Skip to main content
Die US-Mandela-skakel

Die US-Mandela-skakel

Sandra Mulder/Corporate Communications Division
31 Julie 2018

Die einde van Julie 2018 – die maand waarin Nelson Mandela deur middel van verskeie sosiale impakaktiwiteite van die Universiteit Stellenbosch (US) vereer is – kondig nie die einde van die Universiteit se inisiatiewe om 'n verskil in die lewe van die breër gemeenskap, die studente en die personeel te maak nie.

Net soos die inisiatiewe sal voortduur, sal die herinnering aan Mandela en sy verbintenis met die US voortduur. Wanneer mens na die reusebaniere kyk wat Mandela se gesig uitbeeld en die woorde wat sy nalatenskap weergee, besef jy dat drie van die hoogtepunte van die Universiteit se eerste eeufees besoeke van Madiba aan die US was. Hierdie besoeke sal ook in die volgende 100 jaar by die US herdenk word.

Die verhouding tussen die US en Nelson Rolihlahla Mandela het begin in die jare toe Mandela 'n gevangene op Robbeneiland was. Prof dr Andreas van Wyk, Rektor en Visekanselier in 1991, onthou dat die verhouding tussen die US en Mandela lank voor Mandela se vrylating in 1990 en sy eerste amptelike besoek aan die US in 1991 begin het.

“Jy weet, toe Mandela in die gevangenis was en behandeling nodig gehad het, is hy na die Tygerberghospitaal geneem. Jare lank was selfs sy tandarts van Stellenbosch. Hy het oor die jare verskeie kere Tygerberg toe gekom," verduidelik Van Wyk. “Tygerberg se mediese personeel het gekla dat hy nie in boeie vir mediese behandeling moes opdaag nie, want hulle kon nie behoorlik mediese behandeling in dié omstandighede gee nie."

Mandela se eerste besoek aan die US was in 1991 en het gevolg op 'n amptelike uitnodiging wat Van Wyk, die toenmalige adjunk-rektor, gerig het. Volgens Van Wyk het die twee saam op die kampus gestap en selfs die Neelsie Studentesentrum besoek. “Daar was geen formele toesprake nie, maar hy het met studente gepraat terwyl ons deur die Neelsie gestap het. Ons het vir hom middagete daar in die Neelsie aangebied, saam met ander prominente professore soos Bernard Lategan, Sampie Terblanche, en andere wat in 1987 die Dakar-konferensie (ook bekend as die Dakar-dialoog en die Dakar-inisiatief) bygewoon het."

Die Dakar-konferensie, wat in Senegal, gehou is, was 'n geskiedkundige konferensie wat tussen lede van die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe in Suid-Afrika (IDASA) en die ANC gehou is. Die konferensie het onderwerpe bespreek soos strategieë vir fundamentele verandering in Suid-Afrika, nasionale eenheid, regeringstrukture, en die toekoms van die ekonomie in 'n vrye Suid-Afrika.

Op 25 Oktober 1996 het Mandela 'n alumnus van die US geword toe hy 'n eredoktorsgraad van die Universiteit aanvaar het. “Dit was vir ons belangrik om destyds die eerste Afrikaanse universiteit te wees wat Mandela uitnooi," sê Van Wyk.

Van Wyk sê verder dat alhoewel die US se komitee vir eredoktorsgrade vroeër besluit het om nie verder eredoktorsgrade aan politici toe te ken nie, die lede ingestem het dat sekere uitsonderings gemaak moet word. “Afgesien van Mandela, het ons ook eredoktorsgrade aan Chris Liebenberg, Derek Keys en Trevor Manual toegeken vir hul buitengewone bydrae in moeilike tye in Suid-Afrika se geskiedenis.

“Dit was 'n baie belangrike gebaar van versoening binne die raamwerk van die reënboognasie. Daar het 'n foutiewe persepsie bestaan dat Stellenbosch na aan die Apartheidsregering was. Ná 1996 het ons gereeld kontak met Mandela gehad. Mandela het die Universiteit gereeld na verskeie staatsgeleenthede in Kaapstad genooi. Deur Mandela en die geleenthede wat hy aangebied het, kon ek verskeie staatshoofde ontmoet."

Van Wyk onthou die dag waarop Mandela sy eredoktorsgraad ontvang het, as 'n besonder vrolike en gelukkige dag by die Universiteit. Tydens die gradeplegtigheid het Mandela 'n onvergeetlike toespraak gelewer wat baie harte aangeraak het. In die laaste deel van die toespraak het Mandela gesê, “Dit is egter steeds my wens dat ons almal saam in hierdie uitgestrekte land opgeneem sal word. En dat die Afrikaanse instellings en die Afrikaanse volk nooit weer nors en eenkant en apart sal wees nie, maar eerder 'n verweefde deel sal wees van wat ons hier nuut aan die skep is."

Mandela het sy toespraak afgesluit deur te sê, “Dit is in die wete dat hierdie Universiteit 'n groot rol te speel het om hierdie wens te verwesenlik, dat ek die eer om 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch te word aanvaar."

Op 19 Maart 2008 het Nelson Mandela die Universiteit Stellenbosch die laaste maal besoek toe hy sy vrou, Graça Machel, ondersteun het waar sy 'n eredoktorsgraad in die Lettere en Sosiale Wetenskappe ontvang het.

In die afgelope twee weke het die US Mandela saam met die res van die land vereer. US-personeel en -studente onthou nie alleen die beginsels wat Mandela se nalatenskap een gemaak het wat die hele land, en die wêreld in sy geheel, geïnspireer en verander het nie, hulle volg ook sy voorbeeld deur 'n blywende voetspoor te laat wat onthou sal word deur diegene wie se lewe hulle aanraak.

Foto 1: Op 25 Oktober 1996 ken die Universiteit Stellenbosch 'n eredoktorsgraad aan oudpresident Nelson Mandela toe. Bo links: Prof Andreas van Wyk, 'n voormalige Visekanselier van die US; Dr Sibusiso Bengu, die destydse Minister van Onderwys; die voormalige Kanselier, dr Jan van der Horst, en mnr Gys Steyn, Voorsitter van die US Raad

Foto 2: Voormalige president Nelson Mandela by die gradeplegtigheid van sy vrou, me Graça Machel, ook bygewoon deur Arthur Chaskalson (links), wêreldbekende regskundige en die eerste president van die Konstitusionele Hof en later Hoofregter van Suid-Afrika; en prof Vic Goedseels (regs)

Foto 3: Voormalige president Nelson Mandela en prof Russel Botman, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, by die gradeplegtigheid in Maart 2008​