Skip to main content
Aanstaande week se hibriede gradeplegtighede gaan voort

Aanstaande week se hibriede gradeplegtighede gaan voort

Corporate Communication and Marketing Division
11 Desember 2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal voortgaan met sy hibriede gradeplegtighede, wat uit klein interaksie-geleenthede in persoon en regstreekse stroomuitsendings vir die res van sy graduandi sal bestaan.

In 'n skrywe aan personeel en doktorale graduandi, sê die voorsitter van die US se Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV), prof Stan du Plessis, die IKBV het ná deeglike oorweging en talle besprekings besluit die US sal met sy klein gradeplegtighede in persoon vir doktorale graduandi, eredoktorsgrade, Kanselierstoekennings en die Kanseliersmedalje voortgaan. Hierdie seremonies sal van Maandag, 14 Desember tot Woensdag, 16 Desember 2020 gehou word.

“Ons het Donderdagmiddag (10 Desember 2020) voor 'n baie belangrike, dog moeilike besluit te staan gekom: of ons met ons hibriede gradeplegtighede wat vir aanstaande week geskeduleer is, moet voortgaan terwyl daar tans 'n tweede golf van die COVID-19-pandemie in Suid-Afrika is," sê Du Plessis. “Ons besluit om met die doktorale seremonies in persoon voort te gaan, is gegrond op die formaat van ons klein geleenthede, ons omvattende COVID-19-protokol vir die gradeplegtighede en verwante voorsorgmaatreëls, asook die feit dat ons ten volle aan alle vlak 1-regulasies voldoen. Die bywoning van die fisieke gradeplegtighede is heeltemal vrywillig vir graduandi en gaste. Nog 'n oorweging was die feit dat dit so kort voor die geleenthede is en dat graduandi en hul gaste reeds aansienlike kostes vir reisreëlings aangegaan het."

TOEWYDINGSPLEGTIGHEDE

Die IKBV, die komitee wat vir die US se COVID-19-verwante reaksies verantwoordelik is, het egter besluit om die toewydingsplegtighede in persoon van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat Maandag, 14 Desember sou plaasvind, te kanselleer. Die fakulteit sal met 'n regstreekse stroomuitsending van sy toewydingseremonies voortgaan. Baie groter groepe mense as by die gradeplegtighede vir doktorale kandidate is by hierdie geleenthede betrokke, en studente in die gesondheidwetenskappe word ongelukkig meer aan COVID-19-infeksies blootgestel weens hul kliniese opleidingsplatforms.   

SPESIALE MAATREËLS VIR SEREMONIES IN PERSOON

Spesiale maatreëls is in die US se COVID-19-protokol (klik hier vir die omvattende besonderhede) ingesluit wat spesifiek vir die gradeplegtighede in persoon ontwikkel is:

  • Die aantal mense per seremonie is baie minder as die 50%-kapasiteit van die lokaal en minder as die 250 mense wat vir binnenshuise geleenthede toegelaat word.
  • Die lokaal sal deeglik skoongemaak en ontsmet word na elke seremonie.
  • Dit is verpligtend vir personeel, graduandi en gaste om ten alle tye 'n masker te dra.
  • Slegs ampsdraers van die US wat nodig is om amptelik 'n kongregasie te konstitueer en noodsaaklike personeel sal by elke seremonie teenwoordig wees.
  • Graduandi en gaste ouer as 60 en diegene met onderliggende toestande word aangemoedig om eerder die seremonies op die regstreekse stroomuitsending te volg, of om bykomende voorsorgmaatreëls te tref.
  • 'n Unieke sitpleknommer wat sosiale afstandskepping in ag neem, is aan elkeen wat die seremonie bywoon, toegeken en die verrigtinge op die verhoog is aangepas om aan COVID-19-protokols te voldoen. 
  • Daar sal van alle graduandi, gaste en personeel vereis word om die Higher Health Check-sifting te doen en om 'n skermskoot van hul status by hul aankoms by die lokaal te toon. Slegs mense met 'n groen/lae-risiko-status sal binnegelaat word. Toegang tot die Higher Health Check-toepassing kan op die volgende maniere verkry word:
  • Webwerf: https://healthcheck.higherhealth.ac.za   
  • WhatsApp: 0600 11 0000
  • Skakel: *134*832*2# REELINGS IS ONDERHEWIG AAN VERANDERING Die besluit wat Donderdag deur die IKBV geneem is, bly voorwaardelik, afhangende van heersende omstandighede. Die Universiteit Stellenbosch bly verbind tot die aanbied van sy doktorale gradeplegtighede vroeg aanstaande week, maar hou die situasie dop en sal met graduandi en personeel in verbinding tree indien die COVID-19-regulasies of omstandighede rakende infeksiekoerse vereis dat enige van die geleenthede gekanselleer moet word.  Doktorale graduandi wat sou verkies om eerder nie aanstaande week se gradeplegtighede by te woon nie weens die styging in COVID-19-infeksies, moet asb die Adjunk-registrateur, mnr Ashmind Daniels, per e-pos by [email protected] in kennis stel. Die skedule vir die gradeplegtighede in persoon is op die US se webwerf beskikbaar en dit kan ook per regstreekse stroomuitsending gevolg word by www.sun.ac.za/streaming. Alle virtuele gradeplegtighede sal voortgaan soos beplan. Volledige inligting is op die US se webwerf beskikbaar.  Klik op die skakels om die skrywe aan studente en die skrywe aan personeel te lees. Lees hier meer oor die eredoktorsgrade en die kwalifikasies wat toegeken word.