
US FGGW bied virtuele toewydingseremonie aan
11 Desember 2020
Geagte Student Suid-Afrika staan tans voor 'n enorme uitdaging in die vorm van 'n tweede golf van Covid-19, met die Wes-Kaap as een van die provinsies wat tot op hede die swaarste getref is. Die Wes-Kaap word amptelik geag een van die vier Suid-Afrikaanse provinsies te wees wat vir die meeste van die Covid-19-gevalle in die land verantwoordelik is, met 'n kommerwekkende styging van 53,4% in die aantal nuwe gevalle sedert die begin van Desember. Volgens die Departement van Gesondheid het die aantal infeksies in die Wes-Kaap op Woensdag 9 Desember op 144 419 gestaan. As gevolg van hierdie tweede golf, wat na verwagting in die komende weke gaan vererger, het ons Minister van Gesondheid alle instellings, ondernemings en individue gewaarsku om groot byeenkomste te vermy. In die lig van die erns van die situasie het Universiteit Stellenbosch se Komitee vir Institusionele Besigheidskontinuïteit (ICBC) gistermiddag op 'n spesiale vergadering besluit dat die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se toewydingseremonies op Maandag 14 Desember slegs in 'n virtuele formaat kan voortgaan. Dit beteken dat ons toewydingseremonies as 'n regstreekse aanlynweergawe (live-stream) met my, die fakulteit se bestuurspan en gassprekers aangebied sal word. Ons nooi u uit om virtueel hierdie besonderse dag met ons te deel waar ons die afhandeling van u graad vier. Ons versoek ook dat u die Onderneming vir Gesondheidswerkers (Health Professionals Commitment) – 'n belangrike baken aan die einde van die reis van elke student in geneeskunde en gesondheidwetenskappe – in die gemak van u eie huis saam met u klasmaats, vriende en familie sal lees. Hierdie Onderneming vir Gesondheidswerkers is 'n belofte deur elkeen van u om 'n etiese gesondheidspraktisyn te wees wat mense respekteer, vir hulself omgee en ander met waardigheid, integriteit en deernis behandel. As die fakulteit se bestuurspan onderneem ons om hierdie belangrike deel van ons akademiese tradisie na te kom en ons sien daarna uit dat u dit met ons deel. Ek besef dat hierdie besluit om Maandag se toewydingseremonies virtueel aan te bied 'n groot teleurstelling is, maar dit bly ons verantwoordelikheid om u veiligheid en die veiligheid van ander te verseker deur versigtigheid aan die dag te lê. Die besluit om die formaat van die seremonie op sulke kort kennisgewing te wysig, is nie ligtelik geneem nie. Weens die skerp toename in Covid-19-gevalle, tesame met die gevare verbonde aan groot byeenkomste en die risiko vir ons graduandi wat in die komende weke deel van die gesondheidswerkmag gaan word, het die ICBC hierdie baie moeilike besluit geneem. REGSTREEKSE AANLYN-TOEWYDINGSEREMONIES OP MAANDAG 14 DESEMBER Die toewydingseremonies word virtueel aangebied en ons versoek dat u aan die begin van die seremonie die Onderneming vir Gesondheidswerkers (Health Professionals Pledge) saam met ons lees. Ons gassprekers sal teenwoordig wees en hul toesprake lewer. Ons sal elke graduandus se naam hardop lees en aankondig wie onderskeidings behaal het en wie vakpryse verower het. Ons fakulteitpryswenners sal aan die einde van elke seremonie aangekondig word. Ons graduandi in Dieetkunde, Arbeidsterapie, Fisioterapie en Spraak-Taal- en Gehoorterapie word versoek om om 09:00 vir 09:30 aanlyn by ons aan te sluit vir die virtuele aanbieding van hul toewydingseremonie. Klik asseblief hier vir u aanlynskakel. Ons MBChB-graduandi word versoek om om 13:00 vir 13:30 aanlyn by ons aan te sluit vir die virtuele aanbieding van hul toewydingseremonie. Klik asseblief hier vir u aanlynskakel. HUUR VAN AKADEMIESE DRAG Die reëlings vir die huur van akademiese drag op Tygerberg Kampus bly in plek vir ons graduandi wat van hierdie diens gebruik wil maak. Besoek asseblief Universiteit Stellenbosch se gradueringswebwerf (www.sun.ac.za/graduation) vir meer inligting oor die huur van akademiese drag. TOEWYDING- EN GRAADSERTIFIKATE Die uitreiking van die graadsertifikate, ondertekening van die toewydingsboek en die uitreiking van die toewydingsertifikate vind vanaf 15-18 Desember 2020 (uitgesonderd die openbare vakansiedag op 16 Desember) op die Tygerberg Kampus plaas om te verseker dat u u graadsertifikaat ontvang voordat u in 2021 met u internskap of gemeenskapsdiens begin. Die nodige veiligheidsprotokol en sosiale afstand sal by albei bogenoemde dienste gevolg word. Klik asseblief hier vir meer inligting oor die afhaal van u sertifikate. Baie dankie vir u aanlyndeelname op Maandag 14 Desember 2020. Ek sien daarna uit om hierdie belangrike dag met elkeen van u te deel. Kyk asseblief goed na uself en u families en bly veilig in hierdie feestyd. Vriendelike groete Professor Jimmy Volmink Dekaan: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe |