
Welkom terug aan ons vennote – van aangesig tot aangesig
By die skryf van hierdie boodskap het party Europese lande 'n tweede inperking afgekondig weens 'n nuwe vlaag COVID-19-infeksies. In Suid-Afrika hou gesondheidsamptenare ons infeksiesyfers fyn dop en is verskeie beperkings en veiligheidsmaatreëls steeds van toepassing ingevolge vlak 1 van die landwye inperking, wat onlangs verleng is.
Nietemin is ons grense oop vir reisigers van verskeie lande. Soos jy weet, het die Universiteit Stellenbosch (US) aan die begin van die pandemie dadelik 'n Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) op die been gebring om te sorg dat ons werk as 'n toonaangewende hoëronderwysinstelling kan voortgaan. Dít het ons in staat gestel om ons internasionaliseringspogings met vennootuniversiteite en in etlike netwerke voort te sit én selfs nuwe vennootskappe aan te gaan om ons internasionale voetspoor verder uit te brei en 'n sinvolle impak te hê.
As 'n lid van ons vennootnetwerk, het jy waarskynlik ook gedurende 2020 in die digitale ruimte met die US saamgewerk aangesien die meeste van ons inisiatiewe na die kuberruim verskuif is. Dít het internasionalisering gewis 'n nuwe, opwindende dimensie gegee. Maar met die opheffing van reisbeperkings is fisiese personeel- en studentemobiliteit nou weer moontlik.
In reaksie hierop het ons IKBV reisriglyne en -aanbevelings ingevolge vlak 1 van die Suid-Afrikaanse inperking opgestel. Daarom kan internasionale studente sedert Oktober 2020 weer na die Stellenboschkampus reis, mits hulle aan die nasionale regulasievereistes voldoen. En vanaf Januarie 2021 sal afvaardigings van vennootuniversiteite en ons internasionale netwerke weer ons universiteit kan besoek, ook met inagneming van die nasionale regulasies.
Hoewel die beperkings van die COVID-19-pandemie ons, as hoëronderwysinstellings, voor heelwat uitdagings te staan gebring het, het dit ons ook 'n geleentheid gebied om nuut te dink oor die internasionalisering van onderwys en navorsing. Noudat ons weer internasionaal kan reis, het die US en ons gewaardeerde vennote nog méér geleenthede om ons samewerking verder uit te brei en te versterk – van aangesig tot aangesig – om uiteindelik 'n wêreldwye impak te hê.
- Prof Hester C Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering