Skip to main content
Afsterwe van Donovan Kirkwood

Afsterwe van Donovan Kirkwood

Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
27 Augustus 2025

Die Universiteit Stellenbosch (US) se gemeenskap betreur die tragiese afsterwe van dr Donovan (Don) Kirkwood, kurator van die US Botaniese Tuine (USBT). Kirkwood het Dinsdag 26 Augustus in die Jonkershoekberge geval terwyl hy en lede van sy USBT-span saam met amptenare van CapeNature en die Universiteit van Cambridge op 'n bewaringsuitstappie was om materiaal van Penaea formosa, 'n kritieke bedreigde plantspesie, te ondersoek en in te samel.

"Donovan was enig in sy soort met 'n passie vir bewaring en opvoeding. Hy was 'n geliefde kollega en leier van sy span. Ons wil ons innige meegevoel teenoor sy familie, vriende en kollegas betuig," sê mnr Hein Swanepoel, Senior Direkteur: SUNCOM en Kirkwood se lynbestuurder.

"Nie net die Universiteit Stellenbosch nie, maar ook die land het 'n toegewyde plantkundige, natuurbewaarder en ongelooflike visioenêre leier verloor," voeg me Anita Nel, Hoofdirekteur: Innovasie en Kommersialisering, by.

"Donovan het passievol na die bewaring van byna uitgestorwe plantspesies gestreef en het 'n reusebydrae gelewer om skaars plantspesies te bewaar en te herstel – veral binne die Kaapse Floristiese Streek, een van die wêreld se grootste biodiversiteitsbrandpunte. Met die oortuiging dat die kleinste tuin 'n wêreldwye impak kan hê, het sy verbintenis tot innovasie en bewaring die maatstaf gestel vir akademiese botaniese tuine regoor die wêreld."

Nel voeg by dat hy as kurator nie net die respek van akademici geniet het vir sy toewyding en werk as wetenskaplike nie, maar ook as 'n praktisyn wat prakties was met elke aspek van die tuin. "Onder sy leiding het die USBT homself as 'n bewaringsentrum vir bedreigde Kaapse Flora, veral fynbos- en renosterveldspesies geposisioneer. Die USBT bewaar byvoorbeeld verskeie Marasmodes-spesies, een van Suid-Afrika se mees bedreigde struike en 'n spesie wat hy gehelp het om in die openbare kollig te plaas."

Hy was as kollega aangenaam, vindingryk en altyd bereid om sy kennis te deel en 'n positiewe impak te maak. Hy het die geskiedenis van die tuin nagevors en het begin om die oorspronklike en historiese uitleg van die tuin te herstel en enorme verbeterings aan te bring. Hy het in 2018 die pos aanvaar terwyl daar ernstige watertekorte in die Wes-Kaap was en het die tuin met bekwaamheid en 'n goedgegronde strategie deur 'n moeilike tydperk gelei.

Nel voeg voorts by dat hy deur sy werk duisende lewens – menslik asook botanies – aangeraak het. "Die lewende versamelings wat hy gehelp bou het, die studente en kollegas wat hy geïnspireer het en die vele vennootskappe wat hy gekweek het, sal voortgaan om as deel van sy nalatenskap te floreer. Die USBT sal 'n lewende monument vir Donovan se lewe en werk wees en sal ons altyd daaraan herinner dat een persoon se visie en ongelooflike dryfkrag die ongelooflike skoonheid van 'n hele streek kan beskerm. Ek sal hom mis as 'n wonderlike kollega en 'n ongelooflike mens."

Professors Léanne Dreyer en Nox Makunga van die Departement Plant- en Dierkunde het gesê: "In die paar jaar wat Don aan ons geskenk was, het hy die USBT van 'n pragtige plek na 'n dinamiese, wetenskaplikleidende, polsende, fantastiese wetenskaplike middelpunt van uitnemendheid geneem. Dit het 'n veilige hawe en 'n tweede tuiste vir soveel van ons in die departement geword.

"Don was enigmaties, entoesiasties, kleurryk, vriendelik en hoogs talentvol met 'n ongelooflike voorliefde vir plantkunde en bewaring. Ons harte is seer, maar ons sal troos vind in die wete dat hy selfs in sy laaste oomblikke van sy lewe met sy hele hart gedoen het wat hy absoluut liefgehad het. Hy sal baie gemis word en ons innige meegevoel gaan aan Rosie, sy pa en die res van sy binnekring. Ons verbind ons daartoe om sy nalatenskap te eer en sy visie by die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuine te handhaaf," het hulle bygevoeg.

  • Die Universiteit versoek dat die privaatheid van dr Kirkwood se familie gerespekteer word. Rig asseblief navrae aan Petro Mostert by 082 334 6193.
  • Dr Donovan Kirkwood, 'n bekende plantkundige, het in Oktober 2018 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit. Hy was 'n opgeleide ekoloog in Kaapse, savanne- en woud-ekostelsels, steekproefneming en eksperimentele ontwerp, asook statistiese ontleding en verslagdoening. Hy het in 2003 sy PhD aan die Universiteit van Kaapstad voltooi en sy navorsing het op bevolkingsekologie en plantegroeibeskrywing, insluitende formele floristiese opname en ontleding, gefokus. ​