Skip to main content
#USjeugdag: Joshua van Staden

#USjeugdag: Joshua van Staden

Elbie Els / Photographer Stefan Els
30 Junie 2021

​Vir Joshua van Staden, 'n Teologie-tweedejaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) en bekroonde para-atleet, is daar nie sprake van moed opgee nie. Van Staden hou die Suid-Afrikaanse rekord in sowel spiesgooi en gewigstoot in die F41-kategorie vir atlete wat klein is van postuur.

As deel van Jeugmaand het Van Staden ons meer oor sy lewe, uitdagings en oorwinnings vertel.

Vertel ons meer oor jouself en hoe jy 'n atleet geword het?

Ek het grootgeword by my ma, 'n wonderlike, gesinsgedrewe persoon. Sy het 'n enorme impak op my lewe en motiveer my altyd. Ek het as kind met afknouery en 'n swak selfbeeld gesukkel. Mense met 'n gestremdheid word heeltyd aan hulle fisiese uitdagings herinner en ek moes 'n manier kry om daardie struikelblokke te oorkom. In my tienerjare het ek dit reggekry om my siening te verander. Ek leef nie meer met twyfel, verwerping en hartseer nie. Ek probeer uitdagings uit 'n ander hoek beskou.

Dit was moeilik om op hoërskool aan hoofstroomsport deel te neem, maar my skool het moeite gedoen om inklusief te wees, en het vir my gewigstoot- en spiesgooiafrigting gereël. Wentzel Barnard van Maties Parasport het my uiteindelik gekontak en toegang tot afrigters gebied. Ek het my toe by Maties Atletiek aangesluit.

Ek beskou myself nie deesdae as 'n persoon met 'n gestremdheid nie, maar iemand met Godgegewe talente. In alles wat ek doen, herinner ek myself om nooit met middelmatigheid tevrede te wees nie, maar om altyd méér te doen.

Wat is vir jou die lekkerste van sport? 

Ek geniet dit om te reis, beroepsatlete te ontmoet en wêreldwyd 'n impak te maak met my sport.

Wat is jou boodskap van hoop vir ander jongmense teen die agtergrond van Jeugmaand?

Ek wil jong mense aanmoedig dat die droom wat God in hulle geplaas het, bewaarheid sal word – op Sy tyd – en dat die Here se genade vir hulle genoeg sal wees op hulle lewensreis. Iets wat my aan die gang hou, is 'n aanhaling van die Amerikaanse motiveringspreker Les Brown: “Ongeag hoe sleg dit gaan, of hoe sleg dit word, ek sal daardeur kom." Daar sal tye in jou lewe wees wanneer dinge nié goed gaan nie, maar ons moet steeds deurdruk en aanhou mik na daardie 1% om die 99% volmaaktheid te voltooi. 

Waar wil jy graag oor vyf jaar wees? 

Ek beplan om my voorgraadse studie aan die US te voltooi en dan vir 'n honneursgraad in Sportsielkunde in te skryf. Uiteindelik wil ek graag 'n rol speel om die jeug te motiveer.

Klik hier​ om na 'n video van Joshua van Staden te kyk.​