
Meer as 3 000 grade en diplomas vandeesweek toegeken by US-gradeplegtighede
Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vandeesweek altesame 3 128 grade en diplomas – insluitende 953 meesters- en 158 doktorsgrade – toe by sy April 2019-gradeplegtighede. Vier eredoktorsgrade sal ook toegeken word. Ses plegtighede word van Dinsdag, 2 April tot Vrydag, 5 April in die Coetzenburgsentrum op Stellenbosch gehou.
Die US sal die vier eredoktorsgrade onderskeidelik aan die visekansellier van die Coventry-universiteit in Brittanje, prof John Latham; die nie-amptelike wêreldkurator van numeriese wiskunde, prof Lloyd N Trefethen van Oxford-universiteit; ʼn baanbreker in die transformasie in hoër onderwys wat uitnemende bydraes tot die wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en opvoeding in Afrika gelewer het, dr Shirley Ann Jackson; en een van Suid-Afrika se voorste wynmakers en bedryfsleiers, mnr Jan Boland Coetzee, toeken.
Die graad, Doktor in die Natuurwetenskappe in Landbou (DScAgric), honoris causa, word Dinsdag, 2 April om 17:00 aan Coetzee toegeken; Latham ontvang Woensdag, 3 April om 10:00 die graad Doktor in die Handelswetenskappe (DCom), honoris causa; Jackson die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris causa, dieselfde dag om 17:00; en Trefethen die graad Doktor in die Natuurwetenskappe, honoris causa, op Vrydag, 5 April om 10:00.
Die Universiteit sal weer 'n rekord aantal doktorsgrade toeken. Saam met die Desember 2018-gradeplegtighede (die twee plegtighede maak die 2018 akademiese jaar uit), sal 308 in totaal toegeken word. Dit is effens meer as die 305 in 2017.
Die April-gradeplegtighede vind soos volg plaas:
- Dinsdag, 02 April om 17:00: Fakulteite AgriWetenskappe en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
- Woensdag, 03 April om 10:00: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (groep A) en om 17:00: Fakulteite Teologie, Ingenieuswese en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, maar slegs BRekLLB-, BRek-, Hons-BRek-, MRek-grade
- Donderdag, 04 April om 10:00: Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (groep B) en 17:00: Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, maar uitsluitende BA (Regsgeleerdheid)
- Vrydag, 05 April om 10:00: Fakulteite Natuurwetenskappe, Opvoeding, Regsgeleerdheid (BA (Regsgeleerdheid), LLB en nagraadse kwalifikasies in die Regsgeleerdheid) en Krygskunde
Kaartjiestelsel
Omdat daar beperkte sitplek in die Coetzenberg-sentrum is en die US aan nasionale wetgewing en munisipale bywette moet voldoen, sal elke graduandus slegs 'n spesifieke aantal toegangkaartjies vir gaste ontvang. Klik hier vir meer inligting.
Parkering op Stellenbosch
Swaar verkeer word op al die hoofroetes na Stellenbosch verwag, asook op die dorp self. Graduandi, hul ouers en vriende word vriendelik versoek om vroegtydig by die sentrum aan te kom ten einde verkeersknope te vermy en parkeerplek te verseker.
Gaste moet genoeg tyd toelaat om hul voertuie te parkeer en na die Coetzenburg-sentrum te stap. Neem asb. kennis dat geen kos en soet drinkgoed in die sentrum toegelaat sal word nie.
Graduandi met gestremdhede, of wat beseer of siek is en nie op die verhoop kan opstap nie, moet asb. die Kliëntedienssentrum by 021 808 9111 skakel of 'n e-pos stuur aan [email protected] om die nodige reëlings te tref om hul grade onder die verhoog te ontvang.
- Besoek www.sun.ac.za vir meer inligting.
Regstreekse stroomuitsending
Al die gradeplegtighede kan regstreeks op die internet gevolg word by www.sun.ac.za/streaming