
US nooi studente om in te skryf vir hackathon
Die Universiteit Stellenbosch (US) nooi studente uit om nou in te skryf vir sy derde jaarlikse hackathon-uitdaging.
Weens die voortslepende COVID-19-pandemie word vanjaar se US-hackathon van 31 Julie tot 2 Augustus 2020 as 'n aanlyn uitdaging aangebied. Die geleentheid word gereël en aangebied deur Innovus, die US se universiteits-bedryf-interaksieplatform wat verantwoordelik is vir die Universiteit se kommersiele aktiwiteite, insluitende die kommersialisering van die US innovasie- en intellektuele eiendom-portefeulje. Die borge is Capitec, Entersekt en EXPLORE.
Die 2020 US-hackathon was uit twee hoof uitdagings bestaan. Die eerste uitdaging fokus op datawetenskap en masjienleer. Die doelwit van hierdie uitdaging is om vir klein sakeondernemings veelvoudige insigte van mansjienleermodelle te bou of te kombineer om hulle te help met doenbare insigte.
Daar sal van spanne verwag word om die beskikbare data vir klein ondernemings met bykomende oopbron-datastelle (bv weer, verkeer) aan te vul om spesifieke insigte vir die klein ondernemings uit te bou.
Die tweede uitdaging sal 'n FinTech-benadering hê. Spanne sal hul koderingsvaardighede en verbeelding moet gebruik om 'n ontwrigtende FinTech-geïnspireerde sagteware-oplossing te ontwerp en te bou wat klein ondernemings en hul verbruikers kan help met transaksies en om in die nuwe afstandsekonomie te floreer.
Die oplossing moet 'n vorm van mobiele vermoë insluit. Die funksionaliteit sal strek van maniere om ondernemings te help om hul finansies te verbeter en te bestuur tot nuwe maniere waarop transaksies kan geskied en die daaglikse bedrywighede van die onderneming kan verbeter.
Studente sal vir die duur van die hackathon in spanne saamwerk en kan 'n deel van die prysgeld ter waarde van R30 000 wen. Deelnemers ontvang ook gratis inskrywing vir Innovus se “Pitching and Value Proposition"-meesterklas-webinaar, aangebied deur Anton Pretorius van Sologix, asook aanlyn-mentorsessies met ingenieurs, kodeerders en datawetenskaplikes van relevante US-fakulteite en die borge.
Volgens Camille de Villiers, Tegnologieoodragbeampte by Innovus, bied die hackathon aan studente die geleentheid om hul loopbane te ontwikkel.
“Die US-hackathon fokus daarop om talentevolle studenteprogrammeerders, ontwerpers, bouers, statistici, wetenskaplikes en ingenieurs byeen te bring om te leer, om te bou en hul skeppende idees met mekaar te deel terwyl hulle probleme wat op die bedryf toepaslik is, op innoverend op te los."
De Villiers glo die jaarlikse aanbieding van die US-hackathon sal die entrepreneurs- en innoverende kultuur regoor die kampus aanmoedig.
“Hierdie aktiwiteite bied waardevolle opvoedkundige ondervindings aan studente, wat onderrig in die klaskamer aanvul en die 'Stellenbosch-ondervinding' vir die studentegemeenskap nog beter maak, terwyl dit ook 'n positiewe uitwerking op die plaaslike ontwikkelaar- en innoveerdergemeenskap op Stellenbosch het deur die deel van innoverende idees en die bou van netwerke tussen die bedryf en die akademie binne die gemeenskap aan te moedig."
Inskrywings is beperk en sluit 1 Julie 2020.
Besoek http://bit.ly/SUHack2020 om in te skryf en vir meer inligting.