Skip to main content
Vyfde plegtigheid: Studente van Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Krygskunde

Vyfde plegtigheid: Studente van Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Krygskunde

Corporate Communications Division
23 Maart 2018

Nagenoeg 400 studente van die fakulteite Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Krygskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (22 Maart 2018) hulle grade by die vyfde Maart-gradeplegtigheid ontvang.

By die plegtigheid is ook eredoktorsgrade aan twee toonaangewende denkleiers oorhandig – barones Christine van den Wyngaert, “gerekende internasionale akademikus en regter van die Internasionale Strafhof", en prof Brian O'Connell, “formidabele en visionêre leier op alle vlakke van opvoeding in Suid-Afrika". Die US se Eeufeesaktiwiteite sluit die toekenning van 13 eredoktorsgrade gedurende die Maart-gradeplegtigheidsweek in. Sowel Van den Wyngaert as O'Connell het die gehoor kortliks toegespreek nadat hulle hulle eregrade ontvang het.​

In sy verwelkomingsrede by die geleentheid het die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, gesê die plegtigheid is voorwaar 'n historiese gebeurtenis aangesien dit deel uitmaak van die Universiteit se Eeufeesjaar.

“Teen die agtergrond van waardevolle lesse uit ons komplekse geskiedenis, is ons Eeufees 'n nuwe begin vir die Universiteit Stellenbosch. Ons streef daarna om 'n relevante instelling te wees wat 'n kernrol vervul in die ontwikkeling van ons nasie en ons vasteland," het hy gesê.

Prof De Villiers het die gehoor daaraan herinner dat die Fakulteit Natuurwetenskappe in 'n ruimte van 1 m x 1 m begin het – die grootte van die muurkas waarin sy eerste wetenskaplike instrumente gebêre is. Deesdae het die Fakulteit 170 laboratoriums in agt akademiese departemente wat oor 13 geboue op kampus versprei is, en bemagtig dit ongeveer 900 gegradueerdes per jaar met internasionaal mededingende kwalifikasies.

“Die Fakulteit Opvoedkunde is op sy beurt een van die vier oorspronklike fakulteite waarmee die Universiteit begin het. Ons is vandag trots op sy bydrae tot die verbetering van onderwys in die land. En die Fakulteit Regsgeleerdheid funksioneer natuurlik vanuit die pragtige Ou Hoofgebou, wat uit die Universiteit se voorgeskiedenis as Victoria Kollege dateer."

“Daarbenewens is ons Fakulteit Krygskunde die enigste in sy soort in Afrika. Die Fakulteit voorsien professionele militêre onderrig aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ooreenkomstig 'n ooreenkoms met die Departement van Verdediging, wat pas hernu is."

  

O'Connell se boodskap aan graduandi was soos volg: “As kennis elektrisiteit is, is julle die kragbron. Dit is julle wat die wêreld sal red. Ná hoop moet daar daadwerklike aksie wees." O'Connell het studente ook aangeraai om die verlede te probeer verstaan en hulle oog op die toekoms te hou, en om hulle hierin deur die leuse “Hoop, aksie en kennis" te laat lei.   

Van den Wyngaert het gesê sy is “besonder dankbaar om hierdie eerbewys te kan ontvang. Die Universiteit Stellenbosch is onder die beste in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld". Sy het ook gesê dit is bemoedigend om te sien wat Suid-Afrika in die strewe na menseregte vermag, en het die land aangemoedig om aktief te bly in die internasionale regsdomein.​