
Herfs-gradeweek weer in persoon by Coetzenburg gehou
Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vandeesweek 3 132 kwalifikasies in 'n reeks kontakgradeplegtighede toe by die Coetzenburgsentrum. Weens die Covid-19-beperkings op byeenkomste was kontakgradeplegtighede die afgelope tyd beperk tot doktorale kandidate, en is dit in die kleiner Endlersaal op die Stellenbosch-kampus aangebied. Die gradeplegtighede van 4 tot 7 April 2022 sal vir die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie weer die volledige groep graduandi en hulle genooide gaste insluit. Soos met vorige plegtighede, sal die getal gaste wat binne die gebou toegelaat word, beperk word ooreenkomstig die gebou se wetlik voorgeskrewe populasiesertifikaat en huidige Covid-19-beperkings. Buiten Maandag, wanneer twee gradeplegtighede sal plaasvind, sal daar vir die res van die week daagliks drie plegtighede wees. Die meerderheid (1 877) van die 3 132 kwalifikasies wat verleen sal word, is nagraads, naamlik 167 doktors-, 864 magister-, 269 honneurs- en 50 nagraadse baccalaureusgrade sowel as 527 nagraadse diplomas en sertifikate.Die April-gradeplegtighede sluit die 2021-gradesiklus af, met altesame 5 636 kwalifikasies wat by die gradeplegtighede in Desember 2021 toegeken is. Met nog 3 132 kwalifikasies wat in April 2022 toegeken word, is daar altesame 8 768 kwalifikasies in die 2021-siklus toegeken. Die grootste aantal meestersgrade is ook in hierdie siklus vir die Fakulteit AgriWetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en Krygskunde toegeken. Die aantal kandidate wat hul meestersgraad Cum Laude geslaag het, het ook van 29% in 2020 tot 31% in 2021 gestyg. Eredoktorsgrade Die Universiteit sal ook drie eredoktorsgrade toeken aan vooraanstaande leiers en rolspelers wat deur hulle onderskeie kundigheidsgebiede uitsonderlike bydraes tot die samelewing gelewer het. Die drie ontvangers in April is soos volg:
- Die ingenieur en inspirerende sakeleier mnr Andries (Andy) Calitz, wat die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng) honoris causa sal ontvang. Hierdie US-alumnus vervul ’n leiersrol in die internasionale energievoorsieningsektor. As sekretaris-generaal van die Internasionale Gasunie sedert Augustus 2021 gaan hy voort om politieke, tegniese en ekonomiese vooruitgang in die wêreldwye gasbedryf te bevorder.
- Die Suid-Afrikaanse skrywer, digter en aktivis me Diana Ferrus, aan wie die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa toegeken sal word. Ferrus se digkuns word plaaslik én internasionaal as polities invloedryk erken en daarvoor geloof dat dit ’n stem gegee het aan die Suid-Afrikaanse apartheidstryd. Sedert sy op 14-jarige ouderdom begin skryf het, verskyn haar persoonlike ervarings en die politieke, historiese en maatskaplike kwessies van die gemeenskappe waar sy gewoon en gewerk het as temas in haar digkuns.
- Dr Patrice Matchaba, wat die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) honoris causa sal ontvang vir sy voortreflike farmaseutiese en klinies wetenskaplike bydraes, en sy leiersrol om wêreldwyd ongelykhede in gesondheidsorg reg te stel en navorsingsvermoë te bou. Hy dien tans as voorsitter van die Novartis-stigting in die Verenigde State, waar hy uit sy 20 jaar ervaring as geneesheer put om die ontwikkeling van geneesmiddels en openbare gesondheid deur die hele wêreld te bevorder.
- Die plegtighede sal regstreeks gestroom word by www.sun.ac.za/stroming.
- Klik hier vir meer inligting oor die April-gradeplegtighede.