
#WomenofSU druk hulle stempel af
Hierdie Vrouemaand bring ons weer hulde aan die Universiteit Stellenbosch se vrouenavorsers en -steunpersoneel en hulle fenomenale werk. Hieronder volg 'n blik op van die uitmuntende navorsing en innovasies deur US-vroue op die uiteenlopende gebiede van voortplantingsgesondheid en vrouewelstand, die weermag, en die stryd teen tuberkulose (TB).
Dr Efua Tembisa Prah van die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe verken genderdinamika, identiteit en kulturele faktore in Suid-Afrika om die narratief en praktyke met betrekking tot moedergesondheid in die land te help verander. Sy stel veral daarin belang om lig te werp op die onvertelde geskiedenisse van gemarginaliseerde vroue in Suid-Afrika. “Die voortplantingsgesondheid en welstand van vroue is jare lank in baie gemeenskappe as 'n verbode onderwerp beskou," verduidelik dr Prah. “Dít het tot swak moedergesondheidsorgdienste gelei, veral onder die mees gemarginaliseerde vroue in die samelewing." Deur hierdie vroue se verhale deur 'n antropologiese lens te vertel, hoop sy om 'n beter begrip te vorm van die genderdinamika en ander faktore wat tot Suid-Afrika se swak moedergesondheidsrekord aanleiding gegee het. “Hierdie vroue se verhale is kragtige rekords wat 'n belangrike argief bied vir ander om op voort te bou en krities te ontleed," sê sy.
Op haar beurt doen prof Lindy Heinecken, ook van Sosiologie en Sosiale Antropologie, reeds die afgelope 30 jaar navorsing oor die weermag, met 'n bepaalde klem op personeelkwessies. In die lig daarvan dat die weermag 'n oorwegend manlike instelling is, is genderintegrasie en die uitdagings en debatte in verband met vroue se insluiting by die weermag een van haar kernfokusgebiede. Wanneer 'n mens terugkyk op prof Heinecken se navorsing oor vroue in die weermag, is dit duidelik dat sy nie net denke oor genderteenpole in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag verskuif het nie, maar ook bewustheid en begrip bevorder het van die spanning wat genderintegrasie veroorsaak. “Om meer vroue in die weermag te hê is nie net 'n reg nie, maar ook 'n vereiste," verduidelik prof Heinecken. “Hulle lewer 'n unieke bydrae in die hantering van plaaslike vroue se uitdagings in gebiede wat deur gewapende konflik geteister word. Vroue kommunikeer ook makliker met die plaaslike bevolking omdat kulturele gebruike dikwels kontak tussen mans en plaaslike vroue verbied. Daarbenewens volg vroue 'n meer versoeningsgesinde benadering tot konflikbeslegting. Daarom is dit noodsaaklik om te verstaan watter struikelblokke vroue se integrasie by die weermag en hulle ontplooiing in vredesendings verhinder."
In die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is prof Samantha Sampson, 'n senior navorser in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, een van drie navorsers wat 'n toekenning van die Verenigde State se Nasionale Gesondheidsinstitute (NIH) ontvang het vir navorsing oor behandelings om TB uit te wis. “Die NIH-gefinansierde projek bied 'n geleentheid om 'n innoverende en multidissiplinêre benadering tot die enorme openbare gesondheidsprobleem van TB te volg," sê prof Sampson. Sy sal saam met proff Admire Dube van die Universiteit van Wes-Kaapland en Joshua Reineke van Suid-Dakota-staatsuniversiteit, Verenigde State, ondersoek instel na die gebruik van spesiaal ontwerpte nanodeeltjies om witbloedselle se reaksie op die TB-bakterie te reguleer. Die TB-bakterie verlaag die doeltreffendheid van witbloedselle sodra die immuunstelsel die bakteriese infeksie probeer bestry. Die nanodeeltjies boots die voorkoms van die TB-bakterie na en blyk die uitwissing van die verwoestende Mycobacterium tuberculosis aan te moedig. Dit kan moontlik alle vorme van TB dood, waaronder middelweerstandige en hardnekkige stamme. “Op 'n meer persoonlike vlak het ek dit geniet om sedert 2016 saam met prof Dube te werk, so dit is wonderlik dat die NIH ons aanvoorwerk en die potensiaal van hierdie navorsing erken." Die toekenning van net minder as R30 miljoen ($1 632 268) is vir vyf jaar, en die US sal as een van die navorsingsterreine dien.
Vir nóg #WomenofSU-profiele, klik gerus hier vir toegang tot 'n toegewyde webblad met 'n versameling artikels, foto's en podsendings oor US-vroue se merkwaardige werk.