Skip to main content
Dr Keaton Harris bereik sy droom ná 10 jaar en 44 onderskeidings

Dr Keaton Harris bereik sy droom ná 10 jaar en 44 onderskeidings

Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
24 Desember 2023

​​Jy kan 'n boek skryf oor die hartverskeurende struikelblokke wat Keaton Harris moes oorkom om te kom waar hy vandag is – deur cum laude te gradueer as mediese dokter aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die seuntjie wat in 'n enkelouerhuishouding grootgeword het terwyl hy en sy ma só gesukkel het dat hy nog die week onthou toe hulle op net 'n pakkie NikNaks oorleef het, het altyd net een droom gehad: om 'n dokter te word.

'n Beurs om by Hoërskool Kampsbaai skool te gaan, het Harris in staat gestel om uitstekende matriekpunte te behaal, maar aanvanklik het hy nie by enige van die universiteite regoor Suid-Afrika toelating gekry om in die geneeskunde te studeer nie. Sy ma, Charlotte Sinclair, se woorde van vertroosting destyds was egter profeties: “Eendag sal jy sien waarom God nie wil hê jy moet nou medies studeer nie – maar glo my as ek sê dat jy eendag sal."

Harris het besluit om 'n ander roete te volg om sy droom te verwesenlik en het vir 'n Baccalaureusgraad in Aptekerswese by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) geregistreer.

Charlotte, wat jare lank as skoonheidsterapeut gewerk het, moes al hulle meubels verkoop om haar seun se registrasiegeld by die UWK te kan bekostig. Harris is diep geraak deur sy ma se opofferings en het besluit om elke oomblik wat hy nie slaap nie, so hard as moontlik te studeer. Hy het ekstra ure ingesit terwyl sy klasmaats geslaap het en het nooit 'n klas misgeloop nie. “Ek het geweet wat ek wou hê, en ek alles in die stryd gewerp om daardie drome te verwesenlik," sê hy oor die eerste moeilike jare as student.

'Ek mag dalk in trane uitbars!'

'n Dekade later het Charlotte se oë trots geblink toe sy haar seun op sy gradedag op 12 Desember na die Coetzenburg-sentrum kon vergesel. Harris het voor die plegtigheid gesê dit voel nog steeds onwerklik. “Ek mag dalk net in trane uitbars as hulle my naam uitlees!" Hy het die vorige dag ook 'n toekenning ontvang as die topstudent in Huisartskunde en Primêre Sorg by die US.

Oor die verloop van sy studiejare het Harris 'n ongelooflike 44 onderskeidings behaal. Hy het in 2017 sy BPharm honneursgraad summa cum laude aan die UWK verwerf, terwyl hy ook aangewys is om die afskeidsrede vir sy jaargroep te lewer en hy is as die beste Farmasie-student en ook die veelsydigste student aangewys is.

Langs die pad het hy ook tyd gekry om as studenteleier uit te blink. In 2015 het hy die jongste ontvanger van die Abe Bailey-reisbeurs geword en in 2018 was hy die enigste Suid-Afrikaner onder 21 jongmense wat wêreldwyd gekies is vir die jong volhoubare impak-inname wat daarop gemik is om die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te help oplos. In 2018 het hy ook op die prestigeryke Mail & Guardian 200 Young South Africans-lys verskyn.

Afgesien van reuse-trots en verligting dat hy uiteindelik 'n dokter is, sê Harris hy is diep dankbaar vir die hulp wat hy die afgelope dekade ontvang het. Finansiering van die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) het hom in staat gestel om sy eerste graad te voltooi, terwyl 'n beurs die middele gebied het om deur sy geneeskundestudie by die US te kom.

Harris kan die presiese oomblik onthou toe hy geweet het hy wil 'n dokter word. Aangesien hy en sy ma gedurende sy onstuimige kinderjare baie rondgetrek het, het sy gedink dat Harris 'n mate van stabiliteit sou kry deur by die Padvinders (“Boy Scouts") aan te sluit. Die Padvinders het die onseker seuntjie gehelp om meer selfversekerd te voel. “Ons het baie vaardighede aangeleer, waaronder noodhulpopleiding. Die opleiding het eendag handig te pas gekom toe ek ná 'n asma-aanval in die New Somerset-hospitaal was. Daardie aand het die pasiënt langs my 'n toeval gehad. Ek onthou ek het nie paniekerig geraak nie, maar het gedink aan wat ons in noodhulpopleiding geleer het en het hom in die herstelposisie geplaas het. Ná 'n paar minute het 'n dokter by die saal ingekom en my lewenspad in 'n oogwink verander. Hy het langs my kom sit en gesê ek moet 'n dokter word, want nie almal kan doen wat ek gedoen het nie. Ek onthou ek het so goed gevoel omdat ek iemand gehelp het. Ek het nog nooit so doelgerig gevoel nie. Op daardie oomblik het ek besluit om 'n dokter te word."

