Vennootskap sal innovasie en tegnologiese vooruitgang in Afrika ʼn hupstoot gee
Die Afrika-unie se ontwikkelingsagentskap (AUDA-NEPAD), die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) en die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie bekend gestel. In ʼn meningsartikel vir News24 verduidelik drr Nico Elema (US se Sentrum vir Samewerking in Afrika) en Ndumiso Cingo (WNNR) hoe die nuwe sentrum sal help om innovasie en tegnologiese vooruitgang in Afrika ʼn hupstoot sal gee.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.
Nico Elema & Ndumiso Cingo*
Te midde van die inperking weens die COVID-19-pandemie, het 144 programbeamptes en navorsers van die Afrika-unie se Ontwikkelingsagentskap (AUDA-NEPAD), die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) en die Universiteit Stellenbosch (US) vroeg Desember verlede jaar aanlyn vergader. Dit was geen gewone vergadering nie, aangesien die deelnemers aan die werksessie voorlopig sowat 40 bestaande innovasies en tegnologieë geïdentifiseer het wat die potensiaal het om in die res van die vasteland van Afrika uitgebrei te word.
Hierdie werksessie het verder stukrag gegee aan die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie (AUDA-NEPAD SvU in WTI), een van vyf sentrums wat regoor die vasteland deur AUDA-NEPAD gestig is. Die ander sentrums fokus op Klimaatsveerkragtigheid in Kaïro; Landelike Hulpbronne en Voedselstelsels in Dakar; Menslike Kapitaal en Instellings in Nairobi, en die Sentrum vir Aanbodketting en Innovasie waarvoor daar nog 'n stad toegeken moet word. Om die betekenis van hierdie trilaterale vennootskap tussen AUDA-NEPAD, die WNNR en die Universiteit Stellenbosch vir die bedryf van die AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in WTI te verstaan, moet 'n mens teruggaan na die begin.
Met die ondersteuning van AUDA-NEPAD weet lidlande in Afrika wat die grootste ontwikkelingsprobleme en geleenthede op die vlak van lande is. Dit is onmoontlik om al die uitdagings en geleenthede hier op te noem, maar 'n mens kan met veiligheid sê die uitdagings fokus op verskeie prioriteitsgebiede wat die integrasie van Afrika se ekonomieë insluit – soos duidelik gesien kan word uit die ondertekening van die vryehandelsooreenkoms vir Afrika (African Continental Free Trade Agreement (AfCFTA)) in Maart 2018.
Bykomend tot dit, fokus prioriteite op toenemende belegging in menslike ontwikkeling, soos 'n toename in die aantal kinders wat by laerskole ingeskryf word en in volwasse geletterdheidskoerse vir die opheffing van Afrikane. Sulke toenames in welvaart gaan hand-aan-hand met doeltreffende en bekwame instellings soos die openbare sektor, private sektor, akademie, nieregerings-, tussenregerings-, streeks- en kontinentale instellings. Die uitbreiding van verbeterings in die gesondheidsektor kan verder sterftes van ma's en kinders verminder, asook die voorkoms van chroniese wanvoeding onder kinders jonger as vyf en die voorkoms van HIV/Vigs, tuberkulose en malaria, met hierdie faktore wat steeds 'n nadelige uitwerking op ontwikkeling het.
Lees hier verder wat *dr Nico Elema, bestuurder van die Sentrum vir Samewerking in Afrika aan die Universiteit Stellenbosch, en dr Ndumiso Cingo, die WNNR se bestuurder vir strategiese vennootskappe, oor die saak sê.