
Gegradueerde ontluik as kinderboekskrywer gedurende grendeltyd
Wat staan jou te doen in die middel van grendeltyd 2020, jy het twee kinders wat ywerige lesers is, jou boeke het opgeraak en al die biblioteke is gesluit? Wel, in Leon-Ben Lamprecht se geval, skryf jy jou eie kinderboek. Lamprecht het onwillekeurig die pad van ’n suksesvolle kinderboekskrywer betree toe hy sy eerste kinderboek, Wie Skrik vir Wortel Wolf, wat bestaan uit drie verhale oor ’n vegetariese wolf, geskryf het.
Lamprecht, wat vandeesweek met sy meestersgraad in Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch gradueer, is ’n voormalige joernalis wat tans as ’n finansiële beplanner werk. Hy en sy vrou Sonika het hulself verlede jaar met twee kinders, Moya, wat toe agt, en Ben, wat toe ses was, ingeperk bevind. Hulle het ook laat verlede jaar ’n laatlammetjie, Sarah, wat onlangs een jaar oud geword het, verwelkom.
“Jy kan net soveel boeke in jou huis aanhou en die biblioteke was gesluit, so een aand het ek hierdie lawwe storie oor drie klein varkies en ’n vegetariese wolf uitgedink en dit aan my kinders vertel. Hulle het dit baie geniet.” Hy het die verhaal na ’n uitgewer gestuur, wat voorgestel het dat hy nog twee verhale met dieselfde wolfkarakter skryf. Die boek van drie verhale, ’n toespeling op die tradisionele verhale Die Drie Klein Varkies, Rooikappie en Die Seun wat Wolf geskree het, is deur Tafelberg uitgegee en in September 2021 bekendgestel.
Sedertdien het Lamprecht voorlesings van sy verhale oor die vegetariese wolf aan kinders by ’n aantal skole gedoen. “Die kinders hou van die stories en ek sal so ver gaan om te sê, die ouers ook,” het hy gesê. Dit is op eerstelesers of kinders tussen ses en tien jaar oud gemik, het hy bygevoeg.
Lamprecht het sy BCom-graad in 2006 voltooi waarna hy as joernalis begin werk het, ’n loopbaan wat hy nog altyd wou volg. Hy het sowat twee jaar lank as ’n nuusverslaggewer by die dagblad Die Burger gewerk voordat hy vir sowat ses jaar ’n reisskrywer vir die reistydskrif, Weg, was. Hy het ’n skuif na die wêreld van finansiële beplanning gemaak toe sy tweede kind in 2014 gebore is en het ’n nagraadse diploma aan die Universiteit Stellenbosch Besigheidskool voltooi terwyl hy as finansiële beplanner gewerk het.
As ’n reisskrywer het sy avonture onder meer ’n skynstormloop deur ’n renoster in die Umfolosi Nasionale Park; ’n reis deur die Karoo saam met ’n sirkusgroep vir ’n week; en ’n soektog na die mitiese monster van die Vaal Dam ingesluit. Laasgenoemde opdrag het in ’n kroeg begin waar hy ’n paar skreeusnaakse stories oor die monster vertel is, wat volgens hom dalk ’n groot barbeel mag wees of dalk nie.
Hoewel hy nou in die wêreld van finansies saam met sy pa, wat ook ’n makelaar is, werk, beteken dit nie hy gaan ophou om kinderverhale te skryf nie. Hy skryf steeds vir publikasies en geniet joernalistiek. Sy volgende boek, Barend die Barbaar, word binnekort bekendgestel en sal deur Kraal uitgegee word.
“Barend die Barbaar is ’n verhaal oor ’n aaklige seun wat almal terg totdat iets gebeur, en hy dan sy maniere verander. Ek was nog altyd lief vir kinderboeke, maar ek het nooit gedink dat ek dit sou skryf nie. Ek geniet dit om ’n kinderboekskrywer te wees. Kinderboeke neem hulself nie so ernstig op nie. Volwasse boeke kan so selfbehep oor die lewe wees. ’n Mens moenie die belangrikheid van humor in boeke vergeet nie. Solank ek idees het en iemand belangstel, sal ek voortgaan om vir kinders te skryf,” sê Lamprecht.