Skip to main content
SU-dosent trek uiteindelik die rooi toga aan

SU-dosent trek uiteindelik die rooi toga aan

Corporate Communications Division/Rozanne Engel
01 April 2019

​Samantha Adams het nog altyd soos 'n professionele studente gevoel. Nadat sy haar baccalaureus- en honneursgraad in Sielkunde aan die Nelson Mandela-universiteit voltooi het, het sy geweet die dit einde van haar akademiese studies was nog nie in sig nie.

Nadat sy in 2008 uit Suid-Korea, waar sy vir amper twee jaar Engelse klasse gegee het, teruggekeer het, het sy haar nagraadse studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) voortgesit en in 2010 het sy haar tweede honneursgraad – dié keer in Bedryfsielkunde – verwerf.

“Een van my jonger sussies het ook dié gradeplegtigheid bygewoon. Sy het gevra wanneer ek van plan was om my studies te voltooi. My antwoord aan haar was: 'Sien jy daardie persoon met die rooi toga? Wanneer ek die geleentheid kry om dit aan te trek, sal ek klaar wees met studeer.'"

En op Donderdag (04 April 2019) kon Adams uiteindelik daardie rooi jas dra toe sy haar PhD in Bedryfsielkunde ontvang het by die gradeplegtigheid vir groep B van die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

“Ek het 'n baie duidelike prentjie gehad van wat ek wou bereik. Ek was nie altyd eenhonderd persent seker hoe ek daar sou uitkom nie, maar ek het geweet dit was wat ek wou hê en ek was bereid om te doen wat ook al nodig was om daar uit te kom."

Adams is al die afgelope agt jaar 'n dosent by die Bedryfsielkunde-departement aan die US. Donderdag het sy die eerste PhD-graduatus van die Nagraadse Skool vir Personeel in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe-program (StEM) geword.

STEM is 'n ondersteuningsprogram wat aan personeel van die fakulteit die geleentheid gee om deeltyds aan hul PhD-studies oor 'n tydperk van vier tot vyf jaar te werk. Die program is as deel van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se navorsingstrategie op die been gebring en in 2014 het die eerste voltydse PhD-studente aan hul drie-jaar navorsingsprojekte begin werk

“Hoewel die program nie 'n gids vir die PhD-proses was nie, het dit beslis groot finansiële en sosiale ondersteuning gebied. Dit het my die geleentheid gegee om my ondervindinge met ander mense wat in dieselfde bootjie was, te deel. Die PhD-proses kan 'n eensame pad wees; dit lyk soms of dit 'n onoorkomelike projek is en ek hoop dat deur wat ek kon bereik, ander sal sien dat dit nie noodwendig hierdie groot, skrikwekkende berg hoef te wees wat jy op jou eie moet klim nie. Ek hoop dat dit my kollegas sal aanmoedig; dat dit hulle hoop sal gee dat dit moontlik is, ondanks die baie verantwoordelikhede, uitdagings en hindernisse wat jou in die gesig staar wanneer jy tegelykertyd werk en studeer."

Danksy die ondersteuning van die StEM-program, kon Adams vir 'n jaar lank studieverlof neem van haar werk as dosent sodat sy op die voltooiing van haar PhD-studies kon konsentreer.

“My navorsing het gelukkig nou verband gehou met my onderrig. Regdeur my hele PhD-proses het dit my as dosent en opvoeder gevorm. Ek is al vir agt jaar lank 'n dosent, maar ek vind steeds aansluiting by my studente. Ek het nog steeds 'n idee hoe dit is om 'n student te wees. Hopelik vind dit deurslag in die manier waarop ek onderrig gee en met hulle omgaan en dat dit my sal help om die beste moontlike dosent te kan wees."

Vir meer inligting oor die StEM-program, klik hier. ​