van navorsings- en bestuurstrategieë. Sy ander hoof belangstelling was die ekologie en die bestuur van ekosisteme met behulp van brande. Op hierdie front het hy hoofsaaklik in fynbos-, grasland- en savanne-ekosisteme van Suider-Afrika gewerk, maar ook in die VSA, Argentinië, Australië en die Indiese Oseaan-eilande. Baie van sy onlangse werk is gerig op die integrasie van navorsingsresultate met die oog op die ontwerp en implementering van omgewingsbeleide, insluitend die kwantifisering van ekosisteemdienste (soos watersuiwering, bestuiwing).

Hy is die outeur of mede-outeur van meer as 250 publikasies, wat drie boeke insluit. In 2008 het die US 'n DSc-graad aan hom toegeken. Hy het verskeie toekennings ontvang wat onder meer insluit: die Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum se jaarlikse toekenning aan'n individu vir sy/haar uitstaande bydrae tot die wetenskap, ingenieurswese en tegnologie, asook die jaarlikse SANParke toekenning vir bydra tot bewaring deur 'n individual, wat hy albei in 2010 ontvang het.

Meer oor die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf)

ASSAf wat in Mei 1996 gestig is, vier vanjaar sy 20ste verjaardag as amptelike wetenskapakademie wat Suid-Afrika verteenwoordig in die internasionale gemeenskap van wetenskapakademies. 

Die akademie het tot stand gekom in antwoord op die behoefte aan 'n wetenskapakademie wat saamgeval het met die koms van demokrasie in Suid-Afrika. Die akademie is aktivisties in sy wese in sy missie om wetenskap te gebruik tot voordeel van die gemeenskap.

ASSAf het dus "wetenskap" in die enkelvoud in sy naam opgeneem wat 'n algemene manier van ondersoek weerspieël, eerder as 'n versameling van verskillende dissiplines. Sy lede word verkies op grond van 'n kombinasie van twee hoof kriteria: akademiese uitnemendheid, en betekenisvolle bydraes tot die gemeenskap. 

Die Parlement van die Republiek van Suid-Afrika het die Wet op die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (Wet 67 van 2001) goedgekeur wat op 15 Mei 2002 in werking getree het. Dit maak ASSAf die enigste wetenskapakademie in Suid-Afrika wat amptelik deur die regering erken word en die land mag verteenwoordig in die internasionale gemeenskap van wetenskapakademies en elders.

Vir meer oor die geskiedenis van ASSAf