Skip to main content
Megan Hartnick rises above loss and financial hardship to complete her PGCE cum laude.
Image by: Megan Hartnick

Megan Hartnick het bo verlies en finansiële probleme uitgstyg om haar NOS cum laude te verwerf.

Opvoedkunde Gebeure

Megan Hartnick omskep teenspoed in prestasie

Corporate Communications
08 Desember 2025
  • Eerstegenerasie-gegradueerde styg bo verlies en finansiële probleme uit om haar NOS cum laude te verwerf.
  • Taal, geloof en gemeenskapsondersteuning rig haar pad na onderwys.
  • Hartnick hoop haar storie sal toekomstige studente inspireer om hulle gawes te vertrou en te volhard.

Megan Hartnick het die grootste deel van haar lewe daaraan bestee om aan die klein, standhoudende vlam van moontlikheid vas te hou. Toe sy ʼn BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het, het sy een van die eerste lede van haar familie geword om ʼn universiteitsgraad te verwerf. Haar tweede graduering, hierdie keer met ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat in Onderwys (NOS) – cum laude – is ʼn mylpaal wat reusetrots meebring, maar dis ook ʼn tyd van hartroerende terugskouing vir die gegradueerde en haar geliefdes.

Nadat sy albei haar ouers as kind verloor het, asook haar geliefde ouma toe sy in matriek was, het Hartnick haar toekoms met die hulp van ʼn omgeegemeenskap gebou: ʼn oupa, tantes, ooms, suster, neefs en niggies, kollegas, bure, vriende, onderwysers, mentors, dosente en haar geloofsgemeenskap. Damon Hartnick, haar oupa wat nou 85 is, het ʼn rots en inspirasie gebly, sê sy met ʼn dankbare glimlag. Familie en vriende het die vangnet gevorm wat haar laat aanhou vorentoe beur het.

Hartnick het in George grootgeword en later na Stellenbosch verhuis om ʼn BA-graad te verwerf. Sy het aanvanklik ʼn loopbaan in die joernalistiek oorweeg, maar haar koers het geleidelik verander. ʼn Rekeningkunde-onderwyseres op hoërskool het die oorspronklike saadjie geplant deur vir haar te wys hoe transformerend ʼn toegewyde, deernisvolle opvoeder kan wees. “Sy het ons nie net die inhoud geleer nie,” onthou Hartnick. “Sy het met moraliteit, doelgerigtheid en opregte sorg onderrig.” Daardie voorbeeld het haar bygebly lank nadat sy uit die skool is.

Met die verloop van tyd het Hartnick besef dat joernalistiek dalk nie die beste loopbaankeuse vir haar is nie. Mense rondom haar het haar bly aanmoedig om onderwys opnuut te oorweeg. “Soms is jou gawe nie iets wat jy dadelik in jouself raaksien nie,” sê sy. “Dit verg ander om die gawe in jou te sien voordat jy dit herken.” Dit was eers gedurende haar prakties – toe sy lesse beplan, aanbiedings voorberei en voor ʼn klas gestaan het – dat alles skielik glashelder geword het. Sy was mal oor die energie van groepaktiwiteite, die manier waarop leerders met idees omgegaan het en die kreatiwiteit wat die werk vereis het. “Dit het my met ʼn vreugde gevul wat ek nie kan beskryf nie,” sê sy. “Onderwys kom natuurlik vir my en dis iets wat ek werklik liefhet.”

Toppresteerder

Taal het die brug tussen haar akademiese belangstellings en haar ontluikende doelgerigtheid geword. Sy het gedurende haar voorgraadse studie ʼn talent vir Afrikaans en Nederlands ontdek en in kursusse oor morfologie, taalverwerwing en leksikografie uitgeblink. Haar toewyding het aan haar die Pharos-toekenning vir Leksikografie besorg en haar onder die toppresteerders in die vakgebied geplaas. Daardie erkenning het bevestig wat sy reeds gevoel het: dat taal, uitdrukking en betekenis baie vir haar saak maak en dat sy jongmense wil help om die krag van die stories in te sien wat daardeur gedra word.

Haar NOS-jaar was ewe formatief, maar ook meer uitdagend. Sy het dit sonder finansiële hulp voltooi en haarself deur vakansiewerk en ʼn streng begroting onderhou. “Elke besluit moes noukeurig beplan word,” vertel sy. Noodsaaklikhede soos vervoer, toilet- en kruideniersware het noukeurige bestuur geverg. Wat haar aan die gang gehou het, was ʼn mengsel van geloof, veerkragtigheid en ʼn belofte wat sy as kind aan haarself gemaak het. “Voordat my ouers oorlede is, en selfs nog meer daarna, was daar nog altyd hierdie meisietjie binne-in my wat gedroom het van ʼn loopbaan, om mooi aan te trek en om ʼn verskil in die wêreld te maak,” sê sy. “Ek is dit aan haar verskuldig om daardie droom volledig na te jaag.”

Haar reis het haar sin van gemeenskap verdiep. Haar grootouers het haar met ʼn Sassa-pensioentoelaag grootgemaak en sy het in ʼn huishouding grootgeword waar vrygewigheid daagliks beoefen is, selfs onder druk. Haar grootouers, wat ook haar suster en niggies en neefs ondersteun het, het ʼn soort sorg beoefen wat sy nou as fundamenteel vir haar eie benadering tot onderwys beskou. Nadat haar ouma oorlede is, het haar uitgebreide familie hulle by haar geskaar en leiding en aanmoediging gebied. Universiteitsvriende het hulle eie ondersteuning gebied. “Ons het saam gelag, saam gehuil en mekaar opgebeur. Hulle kameraadskap het selfs die moeilikste dae ligter laat voel,” sê sy.

Geloof was die konstante draad wat deur dit alles gevleg het. Dit het haar in oomblikke van onsekerheid geaard en haar daaraan herinner dat haar pogings deel van ʼn groter doel is. “Om op God te vertrou het my krag, hoop en deursettingsvermoë gegee, selfs toe die uitdagings oorweldigend gevoel het,” sê sy. Daardie sin van rigting het haar begrip van onderwys as ʼn roeping gewortel in sorg, empatie en doelgerigtheid gevorm.

Om terug te gee

Terwyl sy voorberei om haar onderwysloopbaan te begin, het Hartnick ʼn eenvoudige, dog verreikende toekomsvisie. Sy wil ʼn omgewing skep waar leerders gewaardeer, ondersteun en selfversekerd genoeg voel om hulleself uit te druk. Haar eie ervarings het die soort opvoeder gevorm wat sy hoop om te wees – geduldig, empaties en ten diepste aan die welstand van haar leerders toegewy. Sy wil dieselfde gevoel van aanmoediging en stabiliteit bied wat haar deur haar eie verliese gedra het. “Ek weet hoe belangrik dit is om te voel jy word gesien en ondersteun,” sê sy. “Ek wil graag in die emosionele en persoonlike groei van my leerders belê.” 

Hartnick hoop haar storie bied bemoediging aan studente wat met hulle eie onsekerhede stoei. “Jou omstandighede definieer nié jou toekoms nie,” benadruk sy. “Talent is nie altyd aanvanklik ooglopend nie en vordering is selde lineêr, maar vasberadenheid en geloof kan jou verder dra as wat jy dink. Dis oukei om te droom en te struikel. Hou vas aan jou klein drome en moet nooit opgee om alles te word wat jy gedink het jy kan wees nie.”

Weens persoonlike omstandighede sal Hartnick nie haar gradeplegtigheid kan bywoon nie, maar sy hoop om haar prestasies later behoorlik saam met familie en vriende te vier. “Ek voel ongelooflik geseënd. Om my NOS cum laude te slaag is op sigself ʼn viering.”

Verwante stories