In 'n byna poëtiese wending neem Harris se lewensloop hom volgende jaar terug na die New Somerset-hospitaal – presies dieselfde plek waar sy droom gebore is – vir sy internskap as dokter.

Die passie wat die vuur aangeblaas het

Veerkragtigheid en vasberadenheid het die vuur in sy hart gevoed terwyl sy studiejare soos 'n nimmereindigende marathon gevoel het. “Ek het geleer jy moet jou wilskrag versterk deur jouself te herinner waarom jy die reis aangepak het," sê Harris. “Die passie om ander 'n tweede kans op die lewe te gun, is wat my vuur aangeblaas het, en die domino-effek was hernude veerkragtigheid en vasberadenheid. Ek het ook geweet daar is mense wat my reis dophou. Dit was op sigself stresvol, maar ek was selfs nog meer vasbeslote om aan myself en ander te bewys dat ek kan volhard en sukses behaal."

Harris bieg hy het die afgelope dekade 'n paar keer tot op die bodem van die put afgesak en kort voor die gradeplegtigheid het hy heeltemal uitgebrand gevoel. “Om vir tien jaar lank te studeer, is geen grap nie en ek wens ek kon beskryf hoe uitputtend dit was. Soms het die bykomende gewig van die vereistes van baie praktiese werk by die mediese skool bo en behalwe suiwer teorie te veel geword, maar ek het deurgedruk omdat ek geweet het ek sal (hopelik) later in my lewe 'n bietjie meer kan slaap!"

Die merkwaardige jong dokter put krag en inspirasie uit sy verlede. Hy hoop om uiteindelik 'n beursfonds te kan stig vir mense wat geneeskunde wil studeer. “Omdat ek deur die stryd gegaan het om te wonder of daar kos op die tafel gaan wees, het dit my sensitief gemaak vir die daaglikse stryd wat baie Suid-Afrikaners in die gesig staar. Dit is verskriklik duur om medies te studeer en daar is net nie genoeg beurse vir diegene wat die passie en die dryfkrag het om dokters te word nie. Omdat ek danksy die goedhartigheid van organisasies regoor Suid-Afrika, geweldig geseënd is om geen studieskuld te hê nie, wil ek hê voornemende dokters moet op hul akademie kan fokus, verstaan dat daar 'n lewe buite die geneeskunde is en dat hulle sonder bykomende finansiële stres hulleself ook op ander vlakke kan ontwikkel."

Die twee konstantes in Harris se lewe was nog altyd die Here en sy ma. Hy erken dat dit Charlotte is wat van hom die man gemaak het wat hy vandag is. “Ek en my ma het al baie deurgemaak, maar gedurende my studiejare was dit asof my ma én my beste vriendin langs my gestap het. Die wete dat ek haar altyd kon bel as ek 'n moeilike dag gehad het, of wanneer 'n toets nie verloop het soos ek gehoop het nie, of wanneer ek gesukkel het om 'n konsep te verstaan, was my veiligheidsnet – iets waarvoor ek nie ongelooflik dankbaar is. Dit het my geïnspireer om ander te wil help om dieselfde te doen, veral diegene wat net so verlore voel as wat ek gevoel het toe dinge nie uitgewerk het nie. Elke keer wanneer ek gedink het ek het die einde van my kragte bereik, het my ma my gehelp om nog harder te veg en sy het my gereeld herinner aan dít waartoe ek in staat is."

Harris beplan om aanstaande jaar die meeste voordeel uit sy internskap te trek en hy sien daarna uit om moontlik in ortopediese chirurgie of sportgeneeskunde te spesialiseer. Hy het ook nog 'n groot doelwit vir homself vir 2024 gestel – om sy outobiografie te begin skryf wat hy beplan om in 2025 uit te gee. Om die verhaal te vertel van hoe sy droom verwesenlik is, sal beslis inspirerende leesstof wees.

FOTO: Stefan Els